Implats staak bedrywighede na ondergrondse staking

Argieffoto

Meer as 2 200 mynwerkers was teen Maandagmiddag steeds ondergronds by Implats se Bafokeng Rasimone-platinummyn naby Rustenburg in Noordwes nadat daar met ʼn onbeskermde staking begin is.

Implats het alle bedrywighede by die noord- en suid-skag van die myn opgeskort nadat die staking Maandagoggend begin het. Mynwerkers is na die oppervlak teruggeroep, maar teen 15:00 was ongeveer 2 205 werknemers nog ondergronds.

Volgens Implats is die motief vir die staking en die mynwerkers se eise nog nie bekend nie en is die betrokke owerhede in kennis gestel en noodmaatreëls ingestel. Van die mynwerkers word moontlik teen hul wil ondergronds gehou.

“Die voorkoms van onwettige ondergrondse betogings en nabootsing van onwettige optrede by myne in Suid-Afrika het die afgelope maande meer algemeen geword en is ’n rede vir aansienlike kommer sowel as ontwrigting van die breër mynbedryf,” het Implats gesê.

Die gekoördineerde protesaksies hou volgens Implats ook ernstige veiligheidskwessies vir sy werknemers in, nie net as gevolg van die voorsiening van basiese voeding, hidrasie en ablusiefasiliteite nie, maar ook die risiko vir persoonlike veiligheid sou die protesaksie in ʼn gyselaarsituasie ontaard of tot fisieke geweld lei.

Volgens Implats sal die myn ferm optree teen werknemers wat by enige onwettige gedrag of kriminele dade betrokke is.

ʼn Soortgelyke situasie het hom verlede week by die Gold One Modder-Oos-myn in Springs afgespeel.

Honderde myners is vier dae lank ondergrond as gyselaar gehou, gemartel en uitgehonger. Die bende wat hiervoor verantwoordelik was, het klaarblyklik namens die mynwerkersvakbond Amcu eise aan die mynbestuur gestel.

Maroela Media het vroeër berig dat myners ure lank met pikstele en planke met spykers aan, aangerand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.