Hoofroetes in Kaapstad oopgestel

Die strate in Kaapstad was Dinsdagoggend stil (Foto: Peché Africa/Twitter)

Die situasie in Kaapstad was Dinsdagoggend veel rustiger nadat chaos die vorige dag nog geheers het weens die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se voortslepende en gewelddadige staking.

Die hoofroetes in en om Kaapstad was Dinsdagoggend oop en verkeer het soos gewoonlik gevloei.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid vir die Kaapstad-metro, is daar ’n klein groepie stakers by die Masiphumelele-nedersetting bymekaar en inwoners daar is verhoed om werk toe te gaan.

“Die stad se verkeersdienste, metropolisie en wetstoepassingsowerhede het bykomende ondersteuning by wyse van die metropolisie se taktiese reaksie-eenheid met pantservoertuie gestuur,” sê Smith.

Stakers het vroeër motors in Dunoon met klippe bestook, maar polisiebeamptes het hulle gou in hul spore gestuit.

Die stad het Maandagaand ’n hofbevel in die hooggeregshof in die stad bekom teen die geweldpleging wat met die taxi-staking gepaardgaan.

Die bevel bepaal dat geen mens, voertuig, taxi of bestuurder enige voertuig op enige openbare pad in die metropool onbillik mag versper, daarmee inmeng of op enige manier blokkeer om passasiers te beseer of die vloei van verkeer te verhinder of te vertraag nie. Die interdik verbied voorts enigiemand om in te meng met die bedryf van enige vervoerdepot.

Teen Maandagaand is 44 mense reeds in verband met die staking aangekeer.

Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, sê onderhandelings met Santaco het vroeg Dinsdagoggend plaasgevind en sal later vanmiddag hervat.

Die Wes-Kaapse regering probeer al sedert verlede week met die leierskap van Santaco onderhandel om die staking te beëindig.

“Ons wil mense by die werk en kinders by die skool kry,” het Mackenzie gesê.

Santaco het sy misnoeë te kenne gegee oor die geweld wat weens die staking die afgelope paar dae aan die orde van die dag in Kaapstad was.

“Ons is gegrief oor die publiek se persepsie dat ons wetteloos is. Wettelose gedrag wat voorgekom het, was stakers en nie ons lede nie,” sê die raad. “Ons werk hard om oplossings te vind.”

Santaco het sy lede gevra om vreedsaam met betogings voort te gaan wat sal voldoen aan die vereistes van die hofbevel wat gister aan die stad toegeken is.

Kragdienste onttrek

Eskom is Maandag genoop om kragdienste in sekere gebiede te onttrek wat deur die staking geraak is. Die kragvoorsiener het sy werkers opdrag gegee om nie die geraakte gebiede binne te gaan nie.

“Ons wil nie ons personeel se veiligheid in gedrang bring nie,” het Eskom oor die besluit gesê.

Afgesien van Khayelitsha, Delft, Belhar, Dunoon, Philippi en Fisantekraal, is die onttrekking van dienste ook na Bloekombos en Wallacedene in Kraaifontein, Witsand in Atlantis, Plettenbergbaai en Worcester uitgebrei.

“Dit sal ongelukkig die hersteltye van kragprobleme na hierdie gebiede beïnvloed. Sodra die gebiede veilig verklaar is, sal operateurs uitgestuur word om met hul werk voort te gaan.”

‘Geweld nie die oplossing’

Die Alliance of Citizens for Change (ACC), ʼn politieke party, sê ’n onafhanklike bemiddelaar moet aangewys word om verdere spanning te help verlig en werksverliese en ongevalle te voorkom.

“Terwyl die ACC die voortdurende frustrasie van die taxi-operateurs oor die bevooroordeelde en onregverdige behandeling deur die stad verstaan, is die oplossing egter nie om met geweld daarop te reageer nie,” sê Masizole Mnqasela, president van die party.

Knysna United het ook die sporadiese gewelddadige optrede wat in Knysna uitgebreek het, veroordeel.

“Ons glo dat alle mense en organisasies ingevolge die Grondwet die reg op vreedsame protes het en verstaan dat Santaco en die taxiverenigings in Knysna dieselfde reg het.

“Hierdie organisasies het egter nie die reg om mense te intimideer, te teister en te misbruik wat omgee vir hul eie sake en net vir hul gesinne wil voorsien nie. Hulle het nie die reg om mense met geweld te dreig en om mense met geweld uit private voertuie te verwyder nie.

“Hulle het nie die reg om werkers met geweld van werkvervoer te verwyder nie,” sê die organisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

George ·

Gee my een goeie rede hoekom daar altyd geloot word maak nie saak wat nie. Taxi staking, looting. Uber staking, looting. Wereld beker parade, looting. Enige iets is n verskoning vir looting.

Kirst ·

Want anders moet jy betaal vir ‘n TV/yskas. Met geld. Waarvoor jy moet werk…

efjy ·

As iemand staak omdat hy ontevrede is oor omstandighede om sy plig uit te voer, dan bly hy by die huis en lewer nie verder diens nie. Hy mag nie ander intimideer wat steeds wil werk nie. Hy mag nie die publiek met klippe gooi nie. Hulle het niks met sy omstandighede te doen nie. Hy mag ook nie toegangs roetes blokeer, of motoriste verhoed om geriewe te gebruik nie. Indien die taxi’s weer wil staak stel ek voor dat daar spesifieke parkeer areas vir hulle geskep word waar hulle hul voertuie kan parkeer so lank as wat hulle wil staak.
In so ‘n situasie sal ek hulle toelaat om te staak.

Richard ·

Soos die demografie van die Wes-kaap en spesifiek Kaapstad verander, sal hierdie tipe betogings net erger raak.

houopkruip ·

Stem saam.
Hierdie manne het hul mes in vir die wes kaap, om voor die hand liggende politieke redes.
Ongelukkighet die kapenaars hulle koppe te lank in die sand gesteek, en van mening was dat dit ‘n probleem is vir die Noorde.
My voorspelling is dat die wes kaap baie groter opstande, ens in die gesig staar as die Noorde – binnekort.
Die manne wil die wes kaap onregeerbaar maak.

Jackie ·

Kan iemand dalk die geagte nas min van vervoer inlig wat dit beteken om die wet van die land toe te pas. Onpadwaardige voertuie hoort nie op die pad nie.

Chris ·

Dit was ‘n georkestreerde proses wat van stapel gestuur is. Die Wes – Kaap moet ontwrig/intimideer en onregeerbaar gemaak word. Ek kan nie verstaan dat nie wetsgehoorsames die hele area kan intimideer en gyselaar hou nie. Skielik toe daar teen die bende opgetree word skree al wat jakkals en muishond is daarteen. Ons leef is georganiseerde anargie waarvan die meerderheid dit sover gedienstig en gedwee verdra. Pas op vir die dag dat iemand voet gaan neersit.

Strandloper ·

Dankie aan almal wat wet en orde handhaaf. Geregtigheid seevier altyd

Martie ·

Ek verstaan dit glad nie, Santago staak maar al wat leef en beef gooi klip en brand bande en steek alles wat voorkom aan die brand. Dan praat ek nie eers van die geweld op indiwidue en hulle voertuie nie. En raai wat soos altyd is die kinders vooraan in die linie want dan mag niks mos gebeur nie. Dan wil julle nog weet hoekom is SA so geweldadig, ouers maak hulle kinders so groot, as iets verkeerd is breek af en moor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.