Inflasie gee skiet; kos bly duur

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ná drie agtereenvolgende maande van stygings het oorhoofse verbruikersinflasie eindelik effens skiet gegee: van 5,9% in Oktober na 5,5% in November.

Dié effens bemoedigende daling word toegeskryf aan laer brandstofpryse.

Dit beteken egter nie dat kos minder duur geword het nie. Jaarlikse inflasie wat kos en nie-alkoholiese drank betref het inderwaarheid ʼn hoogtepunt van vier maande, 9% in November, bereik.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers, wat Woensdagoggend bekend gemaak is, toon dat die prys van vleis weens die voëlgriepuitbreking van 3,4% in Oktober tot 3,5% in November geklim het.

Die prys van bevrore hoender en eiers het ook weens die uitbreking van voëlgriep aanhou styg, soveel só dat eiers in November byna 40% duurder as ʼn jaar tevore was.

Bevrore hoender was tot 9% duurder as verlede jaar dieselfde tyd.

Vrugte was in November 11,5% duurder vergeleke met verlede November; die skerpste prysstyging sedert Desember 2020 toe die prys van vrugte met 11,8% geklim het.

Suiker, lekkers en nagereg is ook duurder.

In die 12 maande tot November het die prys van witsuiker met 21,4%, bruinsuiker met 23,7% en ’n plak sjokolade met 11,8% gestyg.

Die prysindeks vir warm drankies het in die 12 maande tot November met 11,4% gestyg. Die jaarlikse inflasiekoers vir kitskoffie het, afgesien van Augustus vanjaar, sedert Maart verlede jaar dubbelsyfers bereik.

Jaarlikse inflasie vir brood en graan het wel vir ʼn sewende agtereenvolgende maand afgeneem.

Goedkoper brandstof = laer inflasie

Die maandelikse verandering in die verbruikersprysindeks (VPI) was -0,1%.

StatsSA skryf dié daling toe aan ʼn maandelikse daling van 5,5% in die brandstofprysindeks, wat die jaarlikse koers vir brandstof van 11,2% in Oktober na 1,8% in November laat terugsak het.

Dít het op sy beurt gelei tot ʼn verlaging in die jaarlikse tarief vir vervoer, wat van 7,4% na 4,3% in November afgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Manie ·

Met pryse wat aanhou styg, prop die regering ook meer BTW in hul sakke.

Marcha ·

Ai. Inflasie styg Saam met werkloosheid. Suid Afrika is die volgende Zim.

Di ·

Al daal die petrol prys word die kospryse nie verlaagnie, alles bly net styg. Ons kan deesdae net die broodnodige goed koop

Nommer 7 ·

Wat vir my erg is, ek betaal R50 vir ‘n spanspek. Eers toe ek dit oopsny, sien ek die produsent het dit ge-oes voordat dit ryp en eetbaar is. My verlies in die produsent se wins!!

Papsak ·

SA is die eerste land wat ek sien goed gee bietjie skiet maar alles bly net duurder en duurder word hoe werk hierdie regering se pille ek weet nie regtig ????????

Marthinus Johannes ·

Kos en skoonmaak middles sê pryse het die afgelope 6- 8 week met +- 20 tot 30% gestyg om die kers seisoen uit te buit. Party goedere se pryse het Amper verdubbel. As petrol se prys val Dan styg goedere se pryse Nog steeds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.