Hond gevind ná ongeluk wat Tukkie eis

Annien Müller en haar kêrel, Reino von Wielligh, by hul hond, Xara. (Foto: Verskaf)

Die hond wat Sondag ná ʼn ongeluk op die N14-snelweg naby Lanseria weggehardloop het, is Vrydag veilig opgespoor.

Xara, ʼn swart pointer, behoort aan wyle Annien Müller (22) en haar kêrel, Reino von Wielligh (29).

Müller en Von Wielligh het Sondag in afsonderlike voertuie na Pretoria gery nadat Müller se tweelingsussie Saterdag in Potchefstroom getrou het. Xara was in Von Wielligh se motor en het weggehardloop nadat sy voertuig gerol het.

Müller, wat stilgehou en uitgeklim het om Von Wielligh te help, is dood nadat nóg ʼn motor op die nat pad gegly en haar getref het.

Nadia en Ross du Plessis by Xara kort nadat sy gevind is. (Foto: Verskaf)

’n Groot soektog is ná afloop van die voorval na Xara van stapel gestuur, en ʼn WhatsApp-groep, “Search for Xara”, het binne enkele dae tot meer as 240 lede gegroei.

 

Von Wielligh se suster, Nadia du Plessis, en haar man, Ross, het Vrydagoggend van Potchefstroom na Gauteng deurgery ná ʼn boodskap op dié groep dat iemand ʼn hond wat aan Xara se beskrywing voldoen, gesien het.

Kort nadat hulle sowat 10:00 in die omgewing aangekom het, het hulle haar met behulp van ’n plaaslike inwoner in ʼn oop stuk veld sowat 6 km van die ongelukstoneel aangetref.

“Sy het waarskynlik in die gras gelê vir skuiling. Ek dink sy het ons stemme herken, want toe ons na haar uitroep, het ons net ʼn klein swart gesiggie tussen die lang gras sien opkom.

“Ons was so bly.”

Ross het oor die draadomheining geklim en Xara tussen die gras gaan optel.

Du Plessis sê Xara was eers effens sku, maar het gou besef dat sy nou “veilig en oukei” is.

Hulle het dadelik vir haar kos en water gegee, wat sy gretig geëet en gedrink het.

Von Wielligh is tans in Jeffreysbaai en het nog nie self vir Xara gesien sedert sy opgespoor is nie.

“Hy is ekstaties.

Nicholas Meldau van die Woodrock-diereorganisasie saam met Ross en Nadia du Plessis en Xara. (Foto: Verskaf)

“Ek dink ook dit bring aan hom die laaste bietjie hoop wat hy nodig het om hom deur hierdie moeilike tyd te help,” het Du Plessis Vrydag aan Maroela Media gesê.

Xara is intussen deur ʼn veearts by die Woodrock-diereorganisasie, wat ook op die toneel was toe sy gevind is, ondersoek. Sy is nie gedehidreer nie en buiten ʼn skrapie op haar ooglid het sy ook nie enige beserings opgedoen nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Perdeby ·

ek is bly die hond is gevind nou kan MM ook tot ruste kom!

Anton ·

Shame, dink dit sal darem klein bietjie help met die pyn. Sterkte aan die familie en vriende.

JL ·

Ag hoe bly is ek nou. So gebid die diertjie word gevind en herenig met haar bekendes.

Onnie ·

Dit maak my hart soooo bly. Darem n bietjie geluk by die ongeluk, bietjie vreugde by die hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.