Inge Lotz-stigting skenk geld aan US

Die Inge Lotz-stigting het R1 miljoen die US se eenheid vir bio-etiek geskenk. (Foto: Verskaf)

Die Inge Lotz-stigting het R1 miljoen aan die Universiteit van Stellenbosch (US) se eenheid vir bio-etiek geskenk.

Dié stigting is deur prof. Jan Lotz op die been gebring nadat sy dogter, Inge (22), ’n student aan dié universiteit, in 2005 in haar Welgevonden-woonstel vermoor is.

Maroela Media het destyds berig dat die moordenaar steeds op vrye voet is, wat tot vandag toe die geval is.

Lotz is ’n radioloog en emeritus-professor by die US se Fakulteit vir Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Prof. Anton van Niekerk, direkteur van die sentrum vir toegepasde etiek in die Departement Filosofie aan die US, sê die skenking baan die weg om ’n aantal nuwe navorsingsprojekte aan te pak. Dié sentrum bekyk morele en etiese kwessies binne die gesondheidswetenskappe.

“Die skenking stel die eenheid in staat om areas te verken wat ons andersins weens finansiële beperkinge nie sou kon doen nie.”

Hoewel hy en Lotz gereeld gesels, onder meer oor Lotz se belangstelling in dié eenheid, sê Van Niekerk dat hy nie die skenking verwag het nie.

“Ek was heeltemal verras toe hy aanbied om ʼn skenking van R1 miljoen te maak.”

Van Niekerk, wat in bio-etiek, die filosofie van godsdiens en die filosofie van die menslike wetenskappe spesialiseer, sê een van die navorsingsondersoeke wat sy eenheid beplan om aan te pak is “menslike verheffing”.

“Nog ’n projek behels die ondersoek van die morele kwessies wat spruit uit die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NVG), waaruit vraagstukke oor morele en etiese kwessies sal ontstaan,” sê Van Niekerk.

Bykomend hoop die eenheid om deel van die finansiering aan te wend vir nagraadse beurse.

Van Niekerk sê bio-etiek is die dissipline wat die Griekse mediese filosoof Hippokrates gelei het om die hippokratiese eed te formuleer, ’n eed (in aangepaste vorm) wat vandag nog deur medici afgelê word in hul toewyding tot die etiese versorging van pasiënte.

Ondanks die eed, sê Van Niekerk, is etiek vir vele eeue nie baie ernstig opgeneem nie en slegs aan mediese studente as ’n toevoeging tot die kurrikulum geleer.

“Maar soos ons kennis toegeneem het, het mediese personeel begin om geweldige mag te verkry oor siekte, gesondheid en selfs die dood. En die geskiedenis het ons geleer waarheen hierdie soort mag kan lei.”

Hy voeg by dat mediese ondersoeke soos die berugte Tuskegee-sifilis-eksperiment, daartoe gelei het dat mense besef het gesondheidswerkers is nie noodwendig morele engele nie.

Van Niekerk sê voorts dat vooruitgang in tegnologie en medisyne in die loop van die 20ste eeu baie etiese vrae meegebring het en ’n groot rol in mediese behandeling en die definiëring van die dood gespeel het.

“Een van die hooffaktore wat verander het hoe ons oor die dood dink, was toe prof. Chris Barnard ’n hart oorgeplant het. Ons moes onsself afvra: Kan ons seker wees dat die pasiënt wie se hart vir ’n oorplanting verwyder is, werklik dood is?

“Gevolglik is die kriteria vir die bepaling van die dood verander. Elke nuwe ontwikkeling in tegnologie vereis dat ons nuwe vrae vra oor die moreel en etiek wat mediese besluitneming beïnvloed.”

Al hierdie voorbeelde, sê Van Niekerk, motiveer hoekom skenkings soos dié van die Inge Lotz-stigting so noodsaaklik is.

“Ons is uiters geëerd om hierdie skenking te ontvang en opgewonde oor die moontlikhede wat dit vir ons in bio-etiek meebring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Dit is ‘n mooi gebaar ja Oom Hennie, maar toe ek lees dit gaan aan US kry ek sommer so bitter smaak in my mond. Ek dink toe aan hoe hulle ons afrikaanse taal probeer onderdruk en almal skenkings wil stop

E ·

Ek dink ek sou dit meer kon waardeer as hy dit vir geskenk het om veilige huise vir vroue en kinders van gesins geweld te skep. Daar is ‘n groot behoefte en daar is nooit genoeg fondse nie. Almal dink tog Inge was ‘n slagoffer van sulke geweld. Maar dit is nog steeds baie tragies en hartverskeurend – en ‘n moordenaar leef langs ons.

Martie Smartie ·

Sommer die poliesmanne wat so gemors vd saak gemaak het, ook vir klas stuur. So jammer die moordenaar het weggekom, ons almal weet wie hy is, maar danksy die polisie …. nou ja

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.