Jong pa sterf by werk

Werner Griessel (Foto: Werner Griessel, Facebook)

Twee mans is Sondag dood en ses beseer toe hulle by die County Fair-hoenderverwerkingsaanleg buite Durbanville in die Wes-Kaap vermoedelik deur gas oorval is. Die mense het almal by die verwerkingsaanleg gewerk.

Die familie van een van die oorledenes, Werner Griessel (33), soek nou antwoorde en probeer sin maak van sy skielike dood. Hy laat sy vrou en jong kind agter.

Die voorval het Sondag omstreeks 13:00 plaasgevind. Astral Foods, wat onder meer County Fair besit, ondersoek tans die voorval saam met die betrokke owerhede.

Marlize Keyter, ʼn woordvoerder van Astral Foods, het aan Maroela Media gesê die mans is waarskynlik deur gas oorval, maar hulle weet nog nie watter soort gas dit was nie. Dit moet nou in die ondersoek bepaal word.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 13:30 ontbied. “By paramedici se aankoms op die toneel is hulle na ʼn put gelei waar die betrokke werkers laas gesien is. Hulle het na wat verneem word in die put gewerk toe gasdampe hulle glo oorweldig het,” sê Meiring.

“Paramedici het een man langs die put aangetref, waar hy reeds deur ʼn reddingsbeampte op die perseel behandel is, terwyl twee ander mans uit die put gehaal is.”

Keyter sê die mans het by die afvalverwyderingsaanleg gewerk ten tyde van die voorval, wat apart is van die hoofaanleg.

Paramedici het die mans ondersoek en gevind dat een man geringe asemhalingsprobleme opgedoen het. Die twee ander mans is op die toneel dood verklaar.

Meiring sê die man wat die asemhalingsprobleme ondervind het, is behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere mediese sorg.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het vyf ander werknemers ook asemhalingsprobleme ervaar en is hospitaal toe geneem vir behandeling. Keyter sê vyf is oornag in die hospitaal behandel, maar is intussen ontslaan.

“Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek en ʼn nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die twee mans, onderskeidelik 33 en 34 jaar oud, se dood bevestig,” sê Van Wyk.

Griessel se ma, Sonja, sê die familie is verdwaas en geskok oor Werner se skielike dood en wil verstaan wat presies gebeur het.

“Ons het met Nuwejaar nog ʼn foto van hom en sy gesin ontvang,” vertel Sonja. Sy woon in Nieu-Seeland.

Keyter het Maroela Media verseker dat Astral Foods daartoe verbind is om die oorsaak van die ongeluk te bepaal om enige voorvalle van so ʼn aard in die toekoms te voorkom.

“Die put is in samewerking met die brandweer veilig verklaar ná die voorval. ʼn Deeglike skoonmaak van die area is onderneem en enige voorkomende aksie wat na afloop van die ondersoek aanbeveel word, sal onmiddellik geïmplementeer word.

“Astral het nog nooit so ʼn voorval in die genoemde gebied ervaar nie en dit is gewoonlik nie ʼn gevaarlike proses nie.”

Die polisie vra dat enigiemand met meer inligting oor die voorval die Kraaifontein-polisie by 021 980 5500 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarnemer ·

Vertrou dat Astral die agtergeblewenes sal vergoed vir verlies van inkomste vvif fie volgende 50+ jaar….asook skoolfonfdse,studiegelde ensv.

Piet ·

Ek stem saam, maar ek vermoed hulle gaan die woordjie “jammer” liewers gebruik.

Oros Soros ·

Stuur diegene tronk toe wat daar hoort. Ek dink nie enige geld in die wêreld sal kan vergoed aan die velies van mense lewens. Dit bly op die uiteinde ‘n saak van reg of verkeerd.

Wielspore ·

Beserings en sterftes by die werk moet by die departement van arbeid aangemeld word, sterftes word deur die werkgewer ondersoek met die betrokkenheid van die departement. Dit is net vreemd dat maatskappy nie weet watse gas die mense oorval het, dit beteken daar is geen risiko bepaling gedoen by die aanleg om gevaar sones te bepaal. Voordat enige confined space betree word is ‘n gas toets verpligtend en die werkers ontvang dan ‘n werk permit wat dit veilig maak om te betree.
Sterkte aan die familie.

Danie ·

Ek hoop die ondersoek bepaal die werklike oorsaak en voorkomende maatreels om n herhaling te verhoed.Wel geld kan geen lewe terugbring nie maar goeie vergoeding kan help.Sterkte aan die families

Euodia ·

Ai dit is so tragies!! So n Jong pa en sy ma ou nog oorsee ook. Sterkte aan die familie!

Eugene ·

Dis baie jammer. Was alle papier werk in plek voor die werk gedoen Kon word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.