Jong Affie hol ses rekords los

Emil Els (Foto; Verskaf)

Die jong middelafstandatleet Emil Els is maar nog net enkele maande ’n Affie, maar het reeds ses rekords in die rooi, geel en groen laat spat. Verskeie van die rekords het dekades lank – een daarvan ʼn allemintige 46 jaar lank – gestaan.

Maar toe hol die 14-jarige Emil die 800 m in byna vyf sekondes minder.

Emil, ’n graad agt-leerder aan die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, het tydens die jaarlikse interhuis die 800 m-rekord van 2:11.20 tot 2:05.59 verbeter. Dié rekord is in 1977 deur die oud-Affie P Steyn opgestel.

Emil het ook die 1 500 m-rekord van 4:40 tot 4:29.41 verbeter. Dié rekord is 20 jaar gelede al opgestel.

Jong Emil was ook soos ’n pyl uit ’n boog by die A-bond interhoër waar hy ’n 20 jaar lange rekord van 2:06.21 in die 800 m met meer as drie sekondes (tot 2:03.04) verbeter het. Hy het ook in die 1 500 m die rekord van 4:25.44 tot 4:12.23 verbeter.

Emil Els (Foto; Verskaf)

Emil het ook nie teleurgestel by die Noordwes-Universiteit (NWU) se jaarlikse Super-interhoër wat vroeër vandeesweek by die Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind het nie.

In die 800 m het Emil die rekordtyd van 2:02.36, wat in 2009 opgestel is, tot 1:58.84 verbeter. Dit was die eerste keer dat Emil ʼn 800 m in minder as twee minute gehardloop het. Hy het ook die 1 500 m in sewe sekondes vinniger gehardloop en ’n nuwe rekord van 4:13.48 opgestel. Die ou rekord van 4:21.87 is in 2015 opgestel.

Luzaan Els, Emil se ma, sê hy is al van kleins af baie lief vir atletiek en geniet veral middelafstande. Dit is ook nie die eerste keer dat Emil op die atletiekbaan uitblink nie. Sy ma vertel dat hy verlede jaar as graad 7-leerder by Midstream College ook ’n goeie seisoen gehad het.

Groeipynbeserings het hom egter effens gebriek.

Vanjaar is Emil egter weer op sy blitsvinnige beste.

Jan Grabie, atletiekhoof by Affies, beskryf Emil as ʼn stil seun, “maar in sy stilheid is hy uiters hardwerkend, kompeterend en doelgerig. Hy glimlag altyd en ten spyte van sy ongelooflike prestasies, bly hy nederig. In sy oë is hy net ’n gewone Affie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jou gewete ·

as hy net nou al land uit voor atletiek sa hom verneder en breek

Christian ·

Briljant. Om op 14 reeds onder 2 minute te hardloop vir 800m is wereld klas standaard!! Hou so aan jong man

SwartBees ·

Hopelik los politiek hom uit dat hy sy bo natuurlike sukses sal behaal.

TRP ·

Goeie genade, ongelooflike goeie tye. Welgedaan en sterkte vir die SA’s, weet jy sal daar ook gaan deelneem en skitter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.