Jong orkeslede maak geskiedenis by Voortrekkermonument

Die FAK se jeugsimfonieorkes het Vrydag hulle bekendstellingskonsert in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument gehou. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jeugsimfonieorkes het op Vrydag geskiedenis gemaak tydens hulle bekendstellingskonsert in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument.

Die jeugsimfonieorkes, wat verlede jaar aangekondig is, het onder leiding van Jaco van Staden, dirigent en orkeshoof, tot ’n volwaardige orkes gegroei.

Volgens Jaco kry jong musikante die geleentheid om hul talent te beoefen en ontwikkel en só word “ons musiekerfenis, wat diep in ons Europese herkoms gewortel is”, ook bevorder.

“Ek is ongelooflik trots op die orkes. As ʼn mens dink dat hulle eintlik maar net begin Februarie begin oefen het, het hierdie kinders uitgehaal en gewys,” sê Jaco.

“Hulle het die verwagting van ’n volwaardige simfonieorkes oortref.”

Jaco van Staden, orkeshoof en dirigent van die FAK se jeugsimfonieorkes. (Foto: Verskaf)

’n Ongelooflike atmosfeer het in die Senotaafsaal geheers met die ondersteuning en trots van ouers, oupas en oumas en lede van die publiek wat die konsert bygewoon het.

“Die gehoor het heelwat optimisme en ’n positiewe energie verleen en die orkes het daarvolgens gereageer en ’n pragtige konsert gelewer. Dit was ’n groot sukses.”

Volgens dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument (VTM), het hy nog nooit so iets in die Voortrekkermonument beleef nie.

“Hierdie eerste optrede van die FAK Jeugsimfonieorkes was ongelooflik. Die bywoning was uitstekend.”

Heinrich Sutton, klavierspeler van die Hoërskool Waterkloof. (Foto: Verskaf)

Tydens die konsert is die pragtige klanke van Beethoven se Egmont-ouverture gehoor, asook uittreksels vanuit Edvard Grieg se Peer Gynt-suite. Die konsert is geopen met ’n pragtige klavieruitvoering deur Heinrich Sutton, ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Waterkloof.

Lede van die Suid-Afrikaanse Musiekonderwysersvereniging (SAMOV) het die konsert bygewoon en die terugvoer van dié groep was positief.

Emileo Claassen (13), is een van die jongste lede van die orkes en hoewel hy al vantevore in orkeste gespeel het, vertel hy dat dié orkes se musiek op ’n hoër vlak is.

Anke Kritzinger (15), ’n jong musikant wat die konsert bygewoon het, sê sy is baie beïndruk. “Hulle gaan nog ongelooflike dinge doen.”

Die simfonieorkes is ’n groeiende orkes. Instrumentaliste wat wil aansluit, kan hier kontak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.