‘Hoekom het God my ma gevat’

Natasha Wheeler Barnard (Foto: Verskaf)

“Hoekom het God my ma weggevat?”

Só het Natasha Wheeler Barnard (33) se 11-jarige seun in ʼn brief aan God geskryf nadat sy in Maart vanjaar in Fochville, Gauteng, dood is.

Barnard is op 3 Maart in The Boulevard-restaurant en -kroeg in Fochville glo aangerand en vroeg die volgende oggend by haar ma, Frieda Venter, se huis afgelaai waar paramedici haar later dood verklaar het.

Cecilia Storbeck (23), Maryna Doyle (37), haar kêrel, Sidney Scheepers (41), Twane Wienand (31), Rudolf Pretorius (23) en Dave Lourens (45) is in verband met Barnard se dood in hegtenis geneem. Alle klagte teen Storbeck is Donderdag teruggetrek.

Barnard se seun en 14-jarige dogter probeer steeds sin maak van hul ma se skielike dood, maar dit is veral haar seun wat sukkel om haar dood te verwerk.

“Hy skryf baie briewe waarin hy vertel dat hy na sy ma verlang. Hy het ook gesê dit is ʼn nagmerrie wat nooit verbygaan nie,” vertel Barnard se ma, Frieda Venter.

“Hy vertel my ook gereeld dat hy wens hy was Superman om die mense wat sy ma vermoor het, te vang. Hy sê hy gaan ʼn polisieman word en dan gaan hy hulle vastrek en met hulle werk.”

Natasha Barnard(links), Chantell Wheeler en Anthony Wheeler (Chantell en Natasha se boetie) [Foto: Verskaf]

Die seun se laaste brief lui: “Ek wil by my ma wees, ek wil nie meer lewe nie.”

Die seun sukkel met sy skoolwerk en gaan sedert sy ma se dood gereeld na ʼn sielkundige.

Barnard se dogter hanteer egter haar ma se dood effens beter.

“Haar maatjies en voogjuffrou ondersteun haar baie. Sy vaar goed op skool en kry onderskeidings. Sy gooi haar egter toe onder die skoolwerk, wat seker haar manier is om haar ma se dood te hanteer.”

Die gebeure op die aand van haar dogter se dood en die nuus wat sy aan haar kleinkinders moes oordra, spook steeds by Venter.

Sommige van die beskuldigdes het op daardie aand in Barnard se motor by haar huis aangekom en beweer dat Barnard nie by haar bewussyn was nie, glo omdat sy te veel gedrink het. Venter sê hulle wou haar dogter in die motor los, maar sy het daarop aangedring dat hulle haar dogter uit die motor help. Hierna het hulle haar “uit die motor gegooi”, beweer Venter.

Die kinders het hul ma op die plaveisel buite die huis sien lê en geweet iets skort, onthou sy. “Die seun het vir sy sussie gesê hy dink daar is ‘groot fout met Mamma’. Hulle het gehoor hoe ek histeries huil en moes besef het daar is fout.”

Toe sy hulle van hul ma se dood vertel, het die kinders ontroosbaar bly huil.

Venter sien al die afgelope agt jaar na die kinders om en Barnard het gereeld kom kuier. “Sy was baie betrokke by haar kinders se lewe. Sy het in Oktober verlede jaar aansoek gedoen om die kinders weer terug in haar sorg te laat plaas en het soveel planne saam met hulle gehad.”

In Januarie vanjaar het Barnard by haar ma en die kinders op Fochville ingetrek nadat sy sowat vyf jaar lank in Pretoria gewoon en gewerk het.

‘Laaste Kersfees’

Natasha Wheeler Barnard se ma, Frieda, suster, Chantell, en pa, John. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

In die week voor haar dood het Barnard gesê sy voel dat Fochville nie die plek vir haar is nie.

“Dit is asof sy ʼn aanvoeling gehad het dat iets gaan gebeur,” sê Venter.

In haar dogter se dagboek het Venter gelees hoe sy op 16 Desember verlede jaar skryf dat sy graag daardie Kersfees by haar ma en kinders wil wees, “asof dit haar laaste Kersfees is”.

“En dit was …” sê Venter.

Die middag voor Barnard se dood het sy en haar ma op die stoep gesit en gesels; hul laaste gesprek.

“Sy het my gevra dat ek haar een ding moet belowe en dit is om nie weer terug te gaan na my eksman toe nie. Ek het haar belowe en sy het geglimlag, so asof sy nou tevrede is.”

Op die aand van haar dood het Barnard ʼn boodskap uit die kroeg gestuur en gevra: “Mamma, is jy oukei?”

Chantell Wheeler sê Barnard – haar suster – het haar en twee ander mense op daardie noodlottige aand gebel en gesê sy vrees vir haar lewe.

Verlange, frustrasie

Die vyf beskuldigdes wat verbind word met Natasha Barnard se dood (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Vir Wheeler en Venter voel dit of hul lewe stilstaan en dié van die verdagtes aangaan sedert hulle in April op borgtog vrygelaat is.

“Dit is frustrerend om so te wag en boonop gaan hulle [beskuldigdes] aan asof niks fout is nie. Hulle gaan met vakansie en kuier steeds by dieselfde kuierplek(ke) op die dorp. Ons wil hê iets moet met die hofsaak gebeur, maar dit is uit ons hande,” sê Wheeler.

Dit is vir hulle ontstellend om te sien hoe die beskuldigdes buite die hof bymekaarkom, grappies maak en lag.

“In die hof sal hulle omdraai en in ons rigting kyk.”

Die familie is opdrag gegee om in die hof nie naby die beskuldigdes te sit nie en hulle neem dus heel agter in die hof sitplek in. “Dit maak my kwaad, want dit is asof húlle beskerm en óns vuil uitgekyk word, so asof ons iets verkeerds gedoen het.”

Omdat sy op so ʼn “wrede manier” van hulle weggeneem is, sukkel die familie steeds om berusting te vind.

“Ons het talle vrae oor wat presies daardie aand gebeur het. Ons sal meer berusting kry sodra dit in die hof uitkom,” sê Wheeler.

Vir Venter wyk die verlange ook nooit nie. “Dit is nie normaal vir ʼn ouer om sy of haar kind te begrawe nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antie Sarie ·

Ai. Dit is iets wat geen kind moet deurgaan nie. Ek hoop jy kry jou antwoorde. Want dit is nie die voorgeskrewe antwoorde soos deur die sameleweing opgedis nie. Dit was geen goeie persoon se wil nie.

TRP ·

Hierdie is bitter hartseer. Ek voel vir die kinders en die ma, geen ma moet ‘n kind begrawe en dan wag vir andwoorde. Ons stelsel laat soveel mense in die steek.

Antie Sarie ·

Die twee ergste goed wat n mens kan tref. ‘n Ma wat n kind verloor en n kind wat n ma verloor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.