Hittegolf in Karoo voorspel

Argieffoto

Inwoners wat in die Sentraal- en Klein-Karoo woon, moet hulself staal teen skroeiende hitte nadat ’n hittegolf dié deel van die land Maandag getref het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal die hittegolf tot Woensdag duur, met temperature wat op plekke 41°C kan bereik.

In Beaufort-Wes en Oudtshoorn word maksimum temperature van onderskeidelik 38 °C en 37 °C vir Dinsdag voorspel, wat Woensdag tot onderskeidelik 41 °C en 39 °C sal styg.

Die kwik in Worcester en Clanwilliam sal Dinsdag tot 35 °C styg en sal teen Woensdag op 37 °C staan.

In Ceres word ’n maksimum temperatuur van 34 °C vir Dinsdag en 36 °C vir Woensdag voorspel.

In die res van die land sal dit oor die algemeen ’n warm en sonnige week wees, sê Luthando Masimini, ’n weervoorspeller verbonde aan die weerdiens. Temperature van oor die 30 °C word vir Gauteng voorspel.

“Die weerdiens voorspel vir Dinsdag geïsoleerde reënbuie in die Hoëveld van Mpumalanga, die Heidelberg-omgewing in Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat, die westelike binneland van KwaZulu-Natal en die oostelike binneland van die Oos-Kaap,” sê Masimini by navraag.

“Teen Donderdag en Vrydag is daar ’n 30%‑kans vir reën in die suidelike dele van die Vrystaat, die Oos-Kaap, langs die kus van die Wes-Kaap en aan die platorand in Mpumalanga en Limpopo.”

Reënweer sal teen Sondag na die westelike dele van die Vrystaat en suidelike dele van KwaZulu-Natal versprei.

Wolke sal ook teen Maandag in Gauteng en die oostelike dele van die Noord-Kaap saampak.

Die weerdiens waarsku inwoners in hierdie gebiede dat hoër as normale temperature tot hitte-uitputting kan lei.

“Hitte-uitputting kan noodlottig wees indien mediese hulp nie onmiddellik beskikbaar is nie,” sê die weerdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kosie ·

Dit is so warm in die Karoo, kom hulle ooit agter as daar n hitte golf is?

Sandra ·

Dit sal die eerste werklike somersdae van hierdie seisoen wees. Ons het nog nie somer gehad nie, net wind

Andre ·

Nee, nee, nee! Dis aardverwarming, wag vir die winter dan is dit aarverkoeling of koolsuurgas of iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.