Jong man ernstig beseer toe hy teen handreling val  

Aidan Roos voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

Aidan Roos, ʼn belowende jong motorfietsryer, se lewe het handomkeer verander nadat hy met sy gesig teen ʼn handreling geval het.

Aidan doen graag waaghalsige toertjies met sy motorfiets en sou binnekort China toe gaan waar hy sy vaardighede ten toon sou stel.

Dit het egter alles op 9 Februarie verander toe die 19-jarige man van Drie Riviere wegneemkos gaan kry en op ʼn nat vloer gegly het. Dit het die aand gereën. Dit het op die oog af nie gelyk of hy ernstige beserings opgedoen het nie, maar ʼn hospitaalbesoek en X-strale het aan die lig gebring dat hy verskeie gesigsfrakture opgedoen het.

Aidan Roos in die hospitaal (Foto: Verskaf)

Die nodige operasie kon nie weens die swelling uitgevoer word nie en Aidan is huis toe gestuur. Die gesin se mediese fonds wou glo ook nie die koste vir die operasie dek nie en het aangevoer hy moes eerder opgeneem gewees het.

“Hierdie ongeluk het alles vir Aidan verander en het sy blink toekoms tot stilstand gebring,” sê sy ma, Roeline Botha.

Roos het op 19 Februarie ʼn operasie ondergaan om verskeie frakture in sy gesigsbene te herstel. Die prosedure het delikate werk behels om senuwees en spiere te herstel, insluitend die plasing van plate onder die oogkas. Roos se hele frontale skedel het noukeurige rekonstruksie vereis aangesien sy gesig op vyf plekke frakture gehad het.

In die lig van hierdie teëspoed het Roos se familie hulle tot die krag van gemeenskapsondersteuning gewend. Hulle het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy begin.

Die reaksie van die gemeenskap was volgens Botha niks minder nie as wonderbaarlik, met meer as R114 000 wat reeds ingesamel is.

“Ek wil uit die diepte van my hart almal bedank vir hul vrygewigheid, liefde en ondersteuning, en bowenal vir almal se gebede.” Die geld wat ingesamel is, het reeds ʼn beduidende impak gemaak en sy kans op ʼn gesonde, normale lewe verseker, het sy bygevoeg.

Terwyl Roos ʼn suksesvolle operasie ondergaan het, is sy stryd nog lank nie verby nie. Die gesin moet nog geld insamel vir sy nasorg, skanderings, MRI’s en meer.

Aidan Roos en sy ma Roeline Botha (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SANDRA ·

Nou wat help ‘n mediese fonds? Betaal dat jy hop en dan het hulle ‘n verskoning. Dankbaar vir die hulp en bystand wat hulle gekry het.

RissiepitAnna ·

Mediese fondse soos die moet genoem word. Hoekom moet hulle beskerm word ? (ek moes my mediese fonds met n prokureur dreig vir n simpel oog operasie om my sig te verbeter om te kon bestuur) – dit terwyl ek amper R9000 pm moes betaal daarvoor. (alhoewel nooit gebruik nie)

Lettie ·

Due man voer waaghalsige toertjies sonder beserings uit, maar gly op nat vloer? Sy hele toekomsverwagtings daarmee geen. Hoe hartseer. Sterkte seun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.