Hoër rente nie net slegte nuus vir eiendomsmark

(Foto: Tierra Mallorca/Unsplash)

Studies wys altesame 56% van verbruikers gaan binne die volgende drie maande minstens een van hul rekeninge of lenings nie kan betaal soos hulle moet nie.

Meer as die helfte van huishoudings wat aan ʼn onlangse peiling deelgeneem het, het boonop aangedui hulle sal weens inflasiedruk hul diskresionêre besteding moet sny. Diskresionêre besteding verwys na nie-noodsaaklike items soos ontspanning of vermaak, oftewel items of ervarings waarvoor verbruikers betaal wanneer hulle alle ander noodsaaklike uitgawes reeds gedek het.

Die Reserwebank se onlangse verhoging met 75 basispunte van die repokoers en die gevolglike styging in die prima-uitleenkoers tot 9%, was ʼn gevoelige slag vir verbruikers en die eiendomsmark. Die voorspelling is dat die res van die jaar nog taai vir die meeste mense gaan wees terwyl hulle spartel om selfs net huishoudelike uitgawes te betaal.

Antonie Goosen, hoof en stigter van Meridian Realty, sê alles is egter nie verlore nie. Daar sal steeds veerkragtigheid in die middelsegment van die eiendomsmark wees en al die huidige data is ook nie negatief nie.

“Sommige van die syfers waarna die monetêre beleidskomitee verwys het, dui op ʼn latere mate van positiwiteit, maar vir nou sal ons die hoër rentekoerse moet bestuur,” sê Goosen.

“Die styging in verbandterugbetalings plaas meer druk op huishoudings. Sommige kan dalk besluit om eerder hul huise te verkoop omdat hulle nie meer die terugbetalings kan bekostig nie.”

Dit sal ʼn neiging wees wat oorwegend in markte is waar die besteebare inkomste van ʼn huishouding laer is.

Goosen sê dit is geen geheim dat baie Suid-Afrikaners die res van die jaar finansieel gaan klippe kou nie. Hy sê dit is ook belangrik dat eiendomsagente binne die raamwerk van ʼn koper se begroting bly en hulle nie aanmoedig om hulself in die moeilikheid in te koop nie.

Ondanks die wind van voor, verwag die monetêre beleidskomitee steeds dat Suid-Afrika se ekonomie met 2% gaan groei; ʼn opwaartse aanpassing van die 1,7% waarop die vooruitskatting vantevore gestaan het. Groei in die eerste kwartaal van die jaar was ook beter as verwag en verskeie sektore begin al hoe meer kop optel.

FNB se eiendomsbarometer vir Julie lui dat die “verskuiwing in behuisingsbehoeftes en die verskerpte mededinging tussen uitleners verdere aktiwiteit behoort te steun”.

Oos-Kaap, Wes-Kaap

Vir eiendomsagente is dit ook nie alles slegte nuus nie – hulle moet net aanpas by die veranderende behoefte wat ontstaan het weens diegene wat wil semigreer, en die betreklik aanloklike finansiering wat aan voornemende huiseienaars gebied word.

Aan die Tuinroete, byvoorbeeld, was daar ʼn toename in verkope van huise met drie of meer slaapkamers.

“Die gemiddelde gesin van vier wat wil semigreer benodig drie slaapkamers, asook ʼn ruimte om van die huis af te werk; dus ʼn vierde vertrek vir ʼn studeerkamer of kantoor,” sê Goosen.

“Die neiging duur voort. Bykomend is die gemiddelde huisprys steeds hoër as ʼn jaar gelede, maar ek verwag dat dit oor die volgende paar maande gaan daal.”

Huise in gebiede soos die Wes-Kaap en Oos-Kaap is steeds die kortste tyd op die mark, gewoonlik minder as die gemiddeld van 13 weke wat dit duur om ʼn koper vir ʼn huis te kry. In die middelprysklas – huise wat tussen R1,6 miljoen en R2,6 miljoen kos – is ʼn huis nou gemiddeld agt weke lank in die mark. Dit is ʼn toename van die ses weke wat dit gewoonlik was.

Verkope in die Oos- en Wes-Kaap is hoofsaaklik in die boonste segment van die mark en word veral aan semigrasie toegeskryf.

Die eiendomsmark is nes verskeie ander sektore besig om te herstel na pre-pandemievlakke. Die syfers vir die tweede en derde kwartaal gaan egter weens die vertraagde uitwerking van die oorlog in Oekraïne, die oorstromings in KwaZulu-Natal en die kwaai beurtkrag wat toegepas is, verskil.

Die gebrek aan betroubare krag kan ook beteken dat diegene in die middel- en hoër segment van die mark hul huislenings gebruik om self krag te begin opwek. Dit kan tot huishoudelike skuld bydra.

“Dit kan ʼn noodsaaklikheid wees vir diegene wat sake van die huis af bedryf en waar dit eenvoudig net nie ʼn opsie is om nie aanlyn te wees nie,” sê Goosen.

Suid-Afrikaners kan hulle egter daaraan troos dat hulle nie alleen in hierdie finansiële bootjie is nie. Wêreldwyd is daar ʼn verlangsaming in groei en ʼn vinniger styging in inflasie.

Goosen sê die eiendomsbedryf moet slim planne maak en saamwerk om op die hoogte van ʼn veranderende en gedempte mark te bly.

“Eiendom moet reg geprys en geposisioneer word. Sommige eiendomme sal dalk moet spog met kenmerke soos dat dit nie aan die kragnetwerk gekoppel is nie, of ʼn aanloklike buite-die-stad-werkligging bied wat voornemende kopers aantrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Dis vieslik om munt te slaan uit mense wat bankrot gaan. Die Here sien wat ons doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.