Johnny Clegg se gesin versoek privaatheid

Johnny Clegg. Foto: Facebook

Johnny Clegg is Dinsdagmiddag in die ouderdom van 66 by sy huis in Johannesburg oorlede.

Volgens Roddy Quin, bestuurder, vriend en woordvoerder vir die familie, is Clegg aan pankreaskanker oorlede. Hy is in 2015 daarmee gediagnoseer, maar het ondanks sy kankerstryd steeds oor die wêreld opgetree.

Clegg word oorleef deur sy vrou, Jenny, met wie hy 31 jaar getroud was en hul twee seuns, Jesse en Jaron.

Quin het versoek dat die familie se privaatheid in die tyd gerespekteer word en het gesê die familie sal ʼn private begrafnisdiens hou. “Daar sal ook ʼn diens vir die publiek wees om hul eer te betoon en die besonderhede hiervan sal mettertyd bekend gemaak word.

“Johnny laat diep spore agter in die hart van elke persoon wat hom of haar as ʼn Afrikaan beskou. Hy het ons gewys wat dit was om te assimileer en ander kulture te omhels sonder om jou eie identiteit te verloor.

“Hy was ʼn antropoloog wat sy musiek gebruik het om met elke persoon te praat. Met sy unieke musiekstyl het hy kulturele struikelblokke oorgesteek soos wat minder ander kon. In baie van ons het hy ʼn bewustheid wakker gemaak.”

Clegg is op 7 Junie 1953 in Lancashire, Engeland, gebore en het op sesjarige ouderdom saam met sy ma, wat van Rhodesië afkomstig was, na Johannesburg getrek.

“Sy blootstelling aan Zoeloe-trekarbeiders tydens sy tienerjare het hom aan die kultuur en musiek bekendgestel. Sy betrokkenheid by swart musikante tydens apartheid het tot gevolg gehad dat hy ʼn paar keer in hegtenis geneem is.”

Clegg het op 17-jarige ouderdom saam met Sipho Mchunu die groep Juluka begin. In 1986 het hy saam met Dudu Zulu die groep Savuka begin. Clegg het ook talle solo-albums opgeneem en het internasionaal sukses behaal.

Clegg het lesings aangebied by onderskeidelik die Universiteite van die Witwatersrand en Natal. Hy het antropologie bestudeer en sy studies met musiek gekombineer.

Verskeie eredoktorsgrade en humanitêre pryse is aan hom toegeken, onder meer die Chevalier des Arts et Lettres van die Franse regering (1991), die Orde van Ikhamanga van die Suid-Afrikaanse regering (2012), asook eredoktorsgrade in musiek van die Universiteit van die Witwatersrand (2007), die Universiteit van KwaZulu-Natal (2013), Dartmouth College in die VSA en City University in New York.

Hy was ook die skrywer van die boek UkuBuyisa Isidumbu (1981, Ravan Press).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Arno Scheepers ·

Ek hoop van harte die publiek gun Johnny Clegg se familie hul privaatheid.

Boskind ·

‘n Legende wat verskeie kulture bymekaar gebring het deur sy musiek. Hy was altyd so beskeie in sy onderhoude, in die publiek en op die verhoog. Dankie Johnny vir die kulturele invloed in baie van ons se lewens. Hamba Kahle Johnny!

Dankie ·

Dankie Johnny vir die invloed op Suid Afrikaanse musiek . As musikant was jy een van my groot invloede . Lank lewe jou werk .

T Andre ·

Jy was my gunsteling musiekant ooit. Ek het na jou musiek geluister van kinderdae af en het die mooiste herinneringe wat dit opbring. Ek gaan jou baie mis.

Nicolaas ·

Sonder twyfel een vd grootste musikante wat SA nog ooit opgelewer het en waarskynlik ook onder die top groep ter wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.