Ingekrimpde BBP ‘nie einde van die wêreld’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl Suid-Afrika in die laaste drie maande van 2022 net twee dae van ononderbroke elektrisiteit geniet het, het die ekonomie tot laer as voorpandemievlakke getuimel.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste kwartaallikse syfers toon dat die groeisyfer van die bruto binnelandse produk (BBP) in die vierde kwartaal van 2022 met 1,3% gekrimp het – ’n aansienlik groter inkrimping as die 0,4% wat ekonome voorspel het, aldus ʼn Bloomberg-konsensus.

Sommige ekonome waarsku nou teen ʼn resessie.

“Ek het vir dié ekonome slegte nuus,” sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsroep. “ʼn Resessie word gedefinieër as twee agtereenvolgende kwartale se negatiewe groei en dít het nog nie gebeur nie.”

Suid-Afrika het 2022 aanvanklik goed afgeskop toe die ekonomie in die eerste kwartaal met 1,9% gegroei het en die land vir ʼn kort tydperk terug was op dieselfde vlak as waar dit voor die Covid-19-pandemie was.

Toe krimp die ekonomie in die tweede kwartaal met 0,7% net om met 1,6%  in die derde kwartaal van 2022 te groei.

Botha glo daarom nie die jongste inkrimping is “die einde van die wêreld” nie.

Hy verwys na StatsSA se jaarlikse syfers wat toon dat die ekonomie in 2022 met 2% in reële terme gegroei het – van R4,50 biljoen tot R4,60 biljoen. “Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat ons positiewe groei beleef,” sê ʼn optimistiese Botha.

StatsSA se data toon egter ook dat dit maar 0,3% se ekonomiese groei is vergeleke met die voorpandemielesing van R4,58 biljoen in 2019. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse bevolking sedertdien met 3,5% toegeneem het.

“Selfs al verdeel ons alles gelyk op onder almal, is ons almal armer as vier jaar gelede,” sê Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit, in sy podsending Ekonomie Minuut.

Krugell is minder optimisties as Botha en sê die jongste inkrimping van die BBP “is ʼn probleem”.

“Dit is ʼn jammerte want die inkriming demp die groeikoers van die hele jaar.”

Botha glo egter die 2% ekonomiese groei is “merkwaardig” gegewe 90 dae van beurtkrag tydens die vierde kwartaal en die hoë rentekoerse.

Die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal in April verlede jaar het boonop ʼn reeds kwesbare nasionale ekonomie opnuut verswak.

“Dit is dus amper ʼn wonderwerk dat ons met 2% gegroei het en ons behoort dankbaar te wees,” glo Botha.

Só sê StatsSA

StatsSA skryf die inkrimping van 1,3% in die vierde kwartaal van 2022 toe aan finansies, handel, mynbou, landbou, vervaardiging en algemene staatsdienste wat almal ʼn inkrimping in die vierde kwartaal beleef het.

Volgens StatsSA het sewe van die tien nywerhede wat gemeet word inderwaarheid in die vierde kwartaal gekrimp.

Landbou het egter die grootste inkrimping van al die sektore in die vierde kwartaal beleef (-3,3%).

Luidens die kwartaallikse syfers het finansies, eiendom en sakedienste tussen Oktober en Desember met 2,3% gekrimp. Dié inkrimping was die grootste bydraende faktor tot die afname in ekonomiese groei, aangesien dit 0,6 van ʼn persentasiepunt van BBP-groei afgetrek het.

Handel, spyseniering en verblyf was die tweede grootste negatiewe bydraer tot ekonomiese groei met ʼn inkrimping van 2,1%.

Vervoer, kommunikasie en berging was egter effense ligpunte in die vierde kwartaal, met ʼn styging van 0,7%. Dié groei word toegeskryf aan verhoogde ekonomiese aktiwiteit in passasierslandvervoer, lugvervoer en kommunikasiedienste.

“Kom ons hou moed,” sê Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

As 2% vergelyk word met inflasiesyfers, klink dit nie positief nie.

Piet parys ·

Ek het gedink Roelof sou minister word Persoonlike finansiele raadgewer van Cyril . Praat eweveel nonsens deur as iets verkeerd gaan …..ag dis nie so erg nie ….. want hy het nie oplossings nie

57 Chevy ·

Almal spreek altyd hulle kommer uit oor als…..en dis waar dit bly .

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien Botha bekommerd raak moet jy weet.

Pietertjie ·

Dit sal eers die einde van die wêreld wees as die laaste dag aanbreek, né.

Deon ·

Weet nie van watter land Roelof Botha praat nie. Niemand kan of moet die ekonomiese gemors waarin ons land verkeer probeer goedpraat nie. Wag, en sien die verdere ekonomiese insinking en armoede na April van hierdie jaar! Die vooruitsigte is nie goed nie. Ons “gewone mense” wat hier kommentaar lewer en mos “niks weet nie” gaan nog groter klippe kou as wat ons reeds doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.