Honderde afleggings dreig by Denel

Na etlike taai maande, kan aflegging sommige Denel-werkers nou in die gesig staar. (Foto: Maroela Media)

Talle Denel-werkers wat die afgelope paar maande ʼn nagmerrietyd agter die rug het weens die ongereelde en onvolledige betaling van hul salarisse, moet hulle nou boonop staal vir moontlike afleggings.

Denel is besig met ingrypende veranderings om die sukkelende wapenvervaardiger weer in ʼn winsgewende entiteit om te skakel. Hy beoog nou om tot ʼn derde van sy permanente werkerskorps van sowat 1 800 mense af te lê.

Mike Kgobe, tussentydse hoof van die wapenvervaardiger, stippel in ʼn brief die beoogde herstrukturering van Denel uit. DefenceWeb berig die brief verduidelik hoe die beoogde herstrukturering gaan lei tot ʼn verlaging in die maatskappy se algehele kostebasis, die verbetering van bedryfsdoeltreffendheid en ʼn “moontlike verlaging” in personeel in alle afdelings.

In die geheel kan 663 Denel-werkers by die maatskappy se ses verskillende afdelings afgelê word.

Derek Mans, sektorkoördineerder van verdediging by Solidariteit, sê die briewe wat geraakte werkers ontvang het, is generies en verklap nie veel oor hoe die operasionele plan in werking gestel gaan word nie. Hy sê elke afdeling se organogram sal ontleed moet word om te bepaal presies hoe die nuwe struktuur daarna gaan uitsien.

Omdat meer as 50 werkers geraak word, moet Denel aansoek doen by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vir die aanstelling van ʼn kommissaris om die proses te fasiliteer. Die maatskappy het dit reeds gedoen en twee kommissarisse is aangewys.

Die konsultasieproses sal na verwagting op 19 September afskop. ʼn Afleggingsdatum van 1 Oktober is voorgestel, hangende die afhandeling van alle konsultasieprosesse, het DefenceWeb berig. ʼn Skeidingspakket gelykstaande aan ʼn week se vergoeding vir elke diensjaar is glo ook op die tafel.

Mans sê Solidariteit gaan besonderhede aanvra oor elke afdeling en dit ontleed sodat die proses en die inwerkingstelling van die nuwe plan behoorlik begryp kan word. Die vakbond soek ook presiese besonderhede oor hoe elke werker geraak gaan word voordat daar enigsins oor afleggings, alternatiewe of pakkette gepraat kan word.

Hy sê Solidariteit sal, soos nodig, ook ander instansies soos Helpende Hand of Solidariteit Finansiële Dienste mobiliseer om werkers by te staan en kan ook sy beroepsnetwerke inspan om te help. Hy het dieselfde gedoen in die tydperk wat talle werkers nie hul volle salarisse gekry het nie.

“In hierdie stadium moet ons eers daarop konsentreer om die plan te verstaan. Die proses maak voorsiening vir die reg op toegang tot inligting; ons het die reg om daarvoor te vra en die magte van die kommissarisse in die proses is van so aard dat hulle kan besluit oor daardie toegang. Die beslissing het dieselfde gesag as ʼn hofbevel.”

Mans sê Denel is deurlopend op die nasionale agenda en Solidariteit gaan verseker dat daar gestruktureerd te werk gegaan word sodat geregtigheid binne enige afleggingsproses sal geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Witbaard ·

Omdat hulle bestuur te sleg is om n eens vooruitstrewende maatskappy ordentlik te bestuur. Geleenthede om die maatskappy uit te bou, klop aan hulle voordeur, maar onkunde verhoed hulle om dit raak te sien. Nou gaan nog meer kundiges afgelê word, wat die situasie verder gaan verswak.

Henry ·

Denel was so winsgewend gewees onder die ou bedeling. En toe kom die anc oorvat.

Sarel ·

Wie kan ‘n Maatskapy vertrou wat nie sy werkers se salarisse betaal nie?

Hennie ·

Was net n kwessie van tyd gewees voordat afleggings sou plaasvind. Die sogenaamde oorwinning om agterstallige salarisse te kry was van korte duur….

Kobus ·

My hart krimp ineen vir die werkers. Wat gebeur met die direkteure wat verantwoordellik is vir die ineenstorting van Denel. Waarom is daar nie hulp van die regering soos met SAL nie? Is daar ‘n wet wat landsburgers die reg gee om ‘n regering te dagvaar vir die plundering van ‘n land?

Althes ·

Dalk kan hul die direkteure penaliseer vir swak prestasie en hul die werkers sodoende vergoed deur gedeeltes van hul vergoeding aan werkers af te staan. Seker maar wishful thinking.

Swerwer ·

Doen dit nou net en kry klaar. Die lang uitgerekte sage knou net al hoe meer mense se lewens kwaliteit.
Geen mens kan 100% funksioneer en pligte ten volle uitvoer solank daar ‘n swaard oor jou kop hang dat jy jou werk gaan verloor nie . Dit tap jou emosioneel en jou gesondheid ly daaronder. Jy doen jou bes en moet ten spyte van alles toesien hoe bestuur net erger kat spronge maak.

Piet parys ·

Het mos geweet dit is net nog n kwessie van tyd dat daar afleggings gaan wees maar dit sal nie die laaste wees nie . Denel bestuur sal maar net die proses uitrek totdat hulle pensioen gebou is en hulle lekker dik en vet kan aftree. Dis n kwessie van SKEP SKEP EN SKEP en nie om n suksesvolle
Besigheid te bestuur nie .

Althes ·

Wie moet ons bedank vir die verval? Zuma en sy ANC kaders?
My innige simpatie aan diegene wat hul werk gaan verloor. Ek hoop en bid en glo en vertrou daar sal deure oopgaan. By die Here is als moontlik.

Fran ·

Die rede vir alle verval in hierdie land: Die vuil, stink vingers (ANC) wat nie hulle hande uit die geldkas kan hou nie.

SwartBees ·

Ek voel hulle kan maar denel se deure toe maak. Hoe hartseer dit ook mag wees is dit n realiteit dat dit ons belasting betalers nog baie gaan kos. Ek voel baie jammer vir die mense wat nog daar werk, geen mens verdien die onsekere omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.