Inentingsertifikaat binnekort in SA beskikbaar

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid. (Foto: Facebook / Departement van Gesondheid)

Suid-Afrikaners wat teen Covid-19 ingeënt is, sal eersdaags ʼn digitale sertifikaat ontvang wat hulle kan gebruik om toegang tot onder meer sportstadions te verkry.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Vrydag gesê hierdie sertifikaat sal na verwagting oor ʼn  week of so in die land beskikbaar gestel word.

“Ons het met die ontwikkeling van die digitale inentingsertifikate begin, wat ook teen bedrog beskerm sal wees.”

Phaahla sê die sertifikaat sal ook in ooreenstemming met die standaarde en spesifikasies soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) uiteengesit is, wees.

“Die sertifikate sal in ooreenstemming met die WHO se inisiatief wees om bewys van inenting reg oor die wêreld te standaardiseer.

“Dit sal ook aan diegene beskikbaar wees wat maande gelede reeds ingeënt is – solank jou inligting op die regering se elektroniese entstof-inligtingselsel verskyn.”

Phaahla sê dié inentingsertifikaat sal nie ʼn vereiste vir toegang tot openbare en noodsaaklike dienste wees nie, maar kan wel by geleenthede soos sport- en vermaaklikheidsbyeenkomste versoek word.

Die minister het weer beklemtoon dat hoewel inentings teen Covid-19 nie verpligtend is nie, die regering alle burgers sterk aanmoedig om die entstof te ontvang.

“Die departement beoog ook om die registrasie vir die komende verkiesing, wat op 18 en 19 September plaasvind, en die toedien van entstowwe te integreer.

“Dit word sterk aanbeveel dat alle kiesers en kandidate ingeënt word om ʼn veilige verkiesing op Maandag 1 November te verseker.”

Die derde golf

Phaahla sê die land is eindelik besig om uit die greep van die derde Covid-19-golf te beweeg.

“Daar is ʼn afname van 24% in nuwe gevalle in vergelyking met die gemiddelde syfers oor die afgelope sewe dae.”

Hy sê Gauteng is die eerste provinsie om ʼn positiwiteitskoers van net 4,4% te bereik, terwyl die koers in die res van die land nou op 12% staan.

Dié provinsie, sowel as Limpopo, het volgens Phaahla nou amptelik uit die derde golf beweeg.

Volgens die WHO is ʼn veilige grens ’n positiwiteitskoers van minder as 5%.

Phaahla sê voorts hospitaalopnames het ook oor die afgelope week met 10% gedaal.

“Hospitaalopnames in Gauteng is egter steeds hoog, maar dit kan toegeskryf word aan mense wat lank vat om te herstel nadat hulle met Covid-19 gediagnoseer is.”

In hierdie stadium is die meeste nuwe gevalle in die Wes-Kaap (24%), gevolg deur KwaZulu-Natal (20%), die Oos-Kaap (18%), Gauteng (10%), die Vrystaat (9%), Mpumalanga en die Noord-Kaap (7% elk), Noordwes (4%) en Limpopo (2%).

Phaahla sê die Noord-Kaap en die Vrystaat is in dié stadium ʼn groot probleem en dat daar baie beweging tussen die twee provinsies is.

Hoewel die aantal nuwe gevalle oor die geheel afneem, sê Phaahla dat die nakoming van Covid-19-regulasies en -protokolle steeds uiters belangrik is.

Inentings

Die minister sê die regering is bewus van vertragings in SMS’e met betrekking tot inentingsafsprake.

“ʼn Selfbesprekingstelsel sal van vandag af geaktiveer wees, wat beteken dat mense self die datum, tyd en plek van hul inenting kan kies.”

Phaahla sê diegene wat die inenting ontvang, sal egter nie oral kan kies of hulle die Pfizer‑ of Johnson & Johnson-entstof wil hê nie, aangesien dit deur die beskikbaarheid van voorraad op die dag bepaal word.

Hy sê voorts hoewel die inentingsprogram op dreef is, dit spoed sal moet optel as die regering sy teikens wil bereik.

Phaahla sê meer vrouens (57,7%) as mans (42,3%) meld steeds in dié stadium vir inenting aan.

Luidens die departement van gesondheid se statistieke was 225 558 mense teen Donderdag teen Covid-19 ingeënt.

Dit bring die algehele getal ingeëntes in die land op 14 367 151 te staan.

Meer as sewe miljoen mense het nou al een dosis van die Pfizer-entstof ontvang, terwyl meer as 3,8 miljoen mense volledig met dié twee-dosis-entstof ingeënt is.

Meer as drie miljoen mense was teen Donderdag al met die J&J-entstof ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.