Jongste verwikkelinge rondom AiG in Kaapstad

Die Afrikaans is Groot-verhoog in Pretoria. (Foto: Henry Engelbrecht)

Die organiseerders van Afrikaans is Groot (AiG) het Dinsdag gesê daar is in die stadium nog geen nuwe moontlike datums beskikbaar in Kaapstad vir die Wes-Kaapse deel van dié megamusiekkonserte nie.

Johan C Venter, woordvoerder vir AiG, het in Februarie aan Maroela Media bevestig dat die konserte uitgestel is. Hy het egter benadruk dat dit nie afgestel is nie.

Die Kaapse konserte sou op 21 en 22 Maart by die GrandWest Casino plaasgevind het, nadat al nege die konserte in Pretoria uitverkoop het.

AiG se organiseerders het gesê hulle besluit om die Kaapse konserte uit te stel, is geneem omdat daar ʼn moontlikheid was dat dié konserte nie aan gehore se verwagtinge sou voldoen nie.

“Die gehalte van die Pretoria-konserte het ʼn verwagting by konsertgangers geskep. Ons is nou op ʼn plek waar mense meer ongelukkig sou wees as die konserte sou voortgaan en dit nie op dieselfde standaard as Pretoria sʼn is nie, as dat die konserte net uitgestel word,” het Venter toe aan Maroela Media gesê.

Talle Kaapse ondersteuners van die megakonserte het hulle misnoeë uitgespreek oor die uitstel van die konserte en het ook vrae gehad oor hoe hulle vergoed sal word vir die kaartjies wat hulle reeds gekoop het.

Venter het bevestig duisende konsertgangers wat kaartjies vir AiG se 2020-konserte in Kaapstad aangeskaf het, se geld is reeds terugbetaal. “Die proses duur ook steeds elke dag voort en ons doen ʼn beroep op mense om Computicket in hierdie verband te kontak.”

Steve Hofmeyr by Afrikaans is Groot. (Foto: Afrikaans is Groot/Facebook)

In die tussentyd het die sanger Steve Hofmeyr Dinsdag in ʼn inskrywing op sy Facebook-blad gesê hy sal volgende week meer sê oor sy toekoms by AiG.

“Ek maak Maandagoggend my gedagtes oor Afrikaans is Groot bekend en my toekoms daar. Dis tyd om te praat,” het Hofmeyr geskryf.

Venter het op ʼn navraag hieroor gesê AiG is bewus van Hofmeyr se inskrywing en hulle wag om te sien wat hy gaan plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Diertjie ·

Jy bly n champ Steve!! Geen meer AIG vir my as jy nie ook optree nie!!!!

Liesbet ·

Krone beter as AIG, het al vir 4 jaar albei konserte in die Kaap gaan kyk, hierdie jaar het ek besluit om nie kaartjies vir AIG te koop nie, waaroor ek nou baie bly is

Therese ·

Van Doer Onder tot elke uithoek waar Saffas hul bevind, is dit glashelder dat Steve Hofmeyr Afrikaans is Groot se Gróót Trekpleister is, maar in SA wil die besef net nie deurdring nie.
Dit wil dus voorkom of organiseerders en borge, sowel as mede-kunstenaars, almal in mindere of meerdere mate ly aan terminale politieke korrektheid ( skynheilige kortsigtigheid ).
Praat van jouself in die voet skiet!

Namib ·

SH is arrogant en te vol van homself! Hy gee my ‘n pyn waar ek nie ‘n pyn wil hê nie. Hy maak soms wilde uitsprake en as dit dan op hom “backfire” draai hy vinnig om en bak mooi broodjies om weer in guns te kom.

Marina ·

Ai, dit nog nooit ondervind. Maar nouja as mens nie van iemand hou dien jy dinge toe om jouself beter te laat voel. Graag wil ek weet wat doen Steve verkeerd dat sekere mense hom uit die weg en van die verhoog af wil hê? is dit dan so verkeerd om vir jou taal en mense op te kom?

Jax ·

Afrikaans is groot sien my nie weer nie. Enige kunstenaar wat in Afrikaans optree, behoort toegelaat te word. Enige uitsluiting is n klap in Afrikaans se gesig! Dit is waaroor dit gaan – sing in Afrikaans! Wat op aarde het sing/optree in Afrikaans enigsinds te make met politiek- en Ander uitlatings? As ons nie eens in ontspanne sang en saam sing bymekaar kan Kom nie; hoe moet mens dan eens kan hoop om op enige ander vlak van n lewensreis, bymekaar kan Kom. Liewe hemel mense. Ek staan geskok en toekyk hoe gesoute kunstenaars in die rug gesteek en vertrap word oor onsin!
Dit skaam my om te dink dat een so aaklig kan optree teen oor sy/haar mede-burger en taalgenoot!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.