Ingryping nodig om ontvoerings in SA te pak

(Foto: Jose P. Ortiz / Unsplash)

Ontvoerings in Suid-Afrika het oor die afgelope dekade met ʼn yslike 183% toegeneem en in die laaste drie maande van verlede jaar is gemiddeld 45 ontvoerings daagliks aangemeld.

Die ontvoering van welgestelde sakelui of selfs kinders vir lospryse maak gewoonlik opslae, maar dit is hoofsaaklik gewapende roof en kapings wat dié getalle opjaag.

Kenners sê egter ontvoerings vir lospryse, afpersing en mensehandel – wat tans gesamentlik minder as 5% van aangetekende ontvoeringsvoorvalle uitmaak – is steeds ʼn ernstige bron van kommer omdat dit dui op ʼn toename in georganiseerde misdaad in die land.

Daar is dikwels groot geld by dié soort misdaad betrokke en dit vereis groot polisiehulpbronne wat nie altyd beskikbaar is nie.

Luidens die polisie se kwartaallikse misdaadstatistieke is altesame 11 702 ontvoerings tussen April en Desember verlede jaar aangeteken. Dit het die jaarlikse syfer van 10 826, wat van Maart 2021 tot April 2022, aangeteken is, ver verbygesteek.

Kenners skryf dit toe aan ʼn toename in geweld- en georganiseerde misdaadvoorvalle in die land.

Polisiestatistieke van April tot September verlede jaar wys dat twee derdes (63%) van ontvoerings met gewapende rooftogte en kapings verbind kan word.

Dr. Chris de Kock, onafhanklike misdaadontleder en voormalige hoof van misdaadinligtingsbestuur by die polisie, verduidelik dat slagoffers in dié gevalle dikwels aangehou word om toegang tot hul bankrekeninge te verkry om geld te onttrek, of hulle word vir ʼn ruk lank in die gesteelde voertuig rondgery en dan iewers anders afgelaai.

Hy benadruk dat selfs al word slagoffers net vir ʼn paar sekondes of minute aangehou, hetsy in ʼn voertuig of hul eie huis tydens ʼn rooftog, word dit as ontvoering opgeteken omdat enige voorval waar iemand teen hul wil aangehou word, in dié kategorie val.

De Kock sê dit stoot syfers kwaai op, aangesien gewapende roof en motorkapings ook skerp toeneem.

Verder word 10% van ontvoerings met seksuele aanranding en verkragting verbind, 7% met weerwraak en minder as 5% met lospryse, afpersing en mensehandel.

Losprysontvoerings min, maar kommerwekkend

Ontvoerings waar ʼn losprys geëis is, het van Oktober tot Desember verlede jaar landwyd met 42 gevalle toegeneem: van 86 in dieselfde tydperk in 2021 tot 128 verlede jaar. Die meeste gevalle is weer in Gauteng (76) aangemeld, gevolg deur die Wes-Kaap (15) en KwaZulu-Natal (10).

“Dit is dalk klein getalle, maar dit is ʼn ernstige bekommernis aangesien dit nog ʼn unieke aanduiding van georganiseerde misdaad is. Sindikate is oral besig om kop uit te steek. Georganiseerde misdaad het veral oor die afgelope vyf jaar toegeneem. In die verlede het dit meer net met dwelms verband gehou, maar vandag is daar amper nie ʼn gebied waar georganiseerde misdaad nie betrokke is nie,” sê De Kock.

Die teenmisdaadaktivis Yusuf Abramjee sê hy is net so bekommerd oor losprysontvoerings wat “dramaties toeneem”. Hy meen die polisie moet daadwerklik ingryp om hierdie misdaad te bekamp.

“Hoewel die polisie se teen-ontvoeringstaakspanne al vordering met hierdie soort sake gemaak het, lyk dit of hierdie sindikate net voortgaan.

“Daar is al inhegtenisnemings gedoen, maar kleiner na-aper-bendes probeer al hoe meer munt slaan uit dié soort ontvoerings.”

Kleiner misdaadgroepe vra volgens Abramjee enigiets van R50 000 tot R500 000 vir ʼn losprys en die slagoffers is dikwels buitelandsers.

Groter groepe en sindikate eis weer miljoene rand vir die vrylating van hul slagoffers. Hulle is boonop nie haastig nie, wat beteken dat slagoffers soms maande en selfs jare lank aangehou word.

“Dit is tyd dat die polisie ʼn dringende aksieplan instel om hierdie voorvalle hok te slaan.”

Luidens ʼn verslag deur Global Initiative Against Transnational Organized Crime word losprysontvoerings in Suid-Afrika deur onder meer gesofistikeerde oorgrensgroepe uitgevoer wat in sogenaamde “hoëwaarde-ontvoerings” spesialiseer. Hierdie mense teiken in die meeste gevalle hoëprofielmense soos welgestelde sakelui.

Dit moedig kleiner, plaaslike misdaadgroepe egter aan om minder gesofistikeerde ontvoerings uit te voer aangesien hulle dit as ʼn maklike manier sien om geld te maak. Data hieroor is egter min, aangesien die meeste van hierdie slagoffers uit lae inkomstegroepe kom en nie die misdaad aanmeld nie.

Lizette Lancaster, ʼn navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê hoewel losprysontvoerings se getalle nie in die duisende is nie, is daar dikwels groot bedrae geld betrokke. Dit vereis ook baie polisiehulpbronne.

Sy sê die ontvoerders het dikwels eerstehandse kennis van hul slagoffers se geldsake en weet dat hulle toegang het tot baie geld.

Slagoffers is dikwels sakelui wat ondernemings besit en in kontant sake doen en kan plaaslike én internasionale sakelui wees.

“Daar is ook baie gevalle waar saketransaksies skeefloop, en dan sien ons dat ontvoerings uit wraak uitgevoer en die teiken afgepers word. In baie van dié gevalle word familielede soos kinders ontvoer en gebruik om die werklike teiken te dwing om aan eise gehoor te gee.

“Ontvoerders het ook deeglike kennis van mense se roetine. Hulle weet wanneer mense kwesbaar is.”

Sy sê indien die polisie die ontvoeringsyfer in die algeheel wil afbring, is gefokusde intelligensie-gedrewe polisiëring wat deur toegewyde ondersoekeenhede en forensiese ondersoeke ondersteun word, nodig.  “Die opsporing, inhegtenisneming en vervolging van vooraanstaande sindikaatlede sal hierdie misdade ontwrig en die aantal voorvalle aansienlik beperk. Dit sal op sy beurt vertroue in die polisie versterk en vlakke van vrees in gemeenskappe verminder.

“Provinsiale ontvoeringstaakspanne wat saamgestel is om hoofsaaklik hoëprofiel-ontvoerings vir losprys- of afpersingsake te ondersoek, het wel al verskeie suksesse behaal.”

Ouers verkla mekaar

Die private ondersoeker Mike Bolhuis sê baie ontvoeringsake wat veronderstel is om aangemeld te word, word nooit aanhangig gemaak nie – terwyl baie mense hulle weer oorhaastig na die polisie wend om sake van ontvoering aan te meld.

Hy verwys veral na gevalle waar ouers twis en ʼn hof dan besluit oor toesig van die kind of kinders.

Bolhuis sê dit gebeur dikwels dat een ouer ʼn ontvoeringsaak teen die ander ouer indien wanneer dié ouer dalk ʼn besoek met die kind gehad het en die kind nie op ʼn spesifieke tyd terugbring nie.

Volgens Bolhuis misbruik ouers in baie gevalle ʼn klag van ontvoering om die ander ouer in ʼn hof van sy of haar reg op toegang tot die kind of kinders te ontneem, of om vir ander egskeidingsvoorwaardes te beding.

Hy meen nog ʼn probleem is dat sake nie altyd aangemeld of verder gevoer word nie.

“Mense meld ook nie sake in Suid-Afrika aan nie omdat die veiligheidstruktuur in die land dit nie toelaat nie. Dit is weens grootskaalse korrupsie, onvermoë en ʼn tekort aan spesialiseenhede en ‑taakspanne om misdade soos ontvoerings te ondersoek en op te los.

“Die publiek weet dit, die boewe weet dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.