In SA sal dit boere gʼn help om te betoog

Franse boere betoog al sedert Desember verlede jaar en het onlangs hoofpaaie na Parys met trekkers versper. (Foto: Patrick Hertzog / AFP)

In Suid-Afrika sal dit boere min help om te betoog om hul stemme te laat hoor, “want hier sit jy met ʼn regering wat irrasionele besluite neem en nie die belangrikheid van voedselsekerheid besef nie”.

Só het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, vandeesweek aan Maroela Media gesê by navraag oor betogings deur Europese boere wat tans in Frankryk voortwoed.

Hy sê  ʼn mens moet appels egter met appels vergelyk, want in Europa lyk die landbou-uitdagings wat boere ondervind veel anders as in Suid-Afrika.

Dit is wel belangrik dat Suid-Afrika kennis neem van die landbouprobleme in die buiteland, aangesien die instelling van nuwe beleide en regulasies ook ʼn groot invloed op uitvoere na Europa kan hê, aldus Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer (Agbiz).

Franse boere betoog sedert Desember al teen onder meer laer voedselpryse, stygende heffings vir boere, hoër brandstofpryse en omgewingsbeskermingsreëls wat volgens hulle onaanvaarbaar is.

Boere blokkeer die A10-hoofweg in Parys met trekkers. (Foto: Dimitar Dilkoff/ AFP)

Die afgelope week het boere ook met trekkers na Parys opgeruk waar hulle verskeie hoofweë versper het.

Dié situasie strek egter veel wyer as net Frankryk en volg op onlangse betogings deur Nederlandse boere sowel as ontevredenheid onder boere in Spanje, Italië, België en selfs Switserland.

Volgens Van Zyl is daar baie faktore wat dié situasie in Europa teweegbring, waarvan een van die grootstes die aanslag van die sogenaamde Groen-beweging is: Die kwessie dat die natuur belangriker is as enigiets anders.

“Ons almal het ʼn bewaringsboerdery-ingesteldheid. Ons besef ons moet ons hulpbronne oppas en daarom doen jy nie die verkeerde dinge nie. Dit word gedoen deur goeie navorsing oor jare heen oor die beste bewaringspraktyke.

Boere blokkeer die A64-hoofweg in Parys. (Foto: Matthieu Rondel/ AFP)

“Jy moet hierdie praktyke toepas, maar hierdie goed [vereistes van die Groen-beweging] gaan verby hierdie lyne, onder meer die invloed van beeste se uitlaatgasse en die gebruik van sekere kunsmis. Daar is ook baie druk van Europese unies dat plase byvoorbeeld 4% ‘moet teruggee vir die natuur’. Dit is egter nie logies nie. Sommige plase kan dalk 20% gee, ander kan nie. Jy kan nie veralgemeen nie. Mense is geneig om landbou oor een kam te skeer en net te sê ‘maar landbou moet…’”

Van Zyl sê die kern van ʼn boerdery is dat dit uiteindelik winsgewend moet wees.

“As hy nie winsgewend is nie, gaan hy volgende jaar nie daar wees nie. ʼn Plaas is ʼn sake-entiteit wat besluite moet neem wat die beste is ten opsigte van sy winsgewendheid.”

Subsidies aan boere

Anders as Suid-Afrika, maak Europese boere grootliks op subsidies van die regering staat om hul staande te hou.

Van Zyl is van mening dat dié subsidies moontlik ʼn invloed op boere se vermoë het om in ʼn vryemark mededingend te wees.

“Ek weet nie of hulle dit sonder daardie subsidies sal regkry nie.”

Dié subsidies word nie noodwendig gesny nie, maar is al meer aan omgewingsregulasies onderworpe.

Van Zyl sê wat dikwels egter buite berekening gelaat word, is die aantal mense op aarde wat gevoed moet word. Hy stem saam dat dit belangrik is om hulpbronne optimaal te benut, maar sê dat dit ook volhoubaar benut moet word.

“As jy nou skielik jou vee moet halveer en net die helfte melk, soos wat nou in sommige Europese lande verwag word, gaan dit uitdagings veroorsaak.

“Duitsland het byvoorbeeld die dieselrabat. Regulering en maatreëls het aan die einde van die dag ʼn invloed op jou winsgewendheid.”

Van Zyl sê boere in Europa baklei eindelik nou vir hul eie volhoubaarheid.

Omgewingsmaatreëls kan uitvoere knou

Sihlobo sê toenemende omgewingsregulasies kan Europese boere se vermoë om te produseer knou, wat groot finansiële gevolge sal inhou.

Hy sê dit sal ook in Suid-Afrika se belang wees as die EU nie al sy voorgenome omgewingsregulasies deurdruk nie.

“Ongeveer 25% van ons uitvoere gaan na die Europese mark. Binne die huidige raamwerk van die EU is daar verskeie uitdagings vir Suid-Afrika, aangesien sommige produseringspraktyke nie aan sekere omgewingsmaatreëls sal kan voldoen nie.”

Sihlobo sê in Europa is betogings ʼn belangrike manier waarop ʼn groep hul besware te kenne kan gee, waar daar in Suid-Afrika verskeie landbouorganisasies is wat namens boere tot die stryd toetree.

Suid-Afrika se landbou-uitdagings verskil egter drasties van dié wat Europese boere in die gesig staar.

“In Suid-Afrika het ons nog nie eintlik sulke fanatiese Groen-drukgroepe soos in Europa ervaar word nie,” het Van Zyl gesê.

“Suid-Afrika het egter sy eie unieke probleme, wat ook op die tafel geplaas moet word.”

Van Zyl verwys onder meer na grondonteiening sonder vergoeding, verhoogde minimum loon wat onbekostigbaar raak vir boere, infrastruktuurprobleme en die enorme veiligheidsituasie op plase.

“Daai mense ken nie sulke goed nie. Hulle slaap met oop deure,” sê Van Zyl.

“By ons [in Suid-Afrika] moet jy elke nag veg om te hoop jy leef nog die volgende dag om te kan boer. Dit is ʼn heel ander kultuur wat ons hier het. Ons kry nie subsidies nie en ons het ʼn afwesige regering wat nie ramp- of noodhulp verleen nie.”

Van Zyl sê wanneer die regering wel hulp aan boere gee, is dit vir kleinskaalboere wat net 3% van die land se kosmandjie produseer, terwyl kommersiële boere – wat voedselsekerheid waarborg – uitgesluit word. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

vuurvliegie ·

Tyd vir ‘n nuwe bestuur van TLU SA wat meer ruggraat het en minder saam met die regering komkel.

mattk ·

Sou ons boere hier besluit om op dieselfde skaal te staak as die boere in Frankryk en Nederland, word die hele SAP en weermag ingeroep om hulle uitmekaar te jaag.

Dandeleen ·

Nee TLU SA, ons neem nie aan optogte deel nie aangesien ons nie saam kan staan nie. Ons het jare terug aan die optogte teen plaas moorde deel geneem (Ja President, daar bestaan so iets) dan daag daar miskien 10 voertuie op. Belaglik om die minste te sê.

Karel Kobus Kruger ·

Wel…….om petisies te teken en met die regering te gesels gaan ook maar weinig help.
Kom ons lê eerder plat en rol om.

Bolandse Nooi ·

Man, ek het die oplossing vir julle: vang die beeste se uitlaatgasse op in herwinbare plastieksakke en gee dit vir die “groenetjies” – hulle kan dit gebruik om die lugleegte tussen hul ore mee te vul!

Bolandse Nooi ·

@Dandeleen … ek weet nie waar jý die 10 voertuie wat laaskeer met “Black Monday”, “Stop Farm Killings” opgedaag het nie, maar hier waar ek woon (Worcester, Wes-Kaap), was al die hoofingange na en van die dorp versper met bakkies, trekkers, lorries, karre … almal wat kon, het deelgeneem aan die optog. Die klein “settlement” De Wet, oppad De Doorns se kant toe, is 10km van die dorp se Noordelike ingang; dit het my daardie oggend omtrent ‘n uur geneem om daai 10km af te lê oppad werk toe.

Danie ·

Ek glo dat as ons boere regtig saamstaan dan kan hul n groot impak maak. Voedsel is die belangrikste om te oorleef en as hulle staak en alle produkte weghou van die markte en die uitgange van die hawens blokkeer sodat voedsel nie kan vervoer word nie dan sal hierdie regering gou n ander storie sing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.