Instituut gee 70 pasiënte die gawe van sig

pretoria-ooginstituut-dr-hamza-tayob-en-sr-dineshri-kisten

Dr. Hamza Tayob, wat vroeër die maand 70 pasiënte se katarakte verwyder het as deel van die Pretoria Ooginstituut se veldtog om sig terug aan pasiënte te gee, word hier deur sr. Dineshri Kisten bygestaan. Foto: Verskaf.

Volgens die jongste statistiek van die Internasionale Diabetes Federasie ly ʼn verstommende 1,8 miljoen volwassenes in Suid-Afrika uit die land se volwasse bevolking van 33 miljoen mense aan diabetes.

Die Pretoria Ooginstituut in Arcadia, Pretoria het vroeër hierdie maand op een dag nie minder nie as 70 pasiënte gehelp met gratis katarakverwyderingchirurgie as deel van die instituut se Unclouding Cataracts-veldtog.

Pretoria Ooginstituut sê Maryke Lotz, bemarking- en kommunikasiebestuurder van die Pretoria Ooginstituut.

Lotz wys daarop dat die invloed van katarakte dikwels verder strek as net die onmiddellike trauma vir persone wat uitvind hulle is besig om hul sig te verloor.

“Klein kindertjies se motoriese ontwikkeling word vertraag. Mense verloor hulle werk omdat hulle nie meer die vermoë het om te sien nie. Hierdie mense kan nie altyd maklik hulp kry nie omdat hulle nie ʼn mediese fonds het nie of omdat die fonds uitgeput is.

“Die gevolge van katarakte is eindeloos, dit beïnvloed nie net die lyers nie, maar ook hul naastes, en dit is een van die redes waarom elke individuele storie en die uitdagings agter elke operasie ons nog verder inspireer om hierdie soort veldtogte aan te bied.”

Een van die pasiënte wat met die chirurgie haar sig en hoop vir die toekoms teruggekry het, is Marie de Beer van Villieria in Pretoria.

“Ek het gloukoom in my linkeroog en ʼn katarak in my ander oog gehad en het dus amper geen visie oorgehad nie. Wat sake vererger het, is dat my man kanker het en bykans heeltemal van my afhanklik is.

“Alhoewel daar niks is wat aan my linkeroog gedoen kan word nie, het die katarakverwydering my sig in my regteroog heeltemal herstel. Ek is soveel dank aan die hele span by die Ooginstituut verskuldig. Die aandag en sorg wat ek ontvang het van die oomblik wat ek die perseel betree het, was eenvoudig onbeskryflik. Die verpleegpersoneel en spesialiste was ʼn bron van groot troos vir my. Ek is ewig dankbaar aan almal wat by hierdie veldtog betrokke is.”

Die statistiek

Dr. Hamza Tayob, ʼn oogarts by die Pretoria Ooginstituut, wat talle van Vrydag 21 Junie se operasie uitgevoer het, sê katarakverwydering is ongeveer 80% van al die oogoperasies wat hulle verrig. Katarakte is ook die oorsaak van meer as 50% van die blindheid in Suid-Afrika en ongelukkig sukkel spesialiste om by te bly om dit te behandel.

“Die koers van katarakchirurgie in Suid-Afrika moet minstens 2 000 per miljoen mense per jaar wees om katarakblindheid heeltemal uit te skakel. Die koers is tans ongelukkig nog nie eens by 50% daarvan nie,” het Tayob verduidelik.

Katarakte word veroorsaak deur ʼn opeenhoping van proteïen op die ooglens wat visie beïnvloed en word dikwels vereenselwig met persone wat al ʼn rype ouderdom bereik het. Dit kan egter ook, onder meer, met genetiese siektes, inflammasie wat deur ʼn oogsiekte veroorsaak is, of lewenstylfaktore soos rook en diabetes verbandhou. Toksiene soos steroïede, asook trauma en blootstelling UV-strale kan ook katarakte veroorsaak.

Tayob wys daarop dat die skerp toename in diabetes in Suid-Afrika, wat hoofsaaklik te wyte is aan ʼn swak lewenstyl en dieet, ʼn belangrike oorsaak van katarakte is.

“Diabetes-verwante katarakte word nou selfs meer by jonger pasiënte opgemerk. Lyers kan ook dikwels nie die verband insien tussen hul siekte en die risiko daarvan om katarakte te ontwikkel nie,” het Tayob gesê.

Groot dankbaarheid te midde van ʼn groeiende behoefte

Lotz het groot lof en dank gehad vir elke persoon wat gehelp het om die gratis prosedures moontlik te maak.

Sy sê die Pretoria Ooginstituut het tans ʼn waglys van 212 pasiënte wat byna daagliks groei.

“Dit mag dalk soos ʼn bron van kommer lyk, maar dit motiveer en inspireer ons en talle ander om net harder te werk om die gawe van sig vir soveel as moontlik mense terug te gee.”

Die Pretoria Ooginstituut se mediese span van wêreldgehalte gebruik die jongste toerusting om optimale visuele gesondheid te versekering. Die instituut behandel gloukoom, katarakte en retinopatie, bied refraktiewe chirurgie en doen ook oogtoetse en visietoetsing vir brille en kontaklense. Met ʼn 24 uur-noodontvangsdiens kan pasiënte verseker wees dat hulle die beste gesondheidsorg by die instituut vir hulle oë sal ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Meisie ·

Ek is baie bly oor die oogoperasies wat gedoen word net jammer daar is nog nie n muur vir die oogsiekte die brein van die ooh nie. Ek voel so jammer vir my broer .

Maria ·

Dankie dierbare dokter vir goeie harte wat omgee mag Here jou werk seen x

Maljan ·

Staatshospitale vertel (wit) pasiënte eenvoudig om terug te kom wanneer hulle heeltemal blind is. Of na n privaat oogspesialis te gaan en R30 000 op te dok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.