Inligting oor ‘twyfelagtige’ Transnet-kontrakte gesoek

(Argieffoto)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het Donderdag ʼn formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (Paia) teen Transnet gebring. Hiervolgens word toegang tot inligting versoek om sodoende deursigtigheid by dié staatsonderneming in krisis oor sy omstrede kontrakte, saketransaksies en bedrywighede te bekom.

“Soos baie staatsondernemings in Suid-Afrika was Transnet die middelpunt van staatskaping en erge wanbestuur wat ʼn geweldige impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad het,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Hierdie tipe inligting het ʼn vanselfsprekende invloed op die kragtigheid en funksionering van Transnet, wat by implikasie reflekteer op die funksionering van die ekonomie waarin alle burgers ʼn aandeel het. Boonop is hierdie inligting van openbare belang aangesien Transnet deur belastingbetalers gefinansier word.”

Van Zyl sê as ʼn groot en hoogs aktiewe burgerregtewaghond is AfriForum in die perfekte posisie om hierdie inligting vir ontleding te verwerk en verder te versprei aan sy lede en die publiek.

Die inligting/rekords waarna AfriForum op soek is, sluit in:

  • Alle aktiewe kontrakte wat Transnet of enige van sy filiale met enige logistieke en/of vragmaatskappy gesluit het.
  • Alle aktiewe kontrakte wat Transnet of enige van sy filiale met enige private sekuriteitsmaatskappy gesluit het.
  • Die getal kriminele klagte wat Transnet die afgelope drie jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien het vir misdade teen Transnet en sy eiendom.
  • Die getal ure wat Transnet-hawens die afgelope twee jaar gesluit en/of toegemaak was.
  • ʼn Lys van alle treinlokomotiewe, treinwaens, spoorwegwaens en motorvoertuie wat Transnet besit.

“Die deurslaggewende belang van Transnet se saketransaksies en bedrywighede vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, tesame met die onlangs gedemonstreerde uiters gruwelike korrupsie wat tot sy ondergang gelei het, is wat AfriForum se eise vir deursigtigheid dryf,” sê Van Zyl.

Hy wys daarop dat Transnet die primêre terrein van staatskaping was, wat verantwoordelik was vir 72,2% van alle kontrakte van ondernemings in staatsbesit (SOE) wat aan staatskaping gekoppel is. “Gevalle van vandalisme en sabotasie, asook wanbestuur, onbevoegdheid en gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid moet ook hierby gevoeg word. AfriForum doen ons deel om hierdie krisis te takel en antwoorde te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elizabeth ·

Dankie, AfriForum . Ons waardeer jul werke en wag vir antwoorde.

Jacobus ·

Transnet het geen idee wat meer op sy bateregister is nie.

annie ·

… en die vorige minister trap nou links en regs kamma ander ao klaar kaders uit sou hul hul pligte versuim; skielik nou die toesighouer. Die ANC bevorder skynbaar almal wat vasval weens onbekwaamheid, onkunde of slinksheid. Dalk kan bekeruitdeelfunksies ook deel van groot okkasies begin vorm vir meer kleur en geldbesteding… Wat van egte goue bekers?

Amelia ·

Soos alles is daar niks van oor nie een van die dae sal daar ook nie meer petrol wees nie Siener se voorspellings word 1 vir 1 waar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.