Jong seun sterk goed aan ná slangbyt

(Foto: Facebook/Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control)

Toe Corlien Becker die afgelope naweek ʼn oproep van haar man kry dat haar jongste deur ʼn slang gepik is, het sy haar boeglam geskrik, sê sy.

Die 13-jarige Hennie Becker, ʼn gr. 8-leerling aan Hoërskool Hartswater, is Vrydag omstreeks 17:15 deur ʼn pofadder in hul motorhuis op hul plaas by Hartswater, Noord-Kaap, gepik.

“Ons het ʼn gasteplaas en my man, ook Hennie, het net van die dorp af teruggekom nadat hy kruideniersware gaan koop het. Hy het vir Klein Hennie gevra om die laaste paar [items] kruideniersware uit die bakkie te haal toe die slang hom gepik het.”

Corlien sê Hennie was nog besig om die kruideniersware uit die bakkie te laai, toe hy skielik voel hoe iets hom pik.

“Hy het die kruideniersware op die grond laat val en in die bakkie gespring toe hy voel hoe iets hom aan sy linkervoet beetkry.

“Toe hy sy voet oplig om te kyk wat dit kon wees, het hy net drie gaatjies gesien en onmiddellik besef dat ʼn slang hom gepik het. Hy het sy pa daarna dadelik om hulp geroep.”

Hennie en sy pa het toe in die motorhuis rondgekyk om vas te stel watter soort slang hom gepik het. Hulle het kort daarna op die pofadder afgekom.

Corlien was ten tyde van die voorval in haar salon, wat ook op die plaas is.

“Ek was besig met admin toe ek die oproep kry. ʼn Mens skrik so groot jy weet nie wat om te doen nie,” vertel sy.

Die gesin se huisdokter het dadelik ʼn internis gebel om uit te vind watter hospitaal die regte teengif het om vir Hennie te behandel. Die pa en seun het toe reguit na die Lenmed Royal Hospital And Heart Centre in Kimberley – ongeveer 120 km van die plaas – gejaag.

“Ek was al saam met hulle in die bakkie toe my man sê dat ek eerder by ons dogter, Ashlin (14), op die plaas moet bly terwyl hulle hospitaal toe jaag.” Sy het toe sommer later dieselfde middag self die slang doodgemaak en van die dier ontslae geraak.

(Foto: Facebook/Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control)

Corlien sê Hennie is al van kindsbeen behep met slange en was ná die voorval eintlik heel rustig.

“Hy weet watter soort slang watter skade kan aanrig. Hy het ons vertel dat ʼn pofadderbyt gewoonlik die weefsel aanval en dat ʼn mens nie noodwendig daarvan kan doodgaan nie. Ons was egter bang dat hy moontlik sy voet kon verloor.

“Hy het egter glad nie pyn in sy linkervoet gevoel nie. Ek dink dit was die adrenalien, hy moes homself ook seker lam geskrik het.”

Corlien sê sy en haar man het ook ʼn rukkie gelede ʼn artikel oor feite en fiksie oor slange gelees wat hulle heelwat op die voorval voorberei het.

“Te danke aan die artikel het ons geweet dat hy sy voet (die bytplek) bokant sy hart moet hou. Ons het hom dadelik aangeraai om dit te doen terwyl hulle hospitaal toe gejaag het.”

(Foto: Facebook/Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control)

Teengif het nare nagevolge

By die hospitaal het die dokters hulle ingewag en Hennie is dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem.

“Die dokters het dadelik bloedtoetse gedoen om te kyk of Hennie dalk enige allergiese reaksies toon. Hulle het toe die teengif via ʼn drup toegedien.”

Volgens Corlien het Hennie se liggaam in skok gegaan en  ʼn teenreaksie getoon.

“Hennie het verskriklik begin bewe en koud gekry. Alles het gebewe behalwe sy linkervoet waar die slang hom gepik het. Hy was ook ongelooflik naar en sy kop was baie seer.

“Ek het in daai tyd weer met hom oor die foon gesels, en kon hoor hy was nie meer so rustig soos vroeër nie.

“Ek het groot geskrik en net dadelik vir my seuntjie begin bid. Toe hulle die teengif spuit en hy al slegter begin voel, was hierdie ma-hart van my in stukke. Ek het besef dat teengif soms gevaarliker as die slangbyt self kan wees en my kop het met my weggehardloop.”

(Foto: Facebook/Boland Snake Removals 24/7 and Pest Control)

Corlien sê die mediese personeel was egter baie gaaf en het hulle deurgaans gerus gestel.

“Daar mag nie eintlik besoekers in die hoësorgeenheid wees nie, maar hulle het my man by Hennie laat bly totdat hy so teen 00:00 aan die slaap geraak het.”

Corlien en Ashlin het die Saterdagoggend vroeg in die pad geval om te gaan kyk of Hennie al beter voel.

“Ons kon nie die personeel heeltyd bel om te hoor hoe dit met hom gaan nie, so ons het nie geweet wat om te verwag nie, maar toe ons omtrent  06:00 by hom in die hospitaal instap het hy van oor tot oor geglimlag, dit is toe dat my ma-hart eers rustiger geraak het.”

Volgens Corlien was die resultate daarna deurgaans positief.

“Hulle het sy wond en die swelling noukeurig gemonitor om seker te maak dat sy linkervoet nie verkleur nie – wat sou beteken dat daar verrotting in sy wond is.

“Alles het egter in ons guns gewerk. Die Here het ons gebede verhoor en Hennie het vinnig aangesterk. Hy is laat Saterdagmiddag uit die hoësorgeenheid na ʼn private saal oorgeplaas en is Sondag uit die hospitaal ontslaan. Hy het sommer self daar uitgeloop,” vertel sy trots.

“Hennie gaan nog paar dae anti-inflammatoriese medikasie moet drink en hy het ʼn salf wat ons gedurig aan sy wond moet smeer, maar hy is terug op die plaas waar hy hoort.”

En op die vraag oor hoe Hennie nou oor slange voel, skerts sy ma “hy het hierdie slangbyt oorleef en nou is hy sommer nog meer behep met slange; daar is nie ʼn bang haar op sy kop nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

Dankie Corlien dat jy die regte ding gedoen het en die slang dood gemaak het.Leer asb. jou seun dat die slang jou aan die hakskeen sal byt en jy sal sy kop vermorsel.

Corlien ·

@Pampoen. Die slang het hom 2 keer gepik, een van die byte was net skrams. Na ñ dag het die 4de merkie ook liggies gewys.

Miena ·

@Casper – mens maak nie net slange dood nie. Hulle is n belangrike doel in die ekosisteem. Plaag beheer. Ons as slangvangers probeer om mense se siening oor slange te verander. Ek was ook soos jy 3 jaar gelede en toe gaan leer ek meer van slange en gaan vir n hanteerders kursus. Dis die vrees vir die onbekende dat mens reageer soos “maak dood”.
Corlien – sterkte vir julle. Ek kan met graagte aanbeveel dat julle n kursus doen in slang hantering. Siende dat julle gaste ontvang op die plaas is dit net voordelig.

Michael ·

Die slang is gedood dit moet meer gebeur,dit het nou n statussimbool geword om giftige slange te vang en weer vry te laat om iemand ander te byt.

Mike ·

“Hou die bytplek bo die hart”. Dankie nou het ek ook iets geleer.

ES ·

Wel gedaan! Die belangrikste is dat mens moet kophou in so situasie. Sterkte en beterskap vir Hennie.

M ·

Interessant. Oplees werk, na die lees van die bg berig, wys almal daarop dat die bytwond “onder” die hart gehou moet word, ten einde die vloei van die gif na belangrike organe te keer. Maroela kan ons almal dalk help deur die raad/hulp van ‘n “Slang-deskundige” as artikel te bied. Dankie.
Ek is baie dankbaar dat die jong seun se lewe gespaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.