Boere in die Suid-Kaap gebruik gespesialiseerde hommeltuigtegnologie in ʼn poging om indringerplante en -bome op die Outeniekwaberge uit te wis.
“Die beskikbaarheid van hommeltuigtegnologie wat aangepas is vir die vervoer van onkruiddoder om oor die mees aangetaste gebiede te spuit, het ons gered,” sê Morné Jonker, ʼn boer in Kammanassie.
“Hommeltuigtegnologie is vir ons uiters bekostigbaar, gegewe die omvang van die probleem en dié dat indringerplante en -bome langs steil berghange en ontoeganklike riviergebiede is. Dit is ook uiters doeltreffend en akkuraat in die toepassing daarvan.”
Die nuwe saailinge wat begin groei het ná die 2018-Outeniekwa-veldbrandramp het boere die geleentheid gebied om die verspreiding van dié plante en bome finaal te bekamp.
“Ons beste kans om te voorkom dat hierdie bome volwassenheid bereik, is deur middel van ʼn geskikte onkruiddoder wat deur die hommeltuig versprei word,” sê Jonker.
“Vir die afgelope vier dekades sukkel die suidelike en noordelike hellings, asook die piek van die Outeniekwaberge met die aggressiewe verspreiding van indringerplante en -bome, veral wattel- en dennebome,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaapse Grondeienaarsinisiatief (SKG).
Dié plante en bome het ʼn direkte verwantskap met die afname in ondergrondse waterbronne en het reeds watergebruikers in Kammanassie- en Olifantsrivierstelsels nadelig beïnvloed. Riviersisteme in dorpe soos Oudtshoorn en Calitzdorp het óf heeltemal opgedroog óf onderpresteer.
Boere aan weerskante van die Outeniekwaberge werk nou saam met SKG in ʼn gesamentlike poging om streeksrivierstelsels te rehabiliteer om biodiversiteit te hervestig en te bewaar.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Dit kan ook gebruik word om aanvallers tydig op te merk…
Kan mens nie ander indringers ook bespuit nie…? Met gloei verf soos die wat bank note het nie?