Hof sê oor borgtog vir vlugtelingleier

Vlugtelingleier Jean-Pierre Balous (middel). (Argieffoto: Tariro Washinyira)

Die leier van ʼn groep vlugtelinge wat skuil in die Metodistekerk in die Kaapstadse middestad, het Vrydag vlugtig op verskeie aanklagte van aanranding in die landdroshof in die stad verskyn.

Jean-Pierre Balous (38), ʼn Kongolese burger, se inhegtenisneming het gekom ná verskeie vlugtelinge beweer het dat hy hulle aangerand het. Hulle is deel van 500 vlugtelinge wat sedert Oktober verlede jaar in die kerk woon.

’n Groep van sowat 50 vlugtelinge het kort ná Balous se inhegtenisneming buite die plaaslike polisiestasie saamgedrom en op sy vrylating aangedring. Hulle is later beveel om die polisiestasie te verlaat.

Vlugtelinge in die kerk het onlangs met mekaar slaags geraak. Maandag het die polisie onder meer beslag gelê op vuurwapens en ʼn kannetjie brandstof in die kerk.

eNCA berig Balous se aansoek om borgtog is van die hand gewys. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Maroela Media het vroeër berig honderde buitelandse burgers het in Oktober verlede jaar weke lank buite die kantore van die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) in die Kaapstadse middestad uitgekamp. Hulle is daar verjaag en ongeveer 500 vlugtelinge, meer as die helfte van hulle kinders, woon sedertdien in die kerk.

Hulle is nou in ’n hofstryd met die stadsraad gewikkel.

Dié mense wil hê die VN moet hulle hervestig omdat hulle weens xenofobiese aanvalle teen hulle toenemend onveilig in Suid-Afrika voel. Die meeste van dié groep buitelandse burgers is asielsoekers wat nie vlugtelingstatus kon kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.