‘Hulle het nie vrae gevra nie, net geskiet’

Kyle is Sondag uit die hospitaal ontslaan (Foto: Verskaf)

’n Matrikulant van Randburg, Johannesburg, het koelkop gebly toe vyf gewapende mans op hom en sy vriende toegeslaan het, terwyl hulle vir hul matriekuitslae gewag het.

Kyle Tredoux (18) is in die regterskouer geskiet en volgens die dokters is dit ’n wonderwerk dat hy leef. As die koeël sy skouer sowat 1,5 mm dieper deurboor het, sou dit ’n hoofslagaar in dié jong man se arm getref het.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die groep mans wat Kyle en sy vriende aangeval het, met ’n kapingsindikaat in die Robin Hills-omgewing verbind kan word.

Kyle het so pas matriek aan die Hoërskool Randburg voltooi en het dié aand saam met sy vriende vir hul matriekuitslae – wat om middernag bekendgemaak sou word – gewag. Hulle het by Kyle se meisie, Juané Meintjies (18), se ouerhuis in Robin Hills, Randburg, gekuier.

“Ons het net voor 22:00 besluit om na ’n vulstasie – wat sowat 500 m van die huis af geleë is – te gaan om koeldrank en ys te koop. Ek en twee van my vriende het met Juané se ouers se motor gery. Juané en vier ander vriendinne het vir ons by die huis gewag,” vertel Kyle aan Maroela Media.

Toe die jong mans met hul terugkoms by die huis se hek stilhou, het ’n skoot geklap en die motor se ruit getref.

“Daar was ’n groot gat in die motor se ruit. Ons het nie geweet wat dit was nie. Ons het aanvanklik gedink ’n klip het die ruit getref.”

Die volgende oomblik het vyf gewapende mans die motor omsingel en geskree dat die jong mans moet uitklim. Die mans was met ’n 9 mm-vuurwapen en ’n .38 Special-rewolwer gewapen.

“Een van die vensters was oop en een van die mans het sy wapen teen my vriend se kop gedruk.”

Kyle is deur die motor se ruit geskiet (Foto: Verskaf)

Kyle het uit die motor probeer klim en toe hy sy voet van die rempedaal afhaal, het die motor vorentoe gespring. Dit is omdat die motor nog aangeskakel was.

“Die man wat aan my kant van die motor gestaan het, het met die .38 Special-rewolwer drie koeëls deur my ruit afgevuur, waarvan een my in die regterskouer getref het.

“Ek het vir my vriende gesê ons moet kalm bly en vir die mans gee wat hulle wil hê, aangesien ons lewe belangriker is. Ek het ook geweet ons moet nie probeer terugbaklei nie, want die mans was baie aggressief. Hulle het nie vrae gevra nie, net geskiet.”

Kyle het gesukkel om uit die motor te klim, waarna een van die mans hom toe gegryp en uit die motor gesleep het. Hy het hom beveel om op die grond te lê.

“Die man het geld en selfone geëis. Ek het vir hom gesê my beursie is in die huis en dat ek nie geld by my het nie. Hy het toe ’n skoot op die grond, langs my kop, afgevuur.”

Kyle vertel die man – wat steeds die vuurwapen teen hom gehou het – het toe vir die jong mans aangesê om te hardloop. Terwyl hulle op die huis afgepyl het, het daar weer vier skote in hul rigting getrek.

“Dis duidelik dat die mans met mening geskiet het. Die koeëls het die grond by ons voete getref, maar nie een het ons geraak nie.”

Die boewe het toe in die motor geklim, maar volgens Kyle kon hulle dit nie aangeskakel kry nie en het hulle sonder die motor laat spaander.

“Dis so asof iets bonatuurliks hulle skrik gemaak het. Ek glo dit was God se beskerming.”

Juané het Kyle se bloeding probeer stopsit en sy ouers, broer en die bure het kort daarna opgedaag.

“Daar was ’n groot gat in my skouerblad.”

Kyle Tredoux saam met sy vriend, JP Tubjan, en sy meisie, Juanè Meintjies (Foto: Verskaf)

Kyle is na die Life Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort gehaas. Die dokters het hom Saterdag geopereer om te sien waar presies die koeël sit. Hulle kan egter nie die koeël uithaal nie omdat dit op ’n baie moeilike plek sit. Die dokters sal sy bors-, skouer- en rugspier moet afsny om by die koeël uit te kom. Die hersteltyd sal dan ook heelwat langer wees.

Kyle is Sondag uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan. Hy moet oor sowat drie weke sy tasse pak om sy lewe as ingenieurstudent in Potchefstroom te begin.

“Ek verduur baie pyn, maar is ongelooflik dankbaar dat die aaklige gebeurtenis só afgeloop het. Ek kon dood gewees het. Die Here se hand was daardie aand oor ons. Hy het vir my ’n bonatuurlike kalmte gegee.”

Kyle vertel hy voel “orraait” en is nou meer skrikkerig as vantevore. “Ek let nou meer op oor wat rondom my aangaan.”

In dieselfde asem gee hy ook uiting aan sy dankbaarheid dat hy leef en hoe hy nou meer as ooit besef hoe kosbaar die lewe is.

Kapingsindikaat

Etlike ure ná die aanval op Kyle en sy vriende is Felix Gray (72) reg voor die Darrenwood-aftreeoord deur drie gewapende verdagtes oorval en doodgeskiet.

Volgens kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die verdagtes in Gray se swart Ford Fiesta gevlug.

Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met een van die bogenoemde voorvalle nie, maar Masondo sê die polisie oorweeg die moontlikheid dat die twee voorvalle verbind is en dat die verdagtes deel is van ’n kapingsindikaat in die omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

Dit sal ophou die dag wanneer die regewring n voorbeeld stel??? So glo ek.

Shakespeare ·

Dankie Jesus dat U die jongman deurgedra het. In die nuwe Suid Afrika het dit uiters gevaarlik geraak om in die nag op straat te wees maar dit lyk my daglig is net so gevaarlik want die kriminele weet dat die wet aan hulle kant is want jy mag jouself nie verdedig nie. CHAOS !!

Frank ·

Nou waar was die bure tydens die geskietery en geskree-ery?

Miskruier ·

So aanval gebeur in sekondes, meeste bure was seker al in die bed, moet deure, veiligheidshekke oopsluit. Miskien dalk nog n kluis om n wapen uit te haal. Hul sou nie uit lafhartigheid in hul.huise gebly het nie. So ken ek nie die Afrikaner.

Jill Hill ·

Hiekom word die 72 uur plan nie hier ingestel en die boewe gesoek nie!

Di ·

Vra dit! Seker omdat dit blankes was wat geskiet is – ons is mos niks werd vir hierdie korrupte spul nie

Mariana ·

Dankbaar dat die jongmans almal oorleef het, Sterkte aan Kyle vir spoedige herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.