‘Hou politiek uit Eskom-aanstelling’

Phakamani Hadebe het as hoof van Eskom bedank. (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n beroep op Eskom gedoen dat dié kragreus se nuwe hoof- uitvoerende beampte nie ’n politieke aanstelling moet wees en nie aan politieke inmenging onderhewig moet wees nie.

Dit volg nadat Phakamani Hadebe onlangs by die kragvoorsiener bedank het. Hy sal sy pos aan die einde van Julie ontruim.

Hadebe is net ʼn jaar gelede as uitvoerende hoof by Eskom aangestel. Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, wys daarop dat Eskom sedert 2007 reeds 11 hoofde gehad het. “Sulke onstabiliteit is deur sowel regstreekse as indirekte politieke inmenging veroorsaak en veral die skadelike termyne van politieke aanstellings, soos Brian Molefe, het Eskom as kritieke ekonomiese bate lamgelê,” sê hy.

“Eskom se werksmag het ook sedert 2007 met rasse skrede toegeneem en terselfdertyd weens regstellende aksie verswak terwyl hul inkomste en kragopwekking nie daarmee tred gehou het nie.”

Volgens Brink was Hadebe ’n goeie aanstelling, maar hy het steeds geen kans gestaan om ’n verskil te maak nie. “Eerstens het die minister van openbare ondernemings die finale sê oor belangrike sake by Eskom en hy moet ANC-beleid uitvoer en die party se vennote paai. Dan is daar ook ’n herstruktureringsoffisier aangestel om baie van Hadebe se pligte oor te neem en dalk selfs sy planne te stuit. Hadebe was dalk nie die beste tegniese aanstelling nie, maar hy het geweet Eskom is finansieel diep in die knyp en dat daar ’n verantwoordbaarheidskrisis by die kragreus is.”

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê Hadebe se opvolger sal tallose probleme hê. “Die uitdaging van verouderde kragstasies, verdere moontlike verliese van sowat R20 miljard in die laaste boekjaar, R419 miljard se skuld, ’n erge verlies aan kundigheid, enorme munisipale skuld aan die kragvoorsiener en broodnodige onderhoud, tel onder sommige van hierdie probleme,” sê hy.

“Hierdie persoon moet ’n gepaste tegnokraat wees en gelos word om sy of haar moeilike werk te doen om Eskom om te keer. Indien Eskom nie omgekeer word nie, sal pres. Cyril Ramaphosa se groeiplanne vir die ekonomie en werkskepping buitendien op niks uitloop nie.”

Maroela Media het vroeër berig Hadebe het tydens die aankondiging van sy bedanking gesê die pos as uitvoerende hoof van Eskom stel ongelooflike eise. “Dit het ongelukkig ʼn negatiewe uitwerking op my gesondheid gehad. In die beste belang van Eskom én my gesin het ek dus besluit om te bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Eskom sal heel laaste sink nadat Eskom eers die verbruikers gesink het. Dit is wat gebeur wanneer jy toelaat dat n sinkende skip nie alleen sink en klaar sink nie. Werkskepping en onregmatige bevoorregting vir kaders sal ongelukkig ook voortduur deur die ANC en werkersunies se herontplooiing strategie vir botallige werkers en dus sal ekonomiese groei vir die gewone burgers steeds onder druk bly.

Frikkie Geld en huis ·

Ek wonder wat is Eskom se skuld regtig, want van koerant tot koerant wissel dit tussen R417 miljard en R460 miljard.

Johan ·

Die ANC is tot dusver net in die politieke belange van hulleself gedink. Dan eers sal hulle miskien na landsbelang kyk as Escom vou. Die aanstelling sal in alle waarskynlikheid ‘n politieke aanstelling wees van iemand wat nie die nodige agtergrond het nie. Ek hoop maar sal verbaas wees as ‘n werklik kundige persoon aangestel word.

Elna ·

Hoekom het eskom nie al lankal die munisipaliteite aangevat oor die agterstallige skuld nie? Hoekom wil hulle nou eers daaroor huil en dit publiseer en n bohaai maak daarvan?Wie gaan moet opdok vir al daardie agterstallige skuld? Ek en jy wat belasting betalers is.

zoom zoom ·

Elna.
Eskom sal dit nie doen nie want ANC top 6 sal dit nie toelaat nie want dit gaan die ANC mislukkepaliteite in ‘ swak lig stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.