Juan Boucher in Namibië aangehou ná permit-flater

Juan Boucher. (Foto: Maroela Media)

Die lang arm van die gereg het die afgelope naweek die sanger en liedjieskrywer Juan Boucher ‘n dwarsklap gegee toe hy in Namibië in hegtenis geneem is as gevolg van foutiewe reisdokumente.

Boucher, sy vrou, Shamodene, en sy kitaarspeler, Rudi Kleingeld, is Saterdag te midde van ‘n vertoning in Walvisbaai deur immigrasiebeamptes aangekeer.

Shamodene is reeds Saterdag vrygelaat, aangesien sy en Boucher ‘n ses maande oue baba by die huis het. Boucher en Kleingeld is egter eers Dinsdag vrygelaat uit die aanhoudingselle waar hulle sedert Saterdagaand aangehou is.

Nadat hulle Woensdagoggend in die hof in Walvisbaai verskyn het, het hulle die eerste beskikbare vlug na die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gehaal.

Boucher vertel aan Maroela Media hy het die naweek twee optredes in Namibië gehad. Hy het Vrydagaand voor ‘n gehoor van duisende mense opgetree tydens die Outjo-wildsfees in Outjo.

“Dit was ongelooflik lekker. Ek het baie Namibiese aanhangers en is met ope arms ontvang,” sê Boucher.

Daarna is hy en sy geselskap na Walvisbaai, waar hy die Saterdagaand opgetree het.

Hier het ‘n immigrasiebeampte vir Shamodene, wat in die gehoor gesit het, genader en gevra vir hulle reisdokumentasie.

Boucher en Kleingeld was op die verhoog en salig onbewus van wat aangaan. Dié twee musikante is eers later deur Shamodene ingelig dat hulle in die moeilikheid is.

‘n Administrasiefout het tussen die onderskeie agente in Suid-Afrika en Namibië, wat Boucher se vertonings bespreek het, ingeglip. Die werkspermit wat hy en Kleingeld bekom het, het slegs die Vrydagaand se vertoning in Outjo aangedui, met geen aanduiding van die vertoning in Walvisbaai nie.

“Ons het dadelik besef dat die beamptes glad nie gelukkig was met ons nie, maar hulle het ons nie sleg behandel nie.Toe hulle vir ons verduidelik wat die probleem is met ons werkspermitte, was ons uit die veld geslaan,” vertel Boucher.

“Ons het geen idee gehad dat daar fout was met ons reisdokumente nie. Ons as kunstenaars het administratiewe persone wat ons help met dié soort dokumente, en ons het aangeneem alles is reg.”

Boucher benadruk dat die beamptes bloot hulle pligte nagekom het. “Ons het Namibië se reëls oortree, al was ons nie aanvanklik bewus daarvan nie. Die feit van die saak is dat hulle nie administratiewe foute aanvaar nie.”

Shamodene het ‘n Namibiese prokureur genader om hulle by te staan. “Daar is mooi na ons omgesien in die aanhoudingselle. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek in so ‘n situasie was,” sê Boucher.

Hy en Kleingeld is Dinsdag op borgtog vrygelaat en moes ‘n boete van N$3 000 (sowat R3 200) betaal nadat hulle skuldig gepleit het op die oortreding.

Boucher wil sy kollegas in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf bewus maak daarvan dat hulle self ook moet seker maak hulle reisdokumente is volledig en korrek voordat hulle na die buiteland reis.

“Dis uiters belangrik dat jy elke plek waar jy gaan werk, spesifiseer. Jou visum en werkspermit moet daarmee ooreenstem. Wanneer daar vrae gevra word, maak seker dat jy die regte antwoorde het. Die kleinste fout kan jou in groot moeilikheid laat beland. Dit het my ‘n paar rand gekos om weer vry te wees, en ek is dankbaar om terug te wees in Suid-Afrika by my vrou en dogtertjie.”

Hy sê hy het baie uit dié ondervinding geleer. “Ek en Rudi het mooi na mekaar gekyk en mekaar bygestaan. Ons prokureur het ons deurgaans moed ingepraat en wonderlik ondersteun; so ook Shamodene en ons vriende in Swakopmund, wat vir ons blyplek verskaf het totdat ons kon terugkom Suid-Afrika toe. Daar was ‘n hele paar mense wat ons onwrikbaar bygestaan het, en ons sê uit ons harte dankie daarvoor – julle weet wie julle is.”

Volgens Boucher het niemand kanse probeer vat nie. “Ons doen altyd alles op die regte manier en volg die prosedures soos ons moet. Ons almal het ‘n les geleer en deur ‘n vreesaanjaende tyd gegaan. Ek het baie respek vir Namibië en glo nog steeds dit is die mooiste land op die Afrika-vasteland.”

Intussen het die splinternuwe musiekvideo vir Boucher se liedjie getiteld “Vreemdeling” Woensdag vir die eerste keer die lig gesien.

“Ek het ook nou die video vir die eerste keer gesien nadat ek tuisgekom het,” vertel hy, en sê “Vreemdeling” is ‘n gepaste liedjie vir die situasie waarin hy homself die afgelope paar dae bevind het.

“Die liedjie gaan juis oor hoe vinnig iets van jou weggevat kan word as jy nie dinge volgens die boek doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

AmY ·

Dieselfde het destyds met die sangeres Andriette Norman ook gebeur. Sy was sommer in die selle gegooi as ek reg onthou.

Christine ·

Sjoe, hulle is streng. So ‘n werkspermit gee nie net toestemming dat jy ksn werk vir daai tydperk in daai land nie, ook elke dorpie waar jy gaan werk! Eish!

Swerwer ·

Dit is reg Christene. Selfs as jy met vakansie gaan of familie gaan kuier moet jy verklaar waarheen jy gaan , elke dorp se naam is belangrik en jy moet ‘n spesifieke adres ook gee.

Voilet ·

Sjoe dit is aaklig. Ek hoop die admin persoon doen nou nog meer die werk deeglik

Swerwer ·

Gelukkig is die Beamptes in Namibië meer ondersteunend en hulpvaardig as wat dit hier is.

Marcello ·

Ja, want hier word ‘n vrou sommer deur Polisie MANNE agter in ‘n vangwa gelaai, en word met haar die hele dorp vol gery, Sonder om uittevind of dit waar is waarvoor sy (gehoor sê) aangekla word. en dan is hulle nog uiters sarkasties met haar huismense ook !!!

Namgrl ·

?
Leer ons dan nie maar almal uit ons foute nie? Administratiewe fout was begaan. Niks te doen met ons Beamptes nie….Net hul werk gedoen.

Lourens ·

En dit was nodig om hom gedurende sy vertoning in hegtenis te neem, en dan nog aan te hou tot Dinsdag? Hulle kon nie maar wag tot na die tyd, of dit voor die vertoning gedoen het nie? Dan kon hy mos maar onmiddellik teruggekeer het SA toe?
Hier skyn ‘n mate van moedswilligheid te wees.

Surfer ·

So duidelik soos daglig, daai imigrasie beampte is geplant daar. Wonder of Juanita ook daar was?? LOL.

piet ·

Klink vir my ook so. Dis nie asof hy geen permit gehad het om daar te wees nie. Hulle kon net seker gemaak het dat hy onmiddellik die land verlaat na die konsert. Geen rede om hom aan te hou nie.

Niklaas ·

Sorg maar net dat jou admin personeel wakker word uit hul koma. Dis sommer ‘n dom fout wat gemaak is.

Deidré ·

Wow dis wonderlik om te sien dat hulle verantwoordelikheid vat en nie net balme shift doen nie, dit se nogals baie van iemand. Almal maak foute maar hoe jy dit hanteer en regstel is die belangrikste. Hulle kan dankbaar wees dit het in n land gebeur waar hulle beamtes, alhoewel hulle net hulle werk doen dit wel verstaan het en nie arrogant en ongeskik geraak het nie, hier by ons is dit half hoe hulle almal optree van nature.
Wonderlike dat almal darm veilig tuis is.

TRP ·

‘n Baie duur administrasie fout. Ek verstaan dat ek ook sal aanvaar alles is in orde as iemand betaal word daarvoor. Wel ek is baie bly als het ten goede uitegewerk. Ek sou darm maar werklik my polse gekou het as ek sy vertoning die einde van die maand moes mis.

Piet parys ·

Seker bang SA sangers maak te veel geld uit SUIDWES . EK dink persoonlik dit was aspris so gereel daarom is hulle eers op die 2de vertoning genader. .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.