Hoë skuldvlak bly enorme bron van kommer

Geskryf deur: Amanda Visser

(Foto: IshaanHaffejee/GroundUp)

Enoch Godongwana, minister van finansies, se beloftes dat Suid-Afrika se enorme skuldvlak gaan stabiliseer, realiseer doodeenvoudig nie. Kenners waarsku boonop die prentjie kan in die nabye toekoms aansienlik slegter lyk, wat ander negatiewe gevolge vir die land se ekonomie inhou.

Daarom sal fyn geluister word na die planne wat Godongwana Donderdag tydens die begrotingsrede voorlê om die skuld te delg.

Die skuldvlak het in 2022 net meer as 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop.

Volgens die nasionale tesourie se vooruitskattings gaan dit vanjaar tot 75% en oor die volgende twee jaar tot digby 78% styg. Dit blyk egter konserwatief te wees en die verwagting is eerder dat die skuld-tot-BBP‑verhouding tot 80% en selfs 85% van BBP sal styg.

Swak fiskale bestuur

Die oorskryding van die teiken vir skuld in verhouding tot BBP, dui daarop dat die regering se fiskale bestuur onvolhoubaar is. Dit is ʼn kommerwekkende tendens, sê Jana de Kluiver, navorser en Afrika-kenner by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria.

Suid-Afrika se skuldvlakke het reeds bereik en is nou op pad na R6 triljoen. Die begrotingstekort (die verskil tussen inkomste en uitgawes) is reeds ʼn gapende 4,9%.

“In die konteks van die land se kwynende elektrisiteitsnetwerk en die verswakking van ander infrastruktuur, sowel as ander ekonomiese uitdagings, is dit belangrik om so spoedig moontlik oplossings te vind,” sê sy.

Godongwana het in sy mediumtermynbegrotingsbeleidsraamwerk erken dat dinge nie na wense verloop nie. “Te veel regeringsaktiwiteite is ondoeltreffend, oorvleuelend en nie-kritiek nie, en die regering genereer nie voldoende inkomste om regeringskuld oor die lang termyn te diens nie.”

Leningskuld het met 47,2 persentasiepunte tussen 2008 en 2022 toegeneem. Die regering gebruik die geld wat geleen word hoofsaaklik vir salarisverhogings vir staatsamptenare in die “arbeidsintensiewe sektore” en om maatskaplike toelae te betaal.

Nuwe skuld, sê die minister, is boonop duurder skuld. In plaas daarvan om geld aan onderwys, gesondheid of polisiëring te bestee, betaal Suid-Afrika R1 uit elke R5 wat ingevorder word, aan skuldeisers.

 

Waarde vir geld

Hoe produktief word ons skuld aangewend? Dit, sê De Kluiwer, is ʼn taamlik gelaaide vraag.

“Die antwoord sal verskil na gelang van watter lening ʼn mens na verwys. ‘n Hoë skuld-tot-BBP-verhouding dui in die geval waarskynlik op slegte geldbestuur of onvolhoubare uitgawes, aangesien die ekonomie nie teen die tempo groei wat nodig is om die hoë skuldlas te regverdig nie.”

Sy voeg by dat skuld ’n goeie ding kan wees as dit in strategiese sektore aangewend word, maar toenemende kommer oor die volhoubaarheid van Suid-Afrika se skuld dui daarop dat die skuld nie produktief gebruik word nie.

Die nasionale tesourie het in November verlede jaar aangedui dat net die koste om ons skuld te diens in die 2024-’25‑belastingjaar R385,9 miljard gaan beloop. Dit styg tot R455,9 miljard volgende jaar.

Volgens Focus Economics, wat ekonomiese vooruitskattings van die wêreld se voorste ekonome publiseer, was Botswana se skuldlas in 2022 slegs 18% van BBP, terwyl dié van ander lande in sub-Sahara‑Afrika, soos Namibië (69,8%), Angola (66,7%), Mosambiek (95,5%) en Zimbabwe (98,4%) ook aan die hoë kant is.

Jean-Louis Nel, direkteur by Van Huyssteens Commercial Attorneys, sê Suid-Afrika se skuldlas kan verminder word, mits streng fiskale beleid toegepas word. “Sekere utopiese idees oor salarisverhogings vir staatsamptenare en die nasionale gesondheidsorgversekeringsplan sal egter op die rak moet beland.”

Die gemors van rommelstatus

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Suid-Afrika leen tans by buitelandse regerings, internasionale organisasies soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank, asook buitelandse beleggers soos soewereine welvaartfondse of buitelandse banke. Buitelandse maatskappye of entiteite kan regstreeks deur middel van lenings in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê.

De Kluiver sê Suid-Afrika se rommelstatus het ’n negatiewe impak op sy bedingingsmag wanneer hy met sy krediteure oor leningsvoorwaardes onderhandel. Kredietgraderings-agentskappe is nie beïndruk met die kredietwaardigheid van ’n land met ʼn rommelbeleggingstatus nie.

ʼn Rommelgradering dui daarop dat die regering moontlik in gebrek kan bly om sy skuldverpligtinge na te kom. Dit maak lenings duurder, aangesien krediteure hoër rentekoerse, of korter terugbetalingsperiodes, eis om vir die verhoogde risiko op te maak.

Daarbenewens kan ’n rommelgradering die toegang tot internasionale kapitaalmarkte beperk en beleggersvertroue verminder, wat sy vermoë om gunstige voorwaardes vir lenings te onderhandel, verder beperk.

“In die algemeen ondermyn Suid-Afrika se rommelstatus sy vermoë om geld teen gunstige voorwaardes te bekom, wat sy skuldlas vererger en dit moeiliker maak om sy finansiële verpligtinge doeltreffend te bestuur,” maan De Kluiver.

Die druk van skuldnood

Hoewel Suid-Afrika se skuld die streekgemiddelde oorskry, is dit belangrik om te besef dat individuele lande binne die streek aansienlik kan verskil in hul skuldvlakke en fiskale bestuurstrategieë.

Volgens die IMF is bykans die helfte van Afrika-lande sedert 2023 in . Suid-Afrika is nog nie in skuldnood nie, maar weens die skuldtrajek, meen kenners, is die land heel moontlik op pad daarheen.

Sou die regering versuim om sy skuld terug te betaal, sal dit lei tot ʼn stortvloed negatiewe gevolge, waaronder ʼn verdere afgradering van ons beleggingstatus. “Dit sal waarskynlik lei tot die onttrekking van buitelandse beleggings wat ʼn regstreekse negatiewe uitwerking op ons BBP sal hê,” maan Nel.

Die koste van ons lenings gaan nog duurder word, inflasie sal styg tot “ongeëwenaarde vlakke” en die waarde van die plaaslike geldeenheid sal tuimel, voeg hy by.

De Kluiver glo dit sal beleggersvertroue verder ondermyn met negatiewe ekonomiese gevolge, soos ’n toename in werkloosheid.

Hoë vlakke van werkloosheid en gebrekkige dienslewering deur die regering kan lei tot sosio-politieke onrus soos Suid-Afrika reeds in KwaZulu-Natal beleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Skuldvlakke is seker op pad na R6 biljoen (12 nulle). R6 triljoen is 18 nulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.