Heupontwrigting stuit nie dié eenjarige

Die eenjarige Pippa van Tonder en die gesinshond, Rufus. (Foto: Verskaf)

Enige ouer met ʼn eenjarige baba sal kan getuig hoe besig dié klein woelwaters op daardie ouderdom is. Teen daardie tyd beweeg hulle al lekker rond en die wêreld is ʼn nimmereindigende bron van interessanthede wat net wag om ontdek te word.

Vir Pippa van Tonder (1) is dit nie tans beskore nie.

Heupdisplasie is ʼn paar maande gelede by klein Pippa gediagnoseer en sy moes gevolglik ʼn operasie ondergaan wat beteken sy is vir die volgende vier maande in gips – van reg onder haar armpies tot by haar tone – gekluister.

Pippa se ma, Tanya Fourie, vertel aan Maroela Media Pippa is in George gebore, maar die gesin het later terug verhuis na Pretoria, waar hulle oorspronklik vandaan kom.

Tanya sê sy het reeds by Pippa se geboorte op 27 Augustus verlede jaar gesien haar regterbeentjie is opgetrek, maar sy is telkens deur verskillende mense gerus gestel dat pasgebore babas se beentjies soms so lyk weens die lang tydperk in die baarmoeder.

“Toe ons begin magietyd (tummy time) doen, het ek weer gesien haar een beentjie lyk vir my langer as die ander een. As ek weer kyk, dan lyk dit weer reg. Ek het gereeld gedink ek verbeel my.

“Later het ek gesien dit lyk of die een beentjie ʼn voutjie op het wat hoër sit as die ander en dit is toe ek besluit om my instinkte te vertrou – ek het geweet iets skort.”

Tanya sê Pippa het haar regterbeentjie agterna gesleep, asof sy gewond is, net nadat sy begin kruip het. Tanya het begin vrees dat iets neurologies dalk kon skort.

Sy het uiteindelik, op haar suster se aanbeveling, besluit om ʼn ortopediese pediater in Pretoria te kontak. “Ek het gebel en die dokter het ʼn kansellasie gehad. Ek het vir Pippa dieselfde dag nog by die skool gaan haal en haar dokter toe geneem.”

Die skattige Pippa van Tonder. (Foto: Verskaf)

Daar het die dokter toetse en X-strale geneem, en agtergekom Pippa se regterheup is heeltemal ontwrig.

“Ek vermoed dit was al so met geboorte, maar die pediaters wat haar intussen gesien het, het dit elke keer gemis.”

Tanya sê sy het begin navorsing doen oor heupdisplasie en besef dit is eintlik ʼn genetiese toestand.

“Ek en my ma, asook my sussie en my tannie, sukkel met ons heupe en ons het baie vlak potjies vir ons gewrigte.”

Pippa het in Augustus vanjaar, ʼn dag ná haar eerste verjaardag, ʼn operasie ondergaan om haar heup te herstel. Sy moet in Oktober teruggaan teater toe om die gips, wat tans die meerderheid van haar lyfie bedek, te verwyder en nuwe gips op te sit.

“Haar beentjies is oopgesprei soos dié van ʼn klein padda. Sy kan glad nie beweeg nie. Ek kry haar verskriklik jammer. Sy aanvaar hierdie situasie net asof dit iets is waardeur almal gaan, maar dit is baie erg vir my.

“Ek het ná haar diagnose vir twee weke lank gehuil. Ek borsvoed haar nog. Al het mense gesê dit sal nie kan werk nie weens die gips wat haar onbeweeglik maak, het ek net eenvoudig besluit ek gaan steeds borsvoed.”

Pippa se ouer boetie, Alexander (2), begryp nie aldag dat sy sussie nie meer so maklik saam met hom kan speel nie, sê Tanya.

“Hy is baie liefdevol met haar, hy gee elke oggend vir haar soentjies en kielie haar tone, dan kraai Pippa van die lag. Ons moet hom elke dag herinner dat sussie ‘pienk-eina-beentjies’ het.”

Pippa se pa, Shlain, het vir sy dogtertjie ʼn spesiale tafeltjie gebou waar sy gemakliker kan sit om haar besig te hou.

“Sy raak so verveeld. Ons het ook haar stootwaentjie aangepas om haar gemakliker te laat sit as ons haar rondstoot. Sodra sy begin huilerig raak van verveling, laai ek haar in haar waentjie en ons gaan stap in die tuin. Sy voel en vat aan alles en ruik aan die blomme.

Pippa en haar boetie, Alexander. (Foto: Verskaf)

“Sy is ʼn baie oulike dogtertjie.”

Volgens Tanya is take wat vir ander ouers en babas eenvoudig is, soos om doek te ruil en te bad, vir hulle ʼn reuse-uitdaging.

“Daar lê ʼn lang herstelpad vir haar voor, wat fisioterapeute en biokinetici insluit. Ek kan egter nie wag vir die rehabilitasie om te begin nie, want dan is die helfte van die stryd reeds gewonne.”

Klein Pippa kan ook nie wag om terug te keer skool toe nie. “Sy is mal oor haar skool en haar maatjies. Sy is ʼn klein kampioen met ʼn positiewe geaardheid.”

ʼn Back-A-Buddy-fonds is op die been gebring om Pippa se gesin met die mediese uitgawes en die kostes van die rehabilitasie te help.

Tanya sê sy wil ook ander ouers bewus maak van dié toestand. “So min mense weet wat heupdisplasie is. Ek het self nie geweet nie, maar dit raak soveel meer kinders as wat ons besef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marcello ·

Sterkte, en onthou ‘n moeder se instink is ALTYD reg. My kleinseun het by die huis gekom, en sulke snaakse geluidjies (soos asof dit seer is gemaak), sy Ma het hom Kinderarts toe gevat, en volgens haar was daar niks fout nie. Hoeveel dokters later het hulle uitgevind hy het erge Refluks. So het hy nie wou praat nie, die Kinderarts het weer ge-oe en ge-aa!!!!. Totdat sy Ma hom na ‘n Oor-Neus – en Keelspesialis toegeneem het. Wat uiteindelik uitgevind het die velletjie onder sy tong moet geknip word. As dit nie vir Moederinstink was nie, was hy nou-nog nie reg nie. Gelukkig bly julle in PTA en nie meer in George nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.