In gesprek met Pieter Groenewald: ‘Ons baklei vir álle minderhede’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Die VF Plus is nie skaam om te sê dat hy na die Afrikaner se belange omsien nie.

Die opposisieparty staan egter op vir álle minderheidsgroepe in Suid-Afrika, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die party. Hy het Maroela Media vandeesweek in aanloop tot die nasionale verkiesing besoek.

“Minderheidsregte in Suid-Afrika word eenvoudig vertrap,” sê Groenewald reguit.

“Minderheidsgroepe moet weet dat die ANC nie ooghare vir hulle het nie en teen hulle diskrimineer. Maar daar is ʼn politieke party – die VF Plus – wat opstaan vir die beskerming van minderheidsgroepe.

“Dít is hoekom ons baie sterk gekant is teen swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.”

Groenewald haal dan die politieke wetenskaplike Samuel P Huntington aan wanneer hy sê daar moet in ʼn moderne demokrasie politieke partye wees wat minderhede teen die tirannie van die meerderheid moet beskerm.

“En dit is wat die VF Plus doen,” meen Groenewald.

Groenewald sê dit is juis waarom Afrikaanssprekendes hul kruisie op 29 Mei agter die VF Plus behoort te trek. “Ons staan op vir die beskerming van Afrikaans.”

Die opposisieparty glo egter dat ál 11 amptelike tale beskerming behoort te geniet.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)0

Die VF Plus is een van die 11 opposisiepartye wat hom by die Veelpartyhandves geskaar het in die hoop om ʼn nuwe koalisieregering ná die verkiesing tot stand te bring, aangesien daar nie ʼn enkele politieke party is wat alleen die ANC kan ontsetel nie.

“Ons gaan saamwerk maar ons gaan nie saamsmelt nie,” stel Groenewald dit in die onderhoud duidelik. “Die VF Plus het sy eie beleid en sy eie beginsels.”

Sommige van die beginsels waaronder magsafwenteling is reeds deur die Veelpartyhandves aanvaar.

Nou moet kiesers net opdaag en stem, sê Groenewald.

“ʼn Party is net so sterk soos die kiesers daardie party maak. Ek vra dus: Maak die VF Plus sterk – nog sterker – want dan kan ek ons beginsels en beleid in ʼn koalisieregering invoer.”

Groenewald gee toe dat koalisieregering ʼn nuutjie en leerkurwe vir politieke partye én kiesers is. Hy is egter vol vertroue dat die betrokke opposisiepartye van die Veelpartyhandves teen dié stadium oor die nodige politieke volwassenheid beskik om ʼn koalisieregering te maak werk.

“Dit is onmoontlik om binne 14 dae na die verkiesing mekaar te vind en ʼn koalisieregering tot stand te bring,” sê hy.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Dit is juis waarom daar in die maande voor die verkiesing lang en moeilike gesprekke gevoer is. Groenewald sê die kleiner geskille kan dan binne daardie 14 dae uit die weg geruim word. Hy glo ook daar kan in dié stadium met redelike sekerheid gesê word dat die koalisieregering stabiel gaan wees.

Wat die VF Plus betref, verwag Groenewald nié vanjaar die 250% groei wat die party in die 2019 verkiesing beleef het nie. “Ek is ’n realis. Dit was van ʼn laer basis af.”

Groenewald sal egter baie graag wil sien dat die VF Plus ná die komende verkiesing 25 lede in die parlement het. Die party beskik tans oor 12 parlementslede, waarvan tien in die Nasionale Vergadering is.

Op Maroela Media se vraag oor wat die VF Plus vir sy kiesers sedert 2019 gedoen het, antwoord Groenewald dat die party kiesers se probleme hanteer en in sommige gevalle opgelos het.

“Omdat ons meer lede in die parlement het ,was daar natuurlik meer parlementslede om die probleme te kon hanteer. Van die probleme het ons opgelos, maar van hulle kon ons eenvoudig nie oplos nie [weens vertragings van die verskeie staatsdepartemente].”

Groenewald sê die VF Plus het ook die afgelope vyf jaar sterk standpunte in die parlement ingeneem met verwysing na die moontlike hernoeming van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) in die Paarl in die Wes-Kaap in 2022.

Groenewald sê verskeie politieke partye en burgerregteorganisasie het destyds ingespring en die herbenoeming probeer keer toe die destydse minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mtwethwa, die taalmonument in sy visier gehad het.

“Maar dit was ek wat in die parlement opgestaan het in ʼn debat met die president en vir hom gevra het: Het jy ʼn probleem met Afrikaans?,” sê Groenewald.

Dit was ook Groenewald wat pres. Cyril Ramaphosa genooi het om saam na die monument te gaan – ʼn uitnodiging wat Ramaphosa aanvaar het.

Die monument is eindelik nooit hernoem nie en vandag is Mtwetha nie meer ʼn minister nie.

Die party voer ook ʼn voortslepende stryd teen omstrede wetsontwerpe soos die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) en die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

“Dít is die aksies wat ons neem in die belang vir ons mense en vir Suid-Afrika, om die ANC tot verantwoording te roep in die parlement,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die VF Plus kom ook net elke vyf jaar na die oppervlakte en smeek Afrikaners om vir hulle te stem. Hulle bied egter niks in ruil. Is die naam van die taalmonument die beste voorbeeld wat die party kan voorhou vir uitkomste sedert 2019? Meer word buite die parlement bereik teen Bela, die NGV en swak dienslewering. Nou veg hulle nogal vir alle minderhede. Die VF Plus stel nie juis belang in gemeenskappe wat wil afstig nie. Maar doen dan immers iets tasbaars vir Afrikaners wat krepeer op grondvlak.

Nico ·

Natuurlik sal die ANC regering baie skelm te werk gaan om nog aan bewind te bly.

Frik ·

VF Plus maak nie lee politieke beloftes net om stemme te kry nie.
Die party het werkbare oplossings om die land weer op koers te kry.
n Party wat waarlik mense se belange op die hart dra.
Ek stem beslis VF Plus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.