IEB: Effens minder matrikulante slaag

Argieffoto

Hoewel die slaagsyfer effens laer as die vorige jaar is, het byna al die matrieks wat verlede jaar die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen afgelê het, die eksamen geslaag.

Dié groep het ’n slaagsyfer van 98,07% behaal. Dié slaagsyfer is effens laer vergeleke met die klas van 2019 se slaagsyfer van 98,82%.

Die IEB het Vrydag sy matriekeksamenuitslae bekend gemaak.

Volgens die raad het al die matrieks wat geslaag het ’n slaagpunt behaal wat voldoende is om verder te studeer.

Altesaam 88,42% van die groep het nou toegang tot graadstudie, wat ook effens minder is as die 89,51% in 2019. Die persentasie leerders wat vir ʼn diploma kan gaan studeer, het wel toegeneem van 7,91% in 2019 tot 8,14% verlede jaar. Altesaam 1,51% (vergeleke met 1,4% in 2019) kan studeer vir ʼn Hoër Sertifikaat.

“Die uitstekende prestasie van die 2020-matriekgroep onder moeilike omstandighede, onderskraag die belangrikheid van jare van goeie, soliede onderrig en leer, voor die graad 12-jaar,” het Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, Vrydag gesê.

“Hierdie prestasie is bewys dat die gr. 12-jaar op sy eie nie die begrip, deursettingsvermoë en lewenskragtigheid voorsien wat nodig is om uitstekende uitslae in matriek te behaal nie – dit is harde werk en leer oor die loop van 12 of 13 jaar van onderrig.”

Altesaam 12 024 voltydse en 1 139 deeltydse kandidate het in Oktober en November te midde van die Covid-19-pandemie die IEB se matriekeindeksamen reg oor Suid-Afrika, Mosambiek, Namibië en Eswatini geskryf. Dié groep is effens groter as die 11 818 voltydse kandidate en 779 deeltydse kandidate wat in 2019 die eksamen afgelê het.

Volgens Oberholzer lyk dit of die pandemie tog tot gevolg gehad het dat ’n aantal leerders verlede jaar van die skooljaar onttrek het en hul matriekjaar tot vanjaar uitgestel het.

“Dit is interessant om te sien dat die harde inperking verskillende skole binne die IEB op verskillende maniere geraak het. Party skole het ’n gladde oorgang na aanlyn onderrig en leer gemaak aangesien hulle reeds die hulpbronne beskikbaar gehad het en dit inderwaarheid in die normale gang van sake reeds gebruik is. Die onderwysers is ervare in hierdie leweringsmetode, en so ook die leerders wat toegang tot toestelle en stabiele internetkonnektiwiteit gehad het.”

Volgens Oberholzer kon baie egter nie ’n aanlyn onderrigmodel tydens die inperking implementeer nie, aangesien óf die skool óf die meerderheid van leerders nie genoegsame hulpbronne gehad het nie.

Baie skole het ook ’n aantal leerders verloor wat by aanlyn en afstandonderrigverskaffers aangesluit het terwyl ander op tuisskool besluit het.

Die sluitingsdatum vir aansoek om hernasiening is 3 Maart en die uitslae van hernasiening sal op 26 Maart vrygestel word. Die sluitingsdatum vir leerders wat kwalifiseer om vir die aanvullingseksamen te registreer, is 16 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Baie geluk aan al die IEB matrikulante! Om matriek te kry in ‘n jaar van CoVid, inperking en beurtkrag wil gedoen word!

Herman ·

Met al die gelekte vraestelle, aangepaste sillabusse en punte moet jy wragtig onnosel wees om te druip….

janeee ·

Herman, hierdie is die IEB uitslae, nie die staatsskole nie. Geen vraestelle het by hulle uitgelek nie??

Pandora1 ·

Die IEB skryf onafhanklike eksamens…. nie dieselfde as CAPS (staatsmatriek ) nie. So elke kandidaat wat goed gedoen het en deurgekom het het dit verdien. Ek praat van die IEB kandidate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.