Hiér is die top-5 vir NVG-hoof

Adv. Shamila Batohi tydens haar onderhoud vir die posisie as NDOV by die Uniegebou in Pretoria. Foto: Jacques Naude/ANA

Die presidensie het Sondagoggend bevestig wie die top vyf kandidate is wat oorweeg word vir die belangrike pos van nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV).

Dit volg nadat daar 12 kandidate geïdentifiseer is met wie ʼn paneel van agt lede onderhoude gevoer het. Een van dié kandidate, adv. Glynnis Breytenbach, het haar egter aan die proses onttrek voordat die onderhoude begin het en gevolglik is net 11 kandidate deur die strawwe onderhoudproses gesit.

Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, het bevestig die paneel het vyf kandidate vir pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel waaruit hy na verwagting ʼn nuwe NDOV sal kies. Die kandidate is:

Adv. Shamila Batohi
Adv. Siyabulela Mapoma
Adv. Simphiwe Mlotshwa
Adv. Rodney de Kock
Adv. Andrea Johnson

Adv. Rodney de Kock tydens sy onderhoud. Foto: Jacques Naude/African News Agency

Die paneel wat die onderhoude gevoer het, het bestaan uit minister Jeff Radebe (paneelvoorsitter en minister van energie), Thembekile Kim Makwethu (ouditeur-generaal), Adv. Bongani Majola (Menseregtekommissie), Adv. Jaap Cilliers (Balieraad), Richard Scott (SA Regsvereniging), Lutendo Sigogo (Black Lawyers Association), Lawrence Manye (Advocates for Transformation) en Mvuzi Nyotesi (Nasionale Vereniging vir Demokratiese Regslui).

Radebe het sy dank uitgespreek teenoor die paneel wat ingestem het om dié belangrike taak te verrig. Volgens Radebe is die paneel vol vertroue dat die pos van NDOV gevul sal word deur die regte en gepaste kandidaat wat oor die leierskapskapasiteit en regsuitnemendheid beskik wat die pos vereis.

Diko sê Ramaphosa sal nou die vyf aanbevelings bestudeer en binnekort ʼn aanstelling maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Paul ·

Kom ek wed julle, soos alle vorige kere waar persone in derglike poste gekies word, die dobbelstene gaan in spel kom en vir die ooglopende kundige bevoegdes gaan dit nie op die ses val nie.

Lana ·

Net so, Paul. Dis onderandere foutiewe aanstellings vir die afgelope 24 jaar wat maak dat hulle die land in sy dinges het.

Jan Alleman ·

Stem. Hierdie pos sal NIE met bekwame hande gevul word nie.

Paul ·

Nou wonder ek, gaan Cyril nie dalk ook hier die kluts kwyt raak soos met sy seun, die donasie en die Bosasa sage nie?

1+1 ·

Jammer ons weet nie waar hulle, hulle regstudies voltooi het nie.

zoom zoom ·

Die kandidaat wat die pos gaan kry word nie deur CR aangewys nie. Die ANC het reeds besluit wie hulle in daai pos wil hê Om julle kaders Te help Om nie vervolg Te word nie

Basjan ·

zoom zoom, let wel: CR is ‘n ANC kader! Natuurlik sal hy inspraak hê oor daardie aanstelling.

Hanna Hoekom ·

Die “beste kandidaat” gaan swart wees. Nie Indier swart of bruinerige swart nie. Afrika swart. Mark my words… ANC en sy trawante het reeds besluit.

MM ·

Maak nie aan my saak wat die kleur van die person se vel is nie. Solank die job net 100% gedoen word. Julle het gou vergeet van wat se stofasie Thuli Madonsela was…..en sy was ook nie wit nie. Mense julle is so swartgallig. Oordeel nog voor die aanstelling gemaak is. Onthou …..lewe en dood lê in die mag van die tong.

jaco ·

almal kla nou oor dit ‘n ANC-kader is wat die pos gaan kry. En gerieflik vergeet veral ouer lesers van Maroela dat daar in die ou SA ook maar lekker jobs vir Broederbonders gegee is. Die Broederbond was die geheime “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Hulle is gereeld sleutelposte gegee waar “die volk” beinvloed kon word om altyd Nasionaal te stem. Skoolhoofde van groot Afrikaanse hoërskole was amper almal Broeders. Senior amptenare in die Dept van Onderwys was amper almal Broeders (seker hulle wat uitgedink het dat ek in die skool se godsdiensklas moes leer dat apartheid die wil van God is).
Moderature van die sinodes van die 3 Afrikaanse susterkerke is ook gelaai met Broeders (vreemd dat hulle so eendragtig in die Broederbond was maar nooit dié 3 kerke kon verenig nie).
En so kan ek aangaan: weermaggeneraals, CEO’s van SANLAM en Volkskas ens ens

Ek gee toe, daar is darem meer aandag daardie jare gegee aan bekwaamheid wanneer Broeders hulle lekker jobs gekry het, maar ek weet ook van ‘n paar gevalle waar bekwaamheid oor die hoof gesien is. Die beginsel en verskynsel van jobs vir jou politieke pelle is egter nie ‘n nuwe ding of ‘n ANC-ding of ‘n kommunistiese ding nie. “Ons het dit in die ou SA gedoen en “hulle” het dit by “ons” geleer.

Andrew ·

Laat my dink aan die grappie so ‘n jaar of wat gelede. Skynbaar het die president alle senior personeel ingelig dat elkeen drie jaar kry vir verryking. As hulle daarna uitgevang word is hulle op hul eie. Ek kon dit nooit glo nie, daar die drie jaar klink darrem baie min.

Adam ·

Jaco, jy is in die kol. Terloops, Rodney de Kock is ‘n uiters geskikte kandidaat.

John ·

Vir ‘n ou oom soos jy het jy darem ‘n helder verstand om so al die sondes van die ou bedeling op die punte van jou vingers te he. Was jy een van die ouens wat nie in die gebroeder se geledere of op die gekerktes se rade gedien het nie ook nie in die vryemesselaars voorskoot gedra het nie. Het jy darem soms Saterdae rugby gekyk of vis gaan vang of was dit toe ook te gevaarlik met al die bierblikkies vol koue skuim wat so onverantwoordelik by sekere winkels te koop was.

Johan H. ·

John daar moet n neutrale uiters betroubare profesionele persoon aangestel word. Maak nie saak wat is die kleur nie.

Johan H. ·

Jammer John ek het eintlik my skrywe gerig aan Jaco.. jy is reg. As almal net poog vir beter ongeag die verlede, kan dit mos net beter gaan.

Irma ·

Met die aanstelling sal onse president duidelik wys hoeveel eerlikheid en goeie regering vir hom tel. Kan nie wag om te sien nie

PJ ·

Al was daar broederbonders betrokke by die vorige klomp was dit nie n groot gemors soos dit nou is nie alles is bankrot en niks funksioneer nie absoluut niks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.