Hof beslis staat moet sê oor entstofkontrakte

Johnson en Johnson se Covid-19 entstof. (Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis die regering moet die inligting bekendmaak rakende die verkryging van alle Covid-19-entstowwe.

Luidens die bevel, wat Donderdag uitgereik is, het die departement van gesondheid nou tien dae om kopieë van alle ooreenkomste en verkrygingskontrakte vir entstowwe soos Johnson & Johnson, AstraZeneca en Pfizer bekend te maak. Die departement moet ook notules van vergaderings en gesprekke met vervaardigers soos Janssen Pharmaceuticals en Aspen Pharmacare bekendmaak.

Die Health Justice Initiative (HJI), ʼn organisasie sonder winsbejag, het reeds in Julie 2021 ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van die Reg op Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om die rekords te bekom, maar die departement van gesondheid het geweier, op grond daarvan dat die ooreenkomste ʼn vertroulikheidsklousule bevat. Skriftelike versoeke om inligting is ook aan plaaslike verteenwoordigers van die betrokke farmaseutiese maatskappye gestuur. Slegs Pfizer het op die versoek gereageer, maar geweier aangesien die inligting “opsigself vertroulik is en dus nie verskaf kan word nie”.

Die organisasie het hulle gevolglik tot die hof gewend. In sy uitspraak het regter J Millar onder meer gesê die departement kan nie op grond van ʼn vertroulikheidsklousule alle inligting met betrekking tot die kontrakte weerhou nie. Hy het ook bevind daar is voldoende openbare belang met betrekking tot die inhoud van die kontrakte om die bekendmaking daarvan te regverdig.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die HJI beskou die beslissing as ʼn oorwinning vir deursigtigheid en aanspreeklikheid, aangesien belastingbetalers se geld gebruik is om die miljoene dosisse entstowwe aan te skaf wat die regering sou gebruik om die Covid-19-pandemie te beveg.

“Die verkrygingsproses is ontsier deur bewerings dat die regering entstowwe teen opgeblase pryse aangekoop het en dat die ooreenkomste onbillike voorwaardes bevat, soos vrywaringsklousules, uitvoerbeperkings en nie-terugbetaalbaarheidsklousules,” het die organisasie na afloop van die uitspraak gesê.

“Dit is belangrik om te weet wat die regering namens sy burgers met entstofvervaardigers ooreengekom het, veral in die lig van berigte dat dié vervaardigers regerings in die Suidelike Halfrond geboelie het en aangedring het op kontrakte wat vir hulle enorme winste sou besorg, sonder gepaardgaande aanspreeklikheid en deursigtigheid.”

Die departement het Donderdag gesê hy neem kennis van die uitspraak. “Die departement sal die uitspraak bestudeer en mettertyd daarop reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Ja Kirst as dit nie vir AfriForum, Solidariteit, VF+, DA ens dink net hoe die ANC partytjie sou gehou het!

JohanR ·

Kyk nou hoe Ramaphosa en sy ANC trawante nou duck en dive. “Ouens sit daai papiere gou deur die
versnipperaar!

Prikkie ·

‘n “Kickback” is ‘n terugslag, maar ek vermoed jy bedoel omkoopgeld.

Danie ·

Indien die inligting nie binne die bepaalde tyd bekend of oorhandig word nie dan beteken dit net 1 ding , Skelm.

domheks ·

Sal weer en weer en weer appel aanteken. Want hulle moet toesmeer!

Chris ·

Dit is baie verblydend om te verneem dat ons nog ‘n burgerregte organisasie het wat opstaan teen die regering se vergrype. Mooi so HJI – ek hoop hul kan dit alles aan die publiek bekend maak hoe die land in ‘n greep van globaliste geval het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.