Hofoorwinning vir Musina-sakelui oor elektrisiteit

(Argieffoto)

Twee jaar nadat die eerste regstappe gedoen is om te verhoed dat Eskom elektrisiteitsvoorsiening in Musina in Limpopo onderbreek, het Sakeliga eindelik ’n kostebevel in die Gautengse hooggeregshof bekom.

Die sakeorganisasie sal nou die geld van die kostebevel gebruik ter bevordering van sy regstrategie om suksesvolle plaaslike sakegemeenskappe te verseker.

“Hiervoor is betroubare elektrisiteit ’n vereiste,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Ons kan nie toelaat dat elektrisiteit na betalende gebruikers onderbreek word en hulle ekonomies gyselaar gehou word, net omdat een staatsorgaan nie sy rekeninge by ’n ander staatsorgaan betaal nie.”

Sakeliga het in 2018 besluit om Eskom in die hof te pak nadat die kragvoorsiener kennisgewings uitgereik het dat elektrisiteit na alle gebruikers in Musina, onder wie betalende sakelui, afgeskakel sou word weens die plaaslike munisipaliteit se versuim om gelde aan Eskom oor te betaal.

Sakeliga het in samewerking met plaaslike sakelui ’n aansoek by die hof ingedien om die besluit te laat hersien en ongeldig te laat verklaar.

Le Roux wys daarop dat dít die eerste geslaagde toetrede deur Sakeliga was om te keer dat Eskom elektrisiteit van betalende sakelui en ander gebruikers weerhou.

Regsargumente wat tydens dié saak ontwikkel is, het sedertdien die weg vir verdere sukses gebaan, waaronder die uitspraak deur die hoogste hof van appèl in die saak tussen Resilient Properties en ander teen Eskom en die eMalahleni-munisipaliteit.

Le Roux sê danksy hierdie uitspraak brand ligte tans in dorpe landwyd aangesien dit verhoed dat Eskom die elektrisiteit na plaaslike gemeenskappe weens munisipale wanbetaling afskakel.

Eskom het wel reeds appèl teen die bevel aangeteken, maar Sakeliga sal weer toetree om betalende sakelui en ander gebruikers te beskerm, sê Le Roux.

Le Roux sê Sakeliga wil die struktuur van elektrisiteitsvoorsiening in die land verander. “Benewens ons verdere rol in die Resilient-saak werk ons regspan tans ook aan verdere litigasie. Dit is nie genoeg om Eskom bloot te verhoed om elektrisiteit af te skakel nie – ons moet by ’n volhoubare oplossing kom. Die volgende stap is om te verseker dat betalende gebruikers se gelde aan Eskom oorbetaal word, en nie verdwyn in die koffers van mislukkende munisipaliteite en korrupte amptenare nie. En uiteindelik moet verbruikers by enige verskaffer – en nie net Eskom nie – direk elektrisiteit kan koop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Welgedaan Sakeliga. Dis maar die pad vorentoe: Ons SAL SELF!

Aikie ·

Ek stem saam dat die Sakeliga self kan voortgaan, maar nou moet hulle en Eskom saamstaan en daardie onbevoegde (lelike woord) in die munisipaliteit aanvat in die hof. Dit is hulle wat verantwoordelik is vir die wanbetaling en dat Eskom in so ‘n benarde posisie is.

Yvonne ·

Die staats organisasie , munisiepaliteite etc…verdien sulke astronomiese salarisse ..daar is net nie geld oor vir enige dienste en rekenings nie….hoe dink die ANC regering…of beter..hulle dink nie…word mal as hulle geld sien

akkedismis ·

Aan al.al wat nou huise bou,sit sonpanele op jul dakke.Dit is n wen wen situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.