Jong meisies verloor als in vloede

(Foto: Janelle Barnard, Facebook)

Twee susters van Umdloti, KwaZulu-Natal, moes verslae staan en toekyk hoe al hul besittings deur massas modderwater verswelg word toe hul familiehuis weens vloede oorstroom het.

Honderde mense is die afgelope naweek gedwing om hul huise te ontruim nadat swaar reën KwaZulu-Natal vir die tweede keer in twee maande getref het. Meer as 200 mm reën is in 24 uur in dele van dié provinsie aangemeld.

Janelle en Bianca Barnard was van die slagoffers wat nou dakloos gelaat is weens die swaar reën en vloede.

Die Barnard-susters se familiehuis is die afgelope naweek in minder as 24 uur deur vloedwater vernietig. Dié huis is 28 jaar gelede deur die susters se ouers gebou. Albei ouers is sedertdien oorlede. Met hul ma se dood in 2019 was die susters genoop om hul eie potjie te krap.

Die meisies het nou byna al hul besittings verloor en treur ook oor hul geliefde kat wat in die vloedwaters omgekom het.

Die susters het intussen ʼn Backabuddy-fondsinsameling begin om geld in te samel om hul familiehuis te herbou.

“Dit is so swaar om te sien hoe die modder tot by die huis se plafonne staan. Dit was ʼn surrealistiese beeld – modder wat die meeste van ons besittings vernietig het,” skryf die susters op hul Backabuddy-blad.

“Die seerste is dat ons ʼn troeteldier, onvervangbare familie-erfstukke en albums – van die laaste foto’s wat ons van ons ouers het – verloor het.”

Die susters moet nou tydelike behuising kry totdat hulle die huis kan herbou en ook betaal vir deurlopende veiligheid om dit wat oor is, te bewaak. Hiervoor benodig hulle dringend geldelike hulp en vra lede van die publiek vir finansiële bydraes.

“Hoewel ons huis verseker is, verlig dit nie heeltemal ons finansiële las nie. Ons kort finansiering vir tydelike behuising voordat ons die oorspronklike huis kan begin herbou. Ons moet ook noodsaaklike items koop wat nie deur die versekering gedek word nie, sodat ons ʼn mate van normaliteit kan herwin.”

Dit alles sal die susters sowat R200 000 kos. Tot dusver kon hulle net meer as R80 000 insamel. “Ons vra enigiemand wat enigsins ʼn bydrae kan maak: Help ons om vorentoe te beweeg en ʼn mate van stabiliteit te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Waarnemer ·

Sjoe,ek vertrou die regering se ramphulpfonds sal hulle ook bystaan.

Swerwer ·

Sjoe, dit is verskriklik. Sterkte aan die 2 susters. Daar is altyd lig aan die einde van die donker tonnel.

Marie ·

Die sogenaamde slimstad se ingenieur moet aanspreeklik gehou word. Die vegetasie wat die sand vasgehou het is grotendeels verwyder. Dit is ‘n skande dat sulke ontwikkelingsprojekte toegelaat word.

Kokerboom ·

Probleem is die kaders aanvaar GEEN aanspreeklikheid!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.