Hof verwerp Ninow se weergawe

Nicholas Ninow. Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency (ANA)

Die selferkende kinderverkragter, Nicholas Ninow, gaan sowat ʼn maand moet wag om te hoor of hy lewenslank tronk toe gestuur gaan word nadat hy Maandag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind is.

Die 21-jarige Ninow het reguit na regter Mokhine Mosopa gekyk toe hy vanoggend skuldig bevind is aan kinderverkragting, die besit van dwelms en regsverydeling. Mosopa het egter bevind die staat het nie die aanklag van aanranding bewys nie, en Ninow onskuldig bevind op daardie aanklag.

Mosopa het in sy uitspraak Ninow se weergawe dat hy na die badkamer is om dwelms te gebruik en dat hy voor die dogtertjie in die toilethokkie was, verwerp.

“Daar is geen spesifieke rede wat die beskuldigde gegee het hoekom hy gekies het om by ʼn tafel nader aan die speelgebied te sit nie, omdat hy geweier het om in sy eie verdediging te getuig. Daar is weer geen spesifieke rede verskaf waarom die beskuldigde uitlatings gemaak het hoekom hy seksuele omgang met ʼn vrou wou hê wat in die geselskap van ʼn ander man was nie. Daar is ook geen redelike verduideliking gegee waarom die beskuldigde na die vrouebadkamer gegaan het, terwyl daar ʼn mansbadkamer is nie.”

Die enigste redelike afleiding wat die hof kan maak, is dat die beskuldigde die dogtertjie by die speelgebied sien speel het. Hy het dus ook gesien toe sy na die badkamer gaan, haar agtervolg en toe verkrag, het Mosopa gesê.

Mosopa het gesê hoewel die dogtertjie, wat nou agt jaar oud is, aanvanklik deurmekaar voorgekom het toe sy begin getuig het, aanvaar hy haar weergawe van die gebeure.

Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Louw-Mjonondwana, het buite die hof gesê hulle is verheug oor die uitspraak.

“Dit wys ons het die regte besluit geneem om die kind op te roep om te getuig om Ninow se weergawe van die gebeure te weerlê. Dit was ons bedoeling om die hof in ʼn beter posisie te plaas om ʼn besluit te neem en ons het daarin geslaag,” het sy gesê.

Ninow bly in aanhouding tot die saak in Oktober weer voorkom vir voorvonnisverrigtinge. Sy ouma, Pauline Gericke, het hom weer by die hof ondersteun. Sy het aanvanklik alleen in die middel van die voorste bank in die openbare galery in ʼn see van groen geklede ANC Vroueliga-lede gesit. ʼn Lid van die liga, geklee in ʼn hemp met pres. Cyril Ramaphosa op, het later langs haar gaan sit en haar ondersteun.

Dlozi Nkosi het gesê sy ondersteun Gericke omdat sy ook ʼn ma is. “Ek is ook ʼn ma. Ons bly lief vir ons kinders. Ons maak hulle nie groot om sulke goed te doen nie. Ons sê nie gaan doen dwelms nie,” het sy gesê.

Die res van die ANC Vroueliga was egter ontsteld omdat die saak vir sowat ʼn maand uitgestel is vir ʼn proefbeampteverslag en ʼn slagofferimpakstudie.

Die nasionale woordvoerder van die liga, Thokozile Xasa, het gesê die feit dat die saak uitgestel word, is ʼn aanduiding dat die regstelsel vroue en kinders in die steek laat.

“Die saak moet ʼn voorbeeld wees dat kinderverkragters lewenslank tronk toe gestuur word. Wanneer sake uitgestel word, traumatiseer dit slagoffers van voor af. ʼn Noodtoestand moet uitgeroep word sodat alle regeringsdepartemente saamwerk of gedwing word om geweld teen vroue en kinders ernstig op te neem,” het sy gesê.

Lede van die EFF en verskeie burgerorganisasies het ook die verhoor bygewoon. Themba Masango van die NotInMyName-beweging het gesê politieke partye moet ophou om sake te gebruik om “politieke punte te wen”.

“Politieke partye moet ingelig word oor hoe die regstelsel werk. Dit is nie ʼn politieke saak dié nie; dit gaan oor geregtigheid, reg en verkeerd. Dit gaan oor die oorlog wat teen vroue en kinders in die land gevoer word. Ons moenie sake soos dié verpolitiseer nie en sê daar is nie geregtigheid nie, of die saak gaan oor ras, of hoekom is hy nie vandag gevonnis nie. Niemand het gesê hy gaan gevonnis word nie. Ons moet die ANC en EFF daarop wys as hulle politieke punte by sake soos dié wil wen,” het hy gesê.

Die saak is tot 16 Oktober uitgestel. Die verdediging sal dan getuienis aanbied om die hof te probeer oortuig dat daar dwingende en wesenlike omstandighede is waarom die hof van die voorgeskrewe minimum vonnis, van lewenslange tronkstraf, kan afwyk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Annelie du Plessis ·

Hierdie skokkende aksie is ñ reaksie wat al lankal sluimerend was. Die gebruik van dwelms en drank net ñ susmiddel vir iemand sonder ñ gewete, net ñ hupstoot vir moed wat hy al lankal beplan. Hy het sy eie misrabele lewe al lanlal vernietig deur sy siek denkwyse, maar nou laat hy ñ getraumatiseerde onskuldige kind agter met letsels in haar ingebrand vir ewig

Celeste Smith ·

10/10 Mnr Masango van NotInMyName beweging. Dit gaan oor “JUSTICE” – nie politiek of ras nie. Moet so wees in elke saak….elke keer met in ag neming van elke slagoffer.

Tascha ·

Ek stem 100% saam! Ras is nie veronderstel om hier in ag geneem te word nie. You do the crime you do the time.

se net ·

Ek voel dat mense wat lyk of hul n politieke party ondersteun moet uit die hof gehou word.
Maar ja, ek kan eerlik nie dink wat iemand so iets laat doen nie en regtig daar is geen versagtende omstandighede nie.
Die ouma kry ek so bitter jammer. Wonder waar is die ma?

ES ·

Wat meeste van hierdie “liga’s” nie verstaan nie, is dat die hof, vordat die vonnisverrigtinge plaas kan vind, moet sit en besluit wat die gepaste straf vir hierdie skuldigbevinding moet wees.

Daar is ‘n kans dat hy selfs langer as lewenslank kan selfs al word sy vonnisse samelopend uitgedien. As hy op twee aanklagtes van verkragting skuldig bevind word (want hy het haar twee keer verkrag) kan die hof beslis dat die twee vonnise nie samelopend uitgedien word nie. Dan kan hy selfs tot 50 jaar tronkstraf kry.

Ons sal sien wat beslis die hof.

kolla ·

Lewenslank beteken lewenslank. Die feit dat ‘n veroordeelde wat lewenslank gekry het na 25 in aanmerking kom vir parool (gaan nie noodwendig toegestaan word nie), beteken nie sy vonnis is klaar nie. Hy gaan vir die res van sy lewe onder streng paroolvoorwaardes onderworpe wees al word hy nie meer in die tronk aangehou nie.

Niklaas ·

Dis steeds moeilik om te lees van ‘n jongmens wat so ‘n noodlottige besluit neem. En daarmee onherroeplike skade verrig aan die jong meisie se menswees en natuurlik sy eie toekoms so opfrommel. Hy sal sekerlik swaar tronkstraf kry. Sy arme ma en ouma.

Petro ·

Stem saam met jou. Wat het hom besiel? Daai arme dogtertjie… Haar ma… En dan sy eie familie ook. Almal is so getraumatiseerd. Hy moet sit… Lewenslank.

Jollie ·

Pornografie, Drank en Dwelms, En om te dink ons was eens op n tyd n trotse nasie met sterk morele waardes, daar was wel donker dinge wat sommiges gedoen het, maar nie tot die uiterste veralgemening van vandag se norme nie.

Ansie ·

Siek storie… enigste ligpunt vir my, sover is die vrou van die vroueliga wat by sy ouma gaan sit het. Soveel mense kry seer in so storie.. veral die dogtertjie. Hoop die saak kan tot swaarder strawwe lei vir pedofiele…want in SA …voel dit vir my..kry hulle net n klap op die hand…veral wanneer dit n seuntjie is wat mishandel word. Tandarts van George .. Hewitt net om 2 voorbeelde te noem. Stop pornografie…dan sal die goed ook minder raak!!!!

spearhead ·

die mense wil met opruiende uitprake kyk of hulle nie dalk die regter so kan beinvloed om sy uitspraak streker te maa as wat dit op sy eie sou wees nie. Laat die reg sy gang gaan en los die howe. Hulle wil duidelik politieke gewin versterk.

potlood ·

Kom ons kyk net gou bietjie na hierdie saak uit ander rigting. Hoor my asseblief want so kwaad soos ek is vir wat hy gedoen het, sien ek agendas oor ras.
is dit nie darem snaaks hoe vinnig hierdie saak hanteer is nie. Lewenslank vir WAT? Daar is moordenaars wat vir JARE nie gevonnis word nie en daarna steeds nie dieselfde straf ontvang nie. Daar is 56 moorde in hierdie land Elke Dag.
Wat is volgende, lewenslank vir wit persoon wat op jou toon trap? Maar jy kan maak nes jy wil.

emily ·

Hy is klaar skuldig bevind, Hoekom moet daar nou gewag word tot middle Oktober voor hy gevonnis word. Dit is regtig belaglik. Die kind en haar ouers wil ook aangaan met hul lewens. Nou draai dit, Maar dis tipies hoe die howe werk. Sake moet altyd sloer.

Phillip ·

Dit was sy eerste oortreeding ek hoop so kan vrae vir ligtervonns sal maar kyk

Anna ·

Dit is hartseer vir almal. ‘n Jong man wat sy lewe verwoes, sy ma en Ouma se lewens is ook verwoes. ‘n Klein dogtertjie wat hoplik darroor sal kom.
Ek wonder net of ‘n swart man dieselfde vonnis sou geky het. Daar is daagliks swart mans wat swart kindersv verkrag, maar dit gaan net verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.