Jongste moordsyfer laat oudpolisiemanne sidder

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

In Suid-Afrika is 7 555 mense tussen Oktober en Desember verlede jaar vermoor. Dit is meer as die 7 199 burgerlikes wat in ’n jaar in Oekraïne gesterf het, nadat Rusland dié land binnegeval het.

Byna dubbel soveel moorde is boonop daagliks tussen Oktober en Desember in Suid-Afrika aangemeld, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2011.

Twee misdaadkenners (albei oudpolisiebeamptes) sê nou dié syfers bevestig wat al ’n geruime tyd gevrees word: ’n Suid-Afrikaanse lewe het goedkoop geword.

“Is misdaad buite beheer? Nee, misdaad beheer,” meen dr. Hennie Lochner, ’n onafhanklike navorser en forensiese deskundige.

Lochner glo moord is die enigste misdaad waarvan die statistieke betroubaar is, aangesien doodsertifikate “nie jok nie”.

Volgens dr. Johan Burger, ’n onafhanklike misdaadkenner en navorser, se statistieke styg die moordkoers al langer as ’n dekade jaar ná jaar, met die uitsondering van die 2020-’21-boekjaar, toe algehele afsondering weens die Covid-19-pandemie ingestel is.

Burger het Maroela Media vandeesweek daarop gewys dat 15 609 moorde gedurende die 2011‑’12-boekjaar in Suid-Afrika gepleeg is. Dit het destyds neergekom op 42 moorde per dag en ’n moordkoers van 30 per 100 000 van die bevolking.

Dit is 11 jaar later en gemiddeld 82 moorde per dag is tydens die derde kwartaal van die 2022-’23-boekjaar gepleeg. Daar is ook tans 15 000 minder opgeleide polisiebeamptes vergeleke met ’n dekade gelede.

Burger vermoed die moordkoers kan teen einde Maart tot 46 per 100 000 van die bevolking styg. Projeksies toon boonop dat die moordkoers sterk op pad is na 49 per 100 000 van die bevolking.

“Dié projeksie is egter redelik pessimisties,” gee Burger toe.

(Argieffoto: Unsplash)

Werkloosheid nie enigste faktor

Min. Bheki Cele het verlede week met die bekendmaking van die jongste misdaadstatistieke gesê hoë werkloosheid- en armoedevlakke, die uitbreiding van informele nedersettings met geen of min dienste en ander sosio-ekonomiese euwels kweek misdadigheid.

Hoewel Burger hiermee saamstem, glo hy ’n “potpourri van faktore” het Suid-Afrika tot op hierdie punt gelei, waarvan werkloosheid maar net een is.

Hy glo staatskaping het oor die afgelope jare daartoe gelei dat die strafregstelsel tot groot mate sy tande en afskrikkingsvermoë verloor het. “Georganiseerde misdaadgroepe het eenvoudig hier ’n gaping gesien en buit die situasie uit.

“Hoe minder doeltreffend die strafregstelsel, hoe meer ruimte vir georganiseerde misdaadgroepe. En dis wat ons nou sien. Die vloed van misdaad oorweldig die strafregstelsel,” sê Burger.

Niks minder nie as 272 mense het tussen Oktober en Desember verlede jaar aan die hand van bendes gesterf. Bendegeweld vorm deel van georganiseerde misdaad wat aan die toeneem is, aldus Burger.

Burger sê hy het kort ná die bekendmaking van die jongste misdaadstatistieke telefonies met min. Bheki Cele gesels en hy kry wel die indruk dat die minister deeglik bewus is van die tendens van georganiseerde misdaad wat kop uitsteek.

(Argieffoto: Max Kleinen)

Luidens die jongste misdaadstatistieke kan 1 164 uit die 7 555 moorde tyens die derde kwartaal aan argumente, misverstande en uitlokking toegeskryf word.

Altesaam 536 moorde is gepleeg toe die gemeenskappe eiereg gebruik het terwyl 413 onder die afdeling vergelding en wraak gekategoriseer word.

Altesaam 403 mense is in die derde kwartaal tydens rooftogte vermoor en 11 mense is tussen Oktober en Desember 2022 op plase om die lewe gebring.

In 3 144 gevalle is die moord met ’n vuurwapen gepleeg, terwyl 2 498 mense met ander wapens soos messe, skerp of stomp voorwerpe, bakstene – en in talle gevalle met die kaal hand – vermoor is.

Burger sê hy word dikwels gevra of daar lig aan die einde van die moordtonnel is.

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

“’n Mens wil nie negatief wees nie, maar ek sien nie onmiddellike lig nie. Ek kan nie sien dat daar iets binne die volgende jaar, twee, drie óf selfs vier gaan verander nie.”

Burger sê daar is politieke retoriek maar eenvoudig geen politieke wil om die moordtrein tot stilstand te dwing nie.

“My voorspelling is dat dit waarskynlik in die afsienbare toekoms nog slegter met ons sal gaan, voordat verandering op ’n manier – uit nood – gaan kom.”

Lochner het self weinig hoop. “Ons moet baie bekommerd wees in hierdie land. Ons kan nie meer moord beheer nie, want die kleiner misdade is nie onder beheer nie.”

Hy stel dus voor dat die reeds oorweldigde Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kleiner misdade éérs behoorlik begin aanpak.

“Om groot misdaad stop te sit, moet jy kleiner misdaad in toom hou. Dis ’n feit. Jy kan enige polisieman vra. ’n Boef groei in sy misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gerhard ·

Jaaaaaaaaaaaa……dit ook nog….met die Eskom debakel sal die misdaad net nog meer toeneem, veral in loadshedding tyd en ook mense wat hulle werk a.g.v loadshedding verloor. Ek klink seker soos ‘n pesimis, maar ek is ook realisties gesien in die lig van hoeveel besighede net in ons dorp die afgelope maand of twee – drie hulle deure moes sluit omdat hulle nie meer kan kop bo water hou met die loadshedding nie. Dus, hulle werknemers raak deel van die werkloosheidstatistiek, wat dan weer tot misdaadstatistiek en ook moordstatistiek bydra. ANC, julle kry die Oscar vir hierdie rippeleffek wat julle onbevoegdheid veroorsaak. Enough said.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mislukte staat. Mafia staat. Ekstrimistiese staat. Totale anargie. Wat wil die slimmes nog hoor?

Piet ·

Moorde, werkloosheid, bendegeweld gemeenskap geweld ens is alles simptome van ons. land se verval.
Die regering praat altyd van almal moet saam werk, maar enige raad of bydraes word geignoreer of afgemaak met SHARRUP!!!!.

OW ·

Die minister weet wat die probleme is,maar kan dit nie onder beheer bring nie.Hy sê self die uitbreiding van informele nedersettings kweek misdadigheid.Met die regering sê power grensbeheer wat in elkgeval soos sponse is,het ek nie veel hoop dat dit ooit opgelos sal word nie.Lesufi,toe nog LUR van onderwys het self gesê dat ANC staan vir African National Congres.Almal in Afrika is welkom hier.Met hierdie uitspraak gaan daar nie maklik oplossings gevind word nie.

Kobie ·

G’n wonder ek sukkel van April 2022 af om my Vuurwapenlisesie te hernu … ingegee by Kabega Park se SAPS en geen terugvoer van enige iemand in die diens nie … nie plaaslik of in Pretoria nie!

Pietertjie ·

Viva democracy! Wat van nog ‘n minister? Of sommer twee, want daai syfers het baie breinkrag nodig om te verstaan.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Jammer, maar ek sien geen hoop of verbetering onder die ANC se bewind nie. Daar is geen politieke wil om te verander of te verbeter nie en die ANC het hulle in elk geval nog nooit aan enige goeie raad gesteur nie. Hulle dink hulle het al die kennis in pag en maak en breek soos hulle lus het. Met die gevolg, ñ totale verval in wet en orde. Die doodstraf in my oë sou beslis goeie orde geskep het, maar die kroonwild mag nie aangeraak word nie. Eintlik weet ons almal wat die oplossing is, ñ regime verandering o.a.

Wondermaarnet ·

Lieflik! Onbevoegde mense aan die stuur en die ANC het bloed aan hul hande.

marius ·

Hierdie is net die begin van totale anargie. Dit sal nie gekeer word nie . Glo dit maar.

Danie ·

Totale verval van die staat en sy sogenaamde veiligheids magte.Mense kyk na julle eie omstandighede en wees paraad.Vergeet van enige polisie hulp hulle kan hulle nie eers self red nie.

trotsNAMSA ·

Ons morele standaarde het verval. Geen respek vir die gereg of howe. Waar begin alles ? In die huis. Sonder GOD en leiding van ouers of familie. SA’ners praat van die kantlyn af maar niemand doen iets in hul gemeenskappe nie. Meer Polisie lede gaan nie help nie. Die SAPD kan nie in elke huis, straat en dorp gestasioneer word nie. So doen iets as burger van die land, staan saam en rapporteer enige onwettige bedrywighede. Ongelukkig is daar die burgers wat ook deelneem aan onwettige bedrywighede en heerlik saam praat.

;) Die SAPD bestaan ook uit
Polisievrouens !

Nico ·

Verander die Demokratiese na die Teokratiese wat direk onder die beheer van God die Skepper.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.