Hofdatum vas vir VBS-‘plunderaars’

Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle meer as R2 miljard van VBS-bank geplunder het. (Argieffoto)

Altesaam 14 verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle meer as R2 miljard van VBS-bank geplunder het, se verhoor sal in Oktober amptelik begin.

Die verdagtes het Maandag in die Pretoria-hooggeregshof verskyn.

Lumka Mahanjana, streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Pretoria, het Maandag gesê dat die saak tot 12 Oktober uitgestel is.

“Die regter het die beskuldigdes gevra om met hul regsverteenwoordigers te kommunikeer en seker te maak dat die saak gereed is om voort te gaan.”

Maroela Media het vroeër berig dat sewe verdagtes reeds in Maart vanjaar in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in die Palm Ridge-landdroshof verskyn het, nadat hulle deur die Valke se eenheid wat ernstige korrupsie ondersoek in hegtenis geneem is.

Die verdagtes is Mulimisi Maposa, ʼn algemene bestuurder by VBS, verantwoordelik vir kredietfasiliteite; Mmbulaheni Madzonga, voormalige VBS-bedryfshoof en uitvoerende hoof van Vele Investments;  Kabelo Matsepe, ʼn kommissie-agent en voormalige ANC-jeugligaleier in Limpopo; Mamphe Msiza, ʼn ANC-tesourier in Limpopo; en drie kommissie-agente, Ralliom Razwinane, Takunda Mocheke en Tshianeo Madadze. Nóg drie verdagtes het in Junie vanjaar in die hof verskyn vir hul beweerde aandeel in die plundery van die bank.

Kol. Katlego Mogale, die Valke se woordvoerder, het destyds gesê die verdagtes staan gesamentlik tereg op 188 aanklagte insluitend diefstal, korrupsie, geldwassery en swendelary.

Die voormalige finansiële hoof van VBS-bank, Phillip Truter, is tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig gepleit het op aanklag van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pietertjie ·

En die saak gaan uitgestel word weens een of ander skuiwergat-rede. Stalingrad van voor af.

Elize ·

Ja nee ek sien nie Shivambu en Malema se name daar nie???????????

Pieter ·

Met die land se regstelsel sal nie een van hulle tronk toe gaan nie.

JohanR ·

Julius Malema en Floyd Shivambu sal nie tussen die 14 wees nie!?!?!?

KB ·

Interessant wie reeds skuldig bevind is, en wie nog net aangekla is. Dit ruik nie lekker nie.

SjN ·

Die regsmense het uitstel van sake vervolmaak, tegniek word as skuiwergat gebruik om misdadigers te beskerm.

Elize ·

Mal Emma gebruik sy “puppets” om vir hom in te staan en sal niks oorkom nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.