Hof sê Thabo Bester-dokkie mag voortgaan

Thabo Bester (links) saam met sy medebeskuldigde Motenyane Masukela in die hof (Februarie 2024) (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Regter Stuart Wilson het Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof Thabo Bester en Nandipha Magudumana se dringende aansoek teen die uitsending van ʼn dokumentêre reeks van die hand gewys.

Bester en Magudumana het aansoek gedoen om ʼn dringende interdik te bekom teen Showmax se uitsending van Tracking Thabo Bester.

Volgens die regter het Bester en Magudumana se aansoek ʼn “algemene angs” getoon oor die beeldsending van die reeks. Hy sê die gebeure rondom Bester se ontsnapping het reeds grootskaalse mediablootstelling gehad en die twee aansoekers het versuim om te bewys dat hulle enige skade sal ly indien die reeks uitgesaai word.

Bester en Magudumana wou verhoed dat die reeks uitgesaai word voor hulle dit gesien het en hulle voer aan dat dit moontlik kan indruis teen hul reg tot ʼn regverdige verhoor.

Wilson het die kostebevel van die hand gewys, aangesien hulle albei gevangenes is.

Multichoice het intussen gesê hy is verheug oor Wilson se uitspraak.

“Dié boeiende dokumentêr sal lig werp oor die bewerings teen Bester en Magudumana en sal aan die publiek die geleentheid bied om self te besluit wat gebeur het en self hul mening daaroor te vorm,” lui ʼn verklaring.

Die eerste twee episodes van Tracking Thabo Bester is op 15 Maart 2024 om 16:00 eksklusief op Showmax beskikbaar gemaak.

Showmax het vroeër gesê die bewerings teen Bester en Magudumana is uiters ernstig en Showmax glo dat dit noodsaaklik is vir kykers om die geleentheid te kry om die dokumentêre reeks te sien sodat hulle self ʼn besluit kan maak.

Verhoor uitgestel

Nandipha Magudumana het die hofsaal met ‘n Louis Vuitton-beursie binnegegaan (Februarie 2024) (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Maroela Media het vroeër berig die voorverhoorkonferensie in Bester, Magudumana en hul sewe medebeskuldigdes se saak is tot 5 Junie uitgestel.

Bester dien lewenslange tronkstraf uit vir twee aanklagte van verkragting en een van moord. Hy het in Mei 2022 uit die tronk ontsnap, glo met die hulp van Magudumana en verskeie tronkbeamptes. Die beskuldigdes staan tereg op altesaam 16 aanklagte, waaronder bedrog, korrupsie, hulp aan ʼn gevangene om te ontsnap en lykskending.

Die aanklaer, adv. Amanda Bester (geen verwantskap met Thabo Bester nie), het aangedui dat die verhoor waarskynlik minstens 24 weke sal duur.

Bester, Magudumana en Magudumana se voormalige tuinier, Zanda Moyo, bly in aanhouding. Die ander beskuldigdes is vroeër op borgtog vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeubekkie ·

Solank daai twee misdadigers net nie op die ou end, geld daaruit maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.