Internasionale visskandaal raak Mosselbaai

Korrupsie, bedrog en geldwassery in die Namibiese visbedryf is deur Al Jazeera blootgele (Foto: Verskaf)

ʼn Korrupsieskandaal in die Namibiese visbedryf wat verlede week tot die bedanking en kort daarna die inhegtenisneming van twee ministers in die buurland gelei het, maak wêreldwyd opslae ná die Al Jazeera-nuuskanaal gisteraand ʼn dokumentêre program daaroor uitgesaai het.

Daar is selfs ʼn plaaslike invalshoek aan die storie: die oopvlekker, die Yslander Johannes Stefansson, is na bewering in Kaapstad vergiftig terwyl hy met Suid-Afrikaners oor ʼn sakevennootskap in die visbedryf onderhandel het.

Boonop dreig lede van ʼn Mosselbaaise maatskappy nou ʼn plaaslike aanlyn koerant met ʼn lastereis oor wat hulle beweer oor die maatskappy geskryf is.

Verder kan die inhoud van die televisieprogram, The Anatomy of a Bribe: A deep dive into the underworld of corruption, maklik klink na en lyk soos van die getuienis wat al voor ons eie Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping gehoor is.

In die uur lange dokumentêr vertel Stefansson hoe hy sedert 2012, in opdrag van sy voormalige werkgewer in Ysland, miljoene dollars omkoopgeld aan politieke hooggeplaastes in Namibië moes betaal. Hy het vir die viskonglomeraat, Samherji, gewerk en sy doel was om tot elke prys winsgewende regte in die visbedryf in Namibië te verkry.

Stefansson het in 2016 besluit om sy inligting bekend te maak en uit sy werk by Samherji te bedank, maar nie voor hy meer as 40 gigagrepe data, bestaande uit sowat 30 000 dokumente, e-posse, foto’s en ander maatskappy-inligting van sy werkgewer se rekenaarstelsel afgelaai het nie.

“Dit is ʼn meesterplan van hoe buitelandse maatskappye Afrika se hulpbronne vir eie voordeel stroop en niks agterlaat nie,” sê Stefansson in die program.

Wikileaks het sedert 12 November sowat 30 000 dokumente en foto’s gepubliseer (Foto: Verskaf)

Hy het die dokumente aan Wikileaks besorg, wat dit aan Al Jazeera oorhandig het. Wikileaks het op 12 November begin om die dokumente onder die titel The Fishrot Files op die internet beskikbaar te stel en daarin word glo ook name van Suid-Afrikaners genoem.

Die Al Jazeera-ondersoek is in samewerking met ʼn koerant, The Namibian, Ysland se staatsuitsaaier, RUV, en ʼn Yslandse tydskrif, Stundin, gedoen. Dit het ʼn netwerk van bedrog, korrupsie en geldwassery blootgelê met tentakels wat van Suider-Afrika tot in Ysland, Ciprus en Dubai strek.

Die span het ʼn joernalis gebruik om met die sleutelfigure in die korrupte netwerk te onderhandel onder die voorwendsel dat hy ryk Chinese beleggers verteenwoordig. Sy missie was om visvangregte vir hulle te bekom.

Versteekte kameras is oor ʼn tydperk van drie maande gebruik om video-opnames te maak van die onderhandelings waarin korrupte transaksies sonder veel moeite beplan en uitgevoer is.

Een van die sleutelfigure wat so betrap is, Bernardt Esau, se naam kom ook herhaaldelik in Stefansson se dokumente voor. Hy was tot twee weke gelede nog Namibië se minister van visserye en mariene hulpbronne. Esau en die minister van justisie, Sacky Shanghala, het albei uit hul poste bedank en is kort daarna in hegtenis geneem.

Ses sleutelpersone, waaronder twee ministers wat pas bedank het, is verlede week gearresteer (Foto: Verskaf)

Esau se skoonseun, Tamson Hatuikulipi, en ʼn werknemer van Investec Namibië, Ricardo Gustavo, asook ʼn familielid van Hatuikulipi, Pius Mwatelulo, was almal ook vir ʼn wyle agter tralies.

Die bewering is dat Esau in 2014 ʼn ooreenkoms met Angola se minister van visserye, Victoria de Barros Neto, aangegaan het, waarvolgens viskwotas aan Angola toegestaan is.

 

In ʼn ingewikkelde web van maatskappye het die kwotas uiteindelik by die Yslandse maatskappy, Samherji, beland en die bewering is dat al die skakels in die korrupte ketting in ruil sowat 10 miljoen dollar ontvang het. Samherji het glo ʼn skuiwergat in Namibië se regulasies gebruik om die mededingende tenderproses te omseil en groter hoeveelhede vis in Namibiese waters te vang.

Bernardt Esau, die Minister van Visserye en Mariene Hulpbronne het bedank en is daarna inhegtenis geneem (Foto: Verskaf)

Die sesde persoon wat in hegtenis geneem is, James Hatuikulipi, is die staatsbeheerde Fishcor se voorsitter. Hy is ook die voorsitter van die direksie van Seaflower Pelagic Processing (Edms.) Bpk. waarin Fishcor ʼn 40%-aandeel het. Die ander 60% word gehou deur African Selection Fishing wat aan ʼn Angolese maatskappy, African Selection Trust (AST), behoort.

Die media het in 2017 berig dat die Namibiese visnywerheid woedend was omdat ʼn internasionale belangegroep, verwysend na die AST-groep, gebaat het by die toekenning van ʼn reuse-viskwota aan Fishcor. Die kwota behels glo 50 metrieke ton makriel per jaar vir 15 jaar. Die geskatte jaarlikse waarde is R120 miljoen.

Seaflower se hoof- uitvoerende beampte, Mike Nghipunya, word ook by die Fishrot-skandaal betrek. Namibië se minister van openbare ondernemings,  Leon Jooste, het aanbeveel dat hy geskors of afbetaal word en dat Hatuikulipi van die direksie van Fishcor en filiaal-maatskappye verwyder word.

Maroela Media het in Julie oor Seaflower Pelagic berig as deel van ʼn artikel oor ʼn voorgenome vismeel-en-visoliefabriek wat vir Mosselbaai beplan word. ʼn  Direkteur van Seaflower Pelagic Processing in Namibië, Johannes Breed, is ook een van twee direkteure van Afro Fishing wat die vismeelfabriek in Mosselbaai wil bou.

Sacky Shanghala, die voormalige minister van Justisie (Foto: Verskaf)

Volgens die Namibiese media verteenwoordig Breed en twee Namibiese burgers, Adriaan Louw en Maren de Klerk, AST in Seaflower se direksie.

Breed is ook AST se besturende direkteur in Angola en dien sedert verlede jaar in die direksies van agt Suid-Afrikaanse maatskappye met belange in die plaaslike visbedryf.

Die beoogde fabriek kry groot teenstand van die inwoners van Mosselbaai wat vrees dat dit ʼn stinkende wolk oor die kusdorp gaan veroorsaak, iets wat ten sterkste deur Afro Fishing ontken word. Hulle beweer die beste tegnologie gaan ingespan word om die visreuk hok te slaan.

Maar die inwoners bly skepties en sê hulle is hoogs bekommerd oor Afro Fishing se planne.

Elsa Wessels, die redakteur van die plaaslike aanlyn nuusplatform, mosselbayontheline.co.za, berig sedert Februarie vanjaar oor die beplande fabriek en het haar lesers veral ingelig oor hoe mense se lewensgehalte, die infrastruktuur van ʼn dorp en veral die mariene lewe negatief beïnvloed word deur ʼn reuse-vismeelaanleg in hul omgewing.

“Gaan daar nimmereindigende hofsake oor omgewingsbesoedeling en die uitwissing van inheemse visspesies op Mosselbaaiers wag soos al jare lank in Saldanhabaai en elders in die wêreld die geval is? Waar gaan 1 000 ton pelagiese vis wat per dag verwerk moet word vandaan kom? Wie gaan kyk dat die regte visspesies gevang word om vismeel van te maak?” Dít is van die vrae wat Wessels al gevra het.

Toe die Fishrot-skandaal in Namibië aan die lig kom, het sy soos voorheen die Namibiese media aangehaal oor die skokkende korrupsie in daardie land se visbedryf. Sy het ook melding gemaak van Breed se direkteurskap in Afro Fishing, AST,  Seaflower Pelagic en die ander Suid-Afrikaanse maatskappye in die visbedryf.

Dié berig en ʼn brief wat Wessels aan die omgewingskonsultant van die projek geskryf het, het Breed klaarblyklik nie aangestaan nie. Verlede week het hy en Deon van Zyl, Afro Fishing se besturende direkteur, deur hul prokureur geëis dat Wessels die aanlyn berigte van mosselbayontheline én Facebook-blaaie verwyder.

Hulle dreig om ʼn dringende interdik teen die webwerf aan te vra en skadevergoeding van haar te eis. Wessels hou vol dat sy slegs berigte in verskeie internasionale publikasies aangehaal het wat al sedert 2017 gepubliseer is.

Sy voer aan dat inwoners net ʼn deurdagte besluit oor so ʼn riskante nywerheid op hul voorstoep kan neem as hulle bewus is van wat al jare lank in die nasionale en internasionale visbedryf aangaan.

“Mosselbaaiers moet betyds keer dat so ʼn nywerheid voortydig in die feestyd deurgestoomroller word nog voordat hulle insae in al die relevante aspekte kan kry.”

(Mosselbaaiers het net tyd tot 12 Desember 2019 om hul besware en menings te lug oor Afro Fishing se beplande vismeel-en-olieverwerkingsaanleg van R350 miljoen by Mosselbaai se klein hawe.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dafer ·

Sal iemand in Mosselbaai asseblief die ‘powers that be’ gaan wakker skud!!!!

Basjan ·

Wit Willem, ek stem 100% saam met jou! Die Zondo komissie van Suid-Afrika is ‘n perfekte voorbeeld van hoe dinge NIE gedoen moet word nie.

Ida ·

Hulle is vandag borgtog geweier en kom weer einde Januarie voor. Word aangehou in selle buite die stad.

John ·

Die visplan is meer as ‘n paar dae oud… sè my neus… Almal vertel net altyd hoe baie werksgeleenthede en voordele sulke (onderduimse) besighede vir dorpe inhou en dan val munisipaliteite kop en pootjies binne-in die projekte. Hoekom juis in Mosselbaai wil mens weet. Baie varswater is nodig vir die verwerking. Is die ontsoutingsaanleg in die oog. Mosselbaai is deur petrochemiese groepe platgetrap, nou wil uitlanders die inwoners met stank vir dank beloon. Vakansiegangers sal verdwyn… vuil seewater en stink lug… oogh!

Ongelooflik goed ·

Die ondersoek is ongeloof goed gedoen, Al Jazeera nvestigations, gaan kyk maar na die video op die internet. Dit is skokkend dat hierdie mense ‘n Namibiese Vis maatskappy deur die proses toegemaak het wat Namibiers werk gegee het, dit net vir hul eie gewin. Namsov was een van die grootste en hul het werk verskaf aan 1000de Namibiers en beurse en alles wat goed en reg vir die mensdom was, van daardie mense het selfmoord gepleeg omdat hul nerens anders gehad het om te gaan nie. So hartverskeurend en dan probeer hul dit nog ontken.

Elizabeth ·

Die verskil tussen hierdie scenario en die alledaagse SA scenario is dat die betrokke Namibiese ministers die ordentlikheid gehad het om te bedank … en dat hulle summier inhegtenis geneem is.

Pieter ·

Stuur vir ou cr met n SAL vlug dat hy gaan leer hoe word dit gedoen nie met n goue handruk nie

Pietie ·

So word sake in Afrika gedoen. Die “demokratiese” bestel pas die buiteland want korrupsie is so makliker wat weer die ontwikkelde wêreld se ekonomie laat draai.

Leon ·

Dit is een skandaal in Namibië. Suid Afrika is vrot van die skandale wat die regering aangaan en aangegaan het met organisasies. In Namibië is dit ‘n uitsondering. In Suid Afrika is dit ‘n norm vir die regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.