Hofaansoek vra deursigtigheid oor geld vir politieke partye

Deur Tania Broughton, GroundUp

(Foto: Reint Dykema)

Die organisasie My Vote Counts (MVC), wat ten doel het om Suid-Afrika se kiesstelsel te hervorm, het ’n hofaansoek ingedien om groter deursigtigheid oor geld wat aan politieke partye geskenk word, te verseker.

Die organisasie hoop om die proses vir die openbaarmaking van partyfinansiering te hervorm om teen korrupsie en staatskaping te waak, asook om te verhoed dat politieke guns deur skenkings gekoop word.

MVC vra vir ʼn bevel dat dele van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye en van die regulasies vervat in dié wet – wat op 1 April 2021 in werking getree het – ongeldig en ongrondwetlik verklaar word. Volgens die organisasie versuim die wet om politieke partye te dwing om alle private skenkings te verklaar en om doeltreffende beheermaatreëls oor private finansiering aan politieke partye in te stel.

In die aansoek, wat Dinsdag by die hooggeregshof in die Wes-Kaap ingedien is, sê Minhãj Jeenah, MVC se uitvoerende direkteur, hul doelwit is om die “demokrasie te versterk deur betekenis aan grondwetlike waardes soos deursigtigheid, openheid en verantwoordbaarheid te verleen”.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. (Argieffoto)

Ingesluit by die reg om te stem is “ook kiesers se reg om toegang te hê tot inligting om stappe te doen teen die onbehoorlike invloed wat private belange [of dan diegene wat skenkings doen] oor verkose verteenwoordigers of politieke partye kan uitoefen”.

Volgens Jeenah skiet die wet ook tekort op ander gebiede:

  • Die openbaarmaking van ʼn enkele of verskeie skenkings deur dieselfde skenker is tot bedrae van meer as R100 000 beperk.
  • Die wet reguleer nie kumulatiewe skenkings deur skenkers wat aan mekaar verwant is nie.
  • Dit bemagtig politieke partye om private, direkte skenkings tot ʼn buitensporige bedrag van R15 miljoen te aanvaar.
  • Die wet vereis slegs van regspersone [bv. korporasies] om skenkings bo dié drempel te verklaar.

Die eerste respondent in MVC se hofaansoek is pres. Cyril Ramaphosa, terwyl ander rolspelers soos die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en alle politieke partye met setels in die parlement ook as respondente aangedui word.

Jeenah sê in sy beëdigde verklaring die voorgeskrewe drempels is arbitrêr en onredelik hoog.

Dit beteken dat mense in die duister is oor hoeveel skenkings gedoen is, hoe solvent en likied ʼn party is, en tot watter mate skenkings ʼn party se platform beïnvloed.

Kleiner skenkings maak ook saak

“Ons weet byvoorbeeld nie of die ANC of DA die meeste van hul finansiering van klein skenkers of groot maatskappye ontvang nie. Dit is dus nie redelik moontlik om die invloed te meet wat groot individuele skenkers kan hê nie.

“Selfs as ʼn limiet van R100 000 grondwetlik was, is dié drempel te hoog en kan skenkings ver onder dié limiet moontlik ʼn deurslaggewende uitwerking op politieke besluitneming hê,” het Jeenah gesê.

Boonop het net 12 van die 1 540 geregistreerde politieke partye enige skenkings verklaar sedert die wet in werking getree het.

“Hierdie partye ontvang dus geen skenkings nie, of hul skenkings is onder die drempel. ʼn Skenking onder R100 000 sal beslis belangrik vir hul bedrywighede wees. Sonder algehele deursigtigheid sal kiesers egter nie kan bepaal wat belangrik is en wat nie.”

Jeenah sê afgesien van die ANC en die DA, wat miljoene rand se skenkings ontvang, is dit noemenswaardig dat die EFF – ʼn politieke party wat 53 van die 400 setels in die parlement beklee – net twee skenkings bo R100 000 ontvang het. Hierdie skenkings beloop saam R352 000.

Hy sê selfs ander kleiner politieke partye wat skenkings van meer as R100 000 ontvang het, het saam nie veel meer bo hierdie drempel ontvang nie.

“Dus sal kleiner skenkings beslis baie belangrik wees vir dié partye en moontlik ook hul beleid. Kleiner skenkings kan ook ʼn groot invloed op hierdie partye hê.”

Volgens Jeenah sal skenkings onder R100 000 egter belangrik wees vir enige party, insluitend die DA, ANC en ActionSA, en dit moet dus verklaar word.

“Gedurende die 2021‑’22-boekjaar het sekere politieke partye byvoorbeeld groot gedeeltes van hul private finansiering uit skenkings onder die voorgeskrewe drempel ontvang.

“Die ACDP het R255 817 aan skenkings bo die drempel ontvang, maar ʼn totaal van R550 991 se skenkings onder die drempel. Die DA het R47 895 770 in skenkings bo die drempel ontvang, en ’n aansienlike bedrag van R17 350 810 in skenkings onder die drempel. Die IVP het R787 588 in skenkings bo die drempel ontvang, maar R1 600 054 in skenkings onder die drempel.”

Jeenah sê voorts daar is geen bewys dat die R100 000-perk deur enige navorsing vasgestel is nie.

Die limiet kan dus deur ’n meerderheidsbesluit van die Nasionale Vergadering verander word, wat tot politieke misbruik kan lei. Die ANC het boonop reeds aangedui dat hy van voorneme is om die drempel vir openbaarmaking tot R500 000 te verhoog.

“Net so is die drempel van R15 miljoen vir skenkings van ’n enkele persoon buitensporig en onregverdig hoog en slaag dit nie om die risiko te verlaag dat politieke partye deur private belange voorgeskryf word nie.”

Jeenah sê daar was verder ook geen beperkings op skenkings deur verwante persone of entiteite nie, “wat die limiet eindelik sinneloos maak aangesien sakepersone en mense maatskappye, selfs rakmaatskappye, kan stig”.

Motsepe as voorbeeld 

Jeenah het die sakeman Patrice Motsepe as voorbeeld gebruik, wat deur middel van verskeie entiteite in sy besit miljoene rand aan die ANC geskenk het – en sodoende die hoogste drempel van R15 miljoen omseil het.

“Die hoogste drempel vir entiteite en individue met groot rykdom en invloed, soos mnr. Motsepe, is dus slegs beperk tot die aantal entiteite of maatskappye in hul besit.

“Dit gee welgestelde private skenkers die onbehoorlike vermoë om politieke partye te beïnvloed, en laat die deur wawyd oop vir private belange om die rigting van politiek te bepaal. Dit terwyl die doel van skenkings bloot is om te verseker dat Suid-Afrika ʼn politieke diskoers het.

“Die geslepe invloed wat groot korporasies en welgestelde individue kan uitoefen, is ’n bedreiging vir demokrasie. Dit skep ook ruimte vir korrupsie om verder uit te kring.”

Jeenah sê My Vote Counts vra nie vir die algehele opheffing van private finansiering nie, maar vir meer deursigtigheid.

“Dit is noodsaaklik dat alle politieke partye verplig word om vir openbare en private skenkings verantwoording te doen en ’n volledige verklaring van hul uitgawes te verskaf om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker.”

Die parlement moet 12 maande gegun word om die wet te wysig en intussen vra MVC ʼn bevel dat die R100 000-drempel dadelik geskrap word.

Die respondente het 15 dae om aan te dui of hulle die aansoek gaan teenstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lillian ·

Hoekom moet ons geld gemors word op politieke partye? As jy nie fondse het nie, is dit nou probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.