Inflasie styg effens in Augustus

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Ná vier agtereenvolgende maande van dalings in inflasie, was daar in Augustus ʼn effense styging met inflasie wat in Julie op 4,8% te staan gekom het (van 4,7% in Julie).

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) sê inflasie op kos en nie-alkoholiese drankies verlangsaam en het minstens druk van hooflyninflasie verminder, maar dit was nie genoeg om ʼn styging in brandstofpryse en munisipale tariewe teen te werk nie.

Voedsel-, drankinflasie

Jaarlikse inflasie vir kos en nie-alkoholiese drankies het vir ʼn vyfde agtereenvolgende maand gedaal: van 9,9% in Julie tot 8% in Augustus. StatsSA se data wys dat benewens vrugte, het alle ander kos- en nie-alkoholiese drankie-kategorieë se jaarlikse koerse gedaal.

Brood en graan staan op ʼn jaarlikse koers van 9,9%; laer as die syfer van 13,1% waarop dit in Julie gestaan het. Boonop was verskeie produkte in Augustus goedkoper as ʼn maand tevore. Dit sluit in witbrood, bruinbrood, mieliemeel en graankos.

Rys is steeds ʼn speek in die wiel en die prys het op ʼn maandgrondslag met 3,4% gespring.

Wat vleis betref, het die jaarlikse koers tot 3,6% gedaal (in vergelyking met die 5,1% waarop dit in Julie gestaan het). Die prys van die meeste beesvleis- en hoenderprodukte het van Julie tot Augustus gedaal – met die uitsondering van hoenderafval en beesvleisaftreksel.

In Augustus was die prysindeks vir vleis 0,7% laer as in Julie.

Melk, eiers en kaas is op dieselfde koers. Jaarlikse inflasie het van 14,4% in Julie tot 11,9% gedaal. Goeie nuus is dat die prys van volroommelk, eiers en cheddar-kaas gedaal het. Slegte nuus – veral vir diegene met ʼn soeter tand – is prysstygings vir kondensmelk en vla.

Dié soettande sê ook les op by die kasregister wanneer daar vir suiker, lekkergoed en nagereg opgedok moet word. Die kategorie het die hoogste jaarlikse inflasie ondervind – altesame 18,5% – van alle items in die spesifieke kategorie. Dit is darem effens laer as die 18,7% waarop dit in Julie gestaan het. Konfyt en ʼn plak sjokolade was goedkoper in Augustus as ʼn maand tevore. Die prys van bruinsuiker, witsuiker, en roomys hou aan styg.

Vir diegene wat ʼn alkoholiese versnapering verkies, was daar beter nuus: Inflasie in hierdie kategorie het tot 6,9% gedaal van 7,8% in Julie. Bier was 0,8% goedkoper in vergelyking met ʼn maand tevore en vir wyndrinkers was daar ʼn daling van 0,3% oor dieselfde tydperk.

 

 

Munisipale tariewe

In Julie en Augustus meet StatsSA ook munisipale tariewe.

Kragtariewe het vanjaar met 15,3% toegeneem, maar dit is veel hoër as die 7,9%-styging wat verlede jaar aangeteken is. Huishoudings het vanjaar altesame 9,6% meer vir water betaal, ná ʼn styging van 8,1% in watertariewe vroeër vanjaar. Eiendomsbelasting het met 8,4% gestyg, ná ʼn 4,3%-styging in die vorige jaar.

Wes-Kapenaars het die grootste stygings in kragtariewe (op met 17%) en eiendomsbelasting (op met 11%) agter die rug.

KwaZulu-Natal het die grootste styging in watertariewe (+14,2%) ondervind, gevolg deur Gauteng (+10%).

Ander prysveranderings

StatsSA sê brandstofpryse het van Julie tot Augustus met 2,2% toegeneem.

Restaurante en hotelle het die tweede hoogste stygings (naas die kategorie vir kos en nie-alkoholiese drankies) ondervind. Restaurant-inflasie het in Augustus tot 6,7% versnel van 6,5% (Julie).

Die prys van rooivleisprodukte het tussen Julie en Augustus met 2,9% gestyg. Hamburgers is 1,2% duurder.

  • Hierdie berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

melaney ·

Nie seker waar kry hulle inligting oor kospryse. Ek sal graag daardie persoon saamneem wanneer ek weer inkopies gaan doen, want wraggies, wat ek hier lees …….

Sobymykoolkop ·

Iemand die anderdag gesê rooivleis pryse het die laaste jaar met 30% gedaal, van daai het ek net verhoging in laaste jaar gesien.

Manie ·

Dan het hy waarskynlik donkie gekoop, want Rump/Sirloin steak se pryse is die laaste jaar op van R120.00 p/kg na R200.00 p/kg.

Papsak ·

Wel ek sien geen daling in kos pryse nie bly net styg so waar gaan ons uit kom ek kan nie kruideniersware of vleis meer bekostig regtig maak my dood die pryse

Sê maar net ·

En dit sal maandeliks aanhou styg tot Kersfees….mos nou al ‘n gereelde instelling….

houopkruip ·

4.8% ……… nogal baie komies, komende vanaf bekende ekonome en Stats SA.

Marcha ·

Asof dinge nie al klaar swaar genoeg is in SA nie. Een van die dae is ons geld monopoly geld agv inflasie.

Gert ·

Begin slegs vrugtebome plant op boomplant dag. Dalk klink my stelling of dit niks met die berig te doen het nie maar dit het indirek wel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.