‘Hy’s skuldig; dis vir my genoeg’

Natanya Pienaar (23). (Foto: Verskaf)

Dat haar verkragter ná sewe jaar uiteindelik deur ʼn hof skuldig bevind is, is vir Natanya Pienaar (23) van Mosselbaai “meer as genoeg”.

“Ek gee nie eintlik om wat verder gebeur en wat die vonnis behels nie. Hy is skuldig. My storie was nie ʼn leuen nie. Hy moet saamleef met dít wat hy gedoen het en die gevolge daarvan dra.”

Só sê Pienaar nadat die bejaarde Hermanus (Manie) Senekal verlede week in die Secunda-distrikshof in Mpumalanga daaraan skuldig bevind is dat hy Pienaar verkrag en onsedelik aangerand het. Sy was destyds ses jaar oud en ʼn leerder by die Byekorf-kleuterskool in Balfour, wat deur Senekal, ook ʼn voormalige laerskoolhoof, en sy oorlede vrou, Marie, bedryf is. Die skool is intussen gesluit.

Pienaar, wat nou as ʼn aktiwiteitskoördineerder by ʼn ouetehuis in Mosselbaai werk, sê sy het vrede in haar hart en het Senekal reeds vergewe.

“Ek is dankbaar dat die hof hom skuldig bevind het want dit bewys dat ek die waarheid gepraat het en dis vir my genoeg. Ek hoop dit sal ook as geregtigheid dien vir ander slagoffers wat nooit klagte teen hom kon of wou indien nie, en ook vir dié wie se sake nog steeds nie afgehandel is nie.”

Senekal het Pienaar in 2004 verkrag, maar sy het haar ouers eers nege jaar later daarvan vertel nadat die Senekal-egpaar in 2012 op 32 aanklagte van die seksuele misdrywe teenoor kinders in die Secunda-landdroshof verskyn het.

Pienaar sê sy het juis moed bymekaargeskraap om haar eie mishandeling aan te meld sodat sy nie net vir haarself nie, maar ook vir ander moontlike slagoffers geregtigheid kon nastreef.

Sy sê sy het boonop lank ná die voorval eers werklik besef wat met haar gebeur nadat sy ʼn TV-program oor kindermolestering gekyk het. Sy was ook bang om oor die voorval te praat aangesien Senekal haar glo gedreig het.

Luidens Pienaar se verklaring het Senekal haar op die betrokke dag na ʼn “pienk slaapkamer” op die perseel gelok onder die vaandel dat hy weer vir haar grondboontjies sou gee. Hy het haar hande en voete vasgebind en haar mond toegeplak. Nadat hy haar op die bed vasgedruk het, het hy die toue om haar bene losgemaak en haar verkrag.

Emosionele trauma en vergifnis

Pienaar en haar ma, Jenny (48), vertel dat sy na afloop van die voorval aan erge angs gelei het.

Haar pad na genesing was nie sonder uitdagings nie en sy het jare lank sielkundige en psigiatriese behandeling ondergaan om van die emosionele trauma weens die verkragting te herstel.

“Sy was ʼn krulkopdogtertjie wat altyd gelag het. Hy [Senekal] het haar glimlag probeer steel en haar menswees afgekraak – maar op die ou einde het hy gefaal.

“Sy het ʼn wonderlike persoonlikheid. Sy lag, sy sprankel en sy het baie vriende. Sy het eindelik nie toegelaat dat dit wat met haar gebeur het, haar terughou in die lewe nie. Dit was ʼn moeilike pad, maar ons is daardeur en sy het bo uitgekom. Sy het tot empatie met die man – want sy is nou gesond en sy het ten spyte van alles gegroei,” sê Jenny.

Pienaar sê dit was moeilik om mense, veral ouer mans, weer te vertrou. Sy was jare lank bang en depressief.

Sy sê egter hoe meer sy daaroor gepraat het, hoe makliker het dit geword om die gebeure te verwerk. Dit is ook haar raad aan ander.

“Weet net dat daar altyd mense gaan wees wat jou nie glo nie, maar ook mense wat jou sal ondersteun. As slagoffer dink jy ook dis jou skuld, dat jy iets verkeerds gedoen het, maar dis nie die waarheid nie. Jy het nie daarvoor gevra nie – en dis ʼn kopskuif wat ek ook moes maak. Nou is ek ook in ʼn posisie om ander te help en ondersteun.”

Pienaar sê dit is ook belangrik om te vergewe.

“Vergifnis maak jou vry. Ek koester nie meer ʼn wrok teen hom nie. Jy kan nie só lewe nie. Dis wel ʼn stryd waarmee ek jare lank geworstel het. Dit is egter haalbaar.”

Die gesin sê hulle is uiters dankbaar dat hy skuldig bevind is en geregtigheid geseëvier het.

Jenny sê sy hoop Senekal word vir die res van sy lewe uit die samelewing verwyder. Vir Pienaar is sy skuldigbevinding genoeg.

Jenny en haar man, Johan, het die hofuitspraak bygewoon en beplan om ook die vonnisoplegging by te woon. Hulle woon ook in Mosselbaai.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het nog nie op Maroela Media se navraag in verband met die saak gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Inge ·

Dit is ongelooflik hoeveel kinders deur hierdie gaan. Ek is bly dat hy skuldig bevind is en dat sy nou uiteindelik kan vrede kan vind. Sterkte voorentoe.

Chris dupreez ·

Baie braaf van jou om vorendag te gekom het, sterkte vorentoe, mag die man die straf kry wat hom toekom en nie gespaar word omdat hy nou oud is nie.

Toy ·

Iewers kom jou dade uit al is dit oor 10 of 30 jaar, dit sal jou iewers inhaal. Hy moet maar gaan sit, sy het dit nie verdien nie.

groenboer ·

Dit het my ook opgeval – miskien bedoel die berig sewe jaar nadat die klag gelê is? As ek reg onthou sê ‘n ander berig dat sy eers etlike jare na die insident haar ouers vertel het.

In ieder geval, daai omie se lewenstandaard gaan nou so bietjie val – SA se tronke is nie hotelle nie…

Niklaas ·

Vergeleke met tronke in Mosambiek , Rwanda ens sulke lande , het ons gastehuise vir tronke. Onthou hoe Carl Niehaus baklei en spook het om alles luukshede in die SA tronke in te bring ? Nou is min misdadigers afgeskrik deur die tronk gedagte.

Skappie ·

So jammer dat daar sulke goed met jong kinders gebeur. Sterkte met die pad vorentoe Natanya.

Hein ·

Hoe het die 6 jarige se ouers dit nie agtergekom nie. Iets is nie 10/10 nie

Deon ·

Die moeder behoort in die kind se klere te sien iets is nie reg nie, asook die kind se optrede

Zacahara ·

Hein, ek dink nie jy het regtig ‘n idee waarvan jy praat & wat ‘n 6-jarige in so ‘n trauma deurgaan nie.

Hein ·

As x polisie vra ek ‘n simpel vraag. Gedurende n verkragting word daar baie tekens agter gelos. As 6 jarige het sy seersekerlik nie haarself gebad nie of self aangetrek nie. My vraag is HOE het ouers dit nie agtergekom nie. Maak nie sin nie. Ek stry nie dat die verkragting plaasgevind het nie maar die feit dat ouers niks agtergekom het nie bevraagteken ek.

Zacahara ·

Baie trots op jou, Natanya, hoe jy hierdie aaklige trauma verwerk het. Sterkte met jou toekoms & baie seëninge op julle huweluk.

Wielspore ·

Gedurende 1983 as dienspligtige moet ek gaan na die Medics op Lugmagbasis Ondangwa Namibia om ‘n inspuiting te kry teen bloed vergiftiging. Dit was laat middag en ‘n Majoor wat ‘n Staandemag Dr is was aan diens, hy het die inspuiting voorberei en my in die bo-arm ingespuit. Verder kon ek niks onthou… toe my verstand weer begin registreer is dit al donker en is besig om te loop terug bungalow toe, verby sulke bruin mobiele huise. Net so op my bed gaan lê en slaap, van die ander troepe het nog gevra waar was jy so lank, het hulle nie geantwoord. Hierdie pes het my ‘n slaapmiddel ingespuit en as 18 jare seun verkrag. Het nooit daaroor gepraat, nooit aangemeld in die weermag. As volwasse het ek probeer terug gaan in geskiedenis en ‘n naam probeer koppel, kon niks kry want ons het offisiere op range aangespreek. Tot vandag toe is enige intieme aktiwiteit gekoppel and skuld gevoelens, vernedering.
Natanya, jy is dapper, jy het gemaak dat die pes verantwoordelikheid kry vir sy optrede.

Elmarie ·

Wielspore, my simpatie mag dalk niks aan jou trauma verander nie maar glo my jy IS sterk om steeds te bly staan na alles. Ek dink aan jou en hoop jy kan dalk gaanvir terapie en dit uit jou sisteem probeer kry. Dis onnodig dat jy so moet ly. Ek dink aan jou en ek bedoel dit. Sterkte

Delia ·

Wilshire, so jammer Dat jy so iets moes ervaar van iemand in n vertrouensposisie. As jy nie hom Kan opspoor, moet jy dalk dink om hom vry te spreek, vir jou onthalwe. As jy nog nie gegaan het vir berating, doen dit…vir jouself. Moenie die man die krag gee om steeds jou lewe te ruineer nie.

Delia ·

Natalya, so jammer Dat so iets met jou moes gebeur maar bewonder jou Dat jy daaroor Kan praat en bo dit kon uitstyg. Hoop God seen jou ryklik.

Linda ·

Om te dink die ou vark was ‘n laerskool hoof. Sy dinge strek dalk oor ‘n baie langer tydperk as net toe hy en sy vrou ‘n kleutelskool bedryf het. Sulke gemors moet gestenig word deur die publiek en nie soetjies soetjies hanteer word nie. Sy naam moet ook bekend gemaak word met n foto ,sodat meer mense na vore kan kom wie se lewe hy verwoes het. Sy kleinkinders moet van hom weggehou word, want sulke katoolse ou goed sal niemand ontsin nie. En lyk sy vrou was in op die dinge. Hoekom was sy ook aangekla in 2012. Gert van Rooyen en Joey Haarhof die tweede. Lae vieslike gespuis!

Gogga ·

Ek is trots op die super dame, al ken ek haar nie. Dit vat baie moed om so oop te kan maak. Haar ma is ‘n moeder duisend om haar so te ondersteun en by te staan. So, natuurlik was dit ‘n groot skok toe ons oudste dogter ons vertel dat ‘n familielid haar ook molesteer. ‘n Saak is toe begin, en die man is skuldig bevind. ‘n Jaar of twee later was sy vonnisoplegging, en weg is die siel tronk toe. 15 Jaar klink lank, maar werklikwaar, dit is nie. Nou na 7 jaar is hy in aanmerking vir parool en ek wonder, is sy naam regtig in die register vir pedofiele opgeteken? Wat van ander kinders? Daar is tog mense wat glo hy is onskuldig, en hom dalk gaan saam nooi na ‘n skoolfunksie of ‘n plek waar ander kinders is? Jinne, ek weet nie, ek sal dit verloor as ek hom moet sien!

Jr ·

Dame ek as ‘n man vra u verskoning dat mans sulke dinge kan doen. Ek is so jammer dat dit met u gebeur het. Nobody should go through this. Ek wens jou alle sterkte en geluk vir die toekoms

lollapot ·

Jy is SO dapper! Ek bid jou voorspoed toe, op die pad vorentoe…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.