Jong man doodgeskiet ná hy polisiebeampte met mes steek

(Foto: SAPD)

ʼn Polisiebeampte is ernstig beseer en ʼn 21-jarige man is dood ná daar op ʼn klag van huishoudelike geweld gereageer is.

Die polisie is Woensdag na ʼn huis in Rammulotsi buite Viljoenskroon in die Vrystaat ontbied, het kapt. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, gesê.

Sers. Frans Pieterse en konst. Paseka Maseko het by die huis ondersoek ingestel nadat ʼn man die polisie ontbied het omdat sy seun die gesin deur die nag geteister en met ʼn mes gedreig het.

Die seun, Thapelo Ntjato, het die twee beamptes met ʼn mes aangeval toe hulle hom genader het. Pieterse is tydens die voorval in die nek en blad gesteek. Nog polisiebeamptes is na die toneel ontbied en met hul aankoms het Maseko steeds die aanvaller probeer afweer.

Ntjato het toe glo ook die ander polisiebeamptes aangeval en daar is pepersproei en ander afweermaniere gebruik om hom in bedwang te probeer bring. Dit het egter misluk, waarna hy geskiet is. Ntjato is in die arm en maag getref en hy is deur die nooddienste op die toneel dood verklaar.

Pieterse is na ʼn hospitaal in Kroonstad vir mediese behandeling geneem. Hy is in ʼn kritieke maar stabiele toestand.

Sake van moord en poging tot moord is aanhangig gemaak. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ook die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Swerwer ·

Sterkte en spoedige herstel aan die beseerde beamptes. Die SAP lede het reg opgetree en dit is goed dat die misdadigers sien hul nonsens gaan nie meer geduld word nie.

Jaco ·

Die polisie moes van die begin af dieselfde gedoen het soos in die Len Cloete sage…

Nie Verbaas ·

Besef Cele dat daar al vir n geruime tyd geen respek vir uniform bestaan nie? Vra hy die vraag oor wat die rede is? Die eerlike manne in uniform wat hulle werk doen ly onder korruptes se optrede en gedrag.

Agge nee ·

Hy sou nie die polisie so beseer het, as ons polisie vinniger kon optree nie, maar ons polisie mag mos nie optree nie, anders word hulle aangekla van polisiewreedheid.

SjN ·

As jy kan uitdeel moet jy kan vat ook, hoekom hom so veel tyd gegee.

Phumba ·

Ek blameer opleiding. Die beamptes moes die aanvaller geskiet het die oomblik toe hy tot aanval oorgegaan het. Kan nie wag tot een gesteek is nie – dis verregaande. Waar is die beamptes se diens pistole?

Casper ·

Hoekom moord,omdat ‘n skobbejak doodgeskiet is.Dit is ingevolge Art 49 van die strafproseswet noodweer,m a w straffeloos dood.Wat wil OPOD ondersoek.Polisie 1 skobbejak 0.Give hin a Bells.

Arno ·

Hulle het alles probeer om nie die jong man se lewe te kos nie. Mense was al vir minder deur die polisie geskiet, so ek haal my hoed af vir hulle dat hulle ander maniere eers probeer het om hom te stop. Net jammer dit moes so tragies geeindig het. Ek hoop Sersant Pieterse voorspoed in sy herstel.

Di ·

Nie almal kan wegkom met kriminele dade in die land nie! As jy nie wil hoor nie, wel, dan is dit nou maar so. Vat die gevolge van jou dade.

Niklaas ·

Ek moet sê ek bewonder die geduld van die SAP lede in hierdie verband. Hul het besonder lank getalm voordat die doodskoot gesien was as die laaste uitweg. Daai jong oorledene was beslis baie gevaarlik.

twaalfboor ·

Okay….. laat ek die sake van moord en poging tot moord probeer verstaan. Die polisie beampte wat die aanvaller doodgeskiet het, word aangekla van moord. Die “dooie” aanvaller word van poging tot moord aangekla. Eish…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.