Jong atleet met Down se sindroom laat spat wêreldrekords

Minke is op haar gelukkigste in die water (Foto: Verskaf)

Minke Janse van Rensburg (18) het vroeër vandeesweek vir die tweede keer in ’n paar maande haar eie opewêreldrekord in die 50 m vryslag by die SA Seniorkampioenskap in Port-Elizabeth laat spat.

Dié doelgerigte swemmer met Down se sindroom het Donderdagaand haar vorige rekord van 34.83 sekondes na 34.17 sekondes verbeter.

Haar pa en mees getroue ondersteuner, Hennie Janse van Rensburg (55), vertel dat Minke net een mikpunt het: “Om met elke geleentheid beter te wees as die vorige keer.”

“Sy is vir ons ʼn ongelooflike inspirasie. Hoe groter die uitdaging, hoe beter vaar sy. Sy is ons voluitkind; met Minke kan jy nooit minder as haar beste verwag nie.”

Janse van Rensburg sê hy was veral trots op sy dogter toe sy in Maart vanjaar tydens die nasionale departement van sport, kuns en kultuur se SA Sporttoekenningsgeleentheid as gestremde sportvrou van die jaar aangewys is.

“Minke is ʼn absolute sportster. Dit is lekker om te sien hoe sy toekennings onvang vir iets waarvoor sy so lief is.”

Sy het ook verlede jaar die Barbara Higgins-toekenning vir buitengewone prestasie ontvang.

Minke is die enigste vroueswemmer – sedert die ontstaan van die Downsindroom- internasionale swemorganisasie (DSISO) 20 jaar gelede – wat as junior (16 jaar en jonger) drie opewêreldrekords kon verower.

“Ek is dankbaar dat die kollig nou op haar is, maar ook op haar federasie, die Suid-Afrikaanse sportvereniging vir intellektueel gestremdes (SASA-II), wat tot dusver versuim het om haar in haar swemloopbaan te ondersteun en ontwikkel.”

Waar het Minke se liefde vir swem begin?

“Ons het soos enige normale ouers ons kind op ʼn jong ouderdom vir waterveiligheidklasse geneem.”

Daar het die Janse van Rensburg-gesin onmiddellik gesnap hoe ongelooflik versot hul dogter op water is.

“Sy sal heeldag in die water wees as sy kan, dit is haar lewe.”

Op die ouderdom van 13 het Minke Janse van Rensburg reeds nasionale kleure vir die sport verwerf en saam met atlete dubbeld haar ouderdom op die podium by die wêreldkampioenskappe gepronk. (Foto: Verskaf)

Sybeth Hughes, waterterapie-instrukteur by die Carpe Diem Skool in George waar Minke skoolgegaan het, het haar reeds op 12-jarige ouderdom raakgesien en haar ouers genader om haar deel van die swemskool te maak.

“Vir Hughes was daar drie eienskappe wat Minke as ʼn swemmer laat uitstaan het: Minke is detailgeöriënteerd, kompeterend van aard en ʼn regte aanhouer,” sê Janse van Rensburg.

Hughes het daarna Minke se eerste swemafrigter geword.

Op die ouderdom van 13 het sy reeds nasionale kleure in dié sportsoort verwerf en saam met atlete wat twee keer so oud soos sy is op die podium op wêreldkampioenskappe gepronk.

“Sy het in 2018 met ʼn goue medalje, twee silwer medaljes en twee brons medaljes by die wêreldkampioenskap weggestap, sê Janse van Rensburg trots.

“Haar liefde en passie vir water is deel van wie sy is. As dit by swem kom, wil sy met die wenners geassosieer word, sy hou nie van verloor of tweede kom nie.”

Volgens haar pa sal Minke altyd ʼn uur vroeër vir oefening opdaag.

“Sy maak seker ons is al 15:00 daar wanneer die oefening om 16:00 begin, dan sal sy op en af langs die swembad loop en elke foutjie wat ander swemmers maak vir die afrigter uitwys,” skerts Janse van Rensburg.

Minke oefen elke dag vir twee uur saam met die seniorswemspan. Volgens Janse van Rensburg het sy sommer baie vinnig vir haar afrigter laat weet dat sy “nie ʼn klein dogtertjie is nie en hard wil oefen”.

“Sy gee haar heel beste van begin tot einde, sy hou nie terug omdat harde werk voorlê nie; as sy in die water is gaan sy voluit, altyd.”

Haar pa vertel dat Minke net so normaal soos enige ander kind is wanneer sy by die swembad of in die water is.

“Die wêreld kan tog in ʼn sekere opsig wreed teenoor kinders met ʼn gestremdheid wees.

“Toe Minke jonger was, het sy baie maatjies gehad wat haar in hul groep ingelaat het, maar soos hulle ouer geraak het, rondom die ouderdom van 12, was dit nie meer so maklik nie.”

Minke as jong dogtertjie (Foto: Verskaf)

Dit is egter in hierdie tyd dat sy meer ernstig oor haar swemloopbaan begin word het.

Haar grootste droom is om soos Tatjana Schoemaker en Lara van Niekerk ʼn goue medalje onder ons nasionale vlag by die wêreldkampioenskap te verower.

“Ek sal lieg as ek sê Minke is perfeksionisties in ʼn persoonlike sin, maar wanneer dit by swem kom, is sy ongelooflik detailgeoriënteerd en wil sy alles reg doen.”

Janse van Rensburg sê hy is opgewonde oor haar nuwe wêreldrekord omdat dit nou weer die kollig op die regte plekke laat val.

“Minke het dieselfde wêreldrekord in Desember ook oortref, maar die nuwe wêreldrekord kon nie geregistreer word nie.”

Hy sê dat SASSA-II – die multisportfederasie waaraan Minke behoort – versuim het om die internasionale affiliasiegeld by die Downsindroom- internasionale swemorganisasie (DSISO) betyds te betaal wat hulle verhoed om nuwe wêreldrekords te registreer en daarom ook verhoed om aan internasionale byeenkomste deel te neem.

“Dit is asof SASA-II net nie weet hoe om presterende atlete soos Minke te ondersteun nie.”

Volgens Janse van Rensburg is SASA-II se fondse beperk en word daar geen ondersteuning aan hul dogter verskaf nie.

“Die hoof van SASA-II het aan my verduidelik dat dit sy verantwoordelikheid is om die fondse vir sportkodes ‘wat meer verteenwoordigend van die populasie is’ te gebruik.

“Swem is glo nie verteenwoordigend van Suid-Afrika se populasie nie en daarom kan my dogter nou nie haar uitmuntende prestasies registreer of internasionaal deelneem nie,” sê Janse van Rensburg.

“Die federasie wou nie eers verlede jaar toestemming verleen toe ons self die fondse kon insamel nie, volgens die hoof van SASA-II sou dit ‘dan net die bevoorregtes wees’ wat kon gaan.”

Hy vertel dat hy SASA-II se besluit tot ʼn mate kon verstaan, maar dat dit uiteraard nie regverdig teenoor Minke is nie.

“Sy was genooi om daar te wees en sy kon nie gaan nie.”

Swem Suid-Afrika se president, Alan Fritz, het egter onderneem om die aangeleentheid met die minister van sport, Zizi Kodwa, op te vat.

“Ek vertrou dat Fritz die rekord binne die 28 dae tydperk geregistreer sal kry sodat Minke aan groter en internasionale kompetisies kan bly deelneem.

“Ons bly positief en glo dat Swem SA hierdie wonderlike talentvolle atleet verder sal ontwikkel om haar volle potensiaal te bereik.”

  • Minke het Saterdagaand die wêreldrekord in die 100 m-vryslag vir swemmers met Down se sindroom met byna ‘n sekonde verbeter. Sy het in die multiklas-gestremdheid-item Kate Allwood, ‘n gehoorgestremde swemmer, geklop en eerste geëindig met ‘n tyd van 1 minuut 17.61 sekondes. Mia van der Merwe, ‘n intellektueel gestremde swemmer, het in die derde plek geëindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.