Kaalvoet in boom om kat te red

Lindo Mbele, ’n leerling-inspekteur van die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), het kaalvoet in die boom geklim om die katjie te red (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Lindo Mbele, ’n leerling-inspekteur van die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), het ʼn dierreddingsoperasie letterlik na nuwe hoogtes geneem toe hy kaalvoet in ’n 25 meter hoë boom geklim het om ʼn babakatjie te red.

Volgens Jaco Pieterse, die DBV se hoofinspekteur, is Mbele Maandag vroegoggend na ’n huis in Belgravia, Kaapstad, ontbied nadat die familie se geliefde katjie die vorige dag in die boom geklim het en nie weer haar pad terug grond toe kon vind nie.

“Die katjie was byna aan die bopunt van die boom, in wese vasgevang, en het vir haar lewe aan die boom se takke vasgeklou,” vertel Pieterse.

Met Mbele se aankoms by die huis het hy die kat uit die boom hoor roep, wat hom tot aksie laat oorgaan het.

Die boom waarin die kat vasgesit het, is sowat 25 meter hoog (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

“Ek het gekyk hoe die boom se takke lê en tot die gevolgtrekking gekom dat ek tot bo sal kan klim. Daar was baie takke om as vastrapplek te gebruik. Ek het egter besef ek sal dit kaalvoet moet doen. Ek het ook geweet ek sal nie met ’n kathokkie kan opklim nie, want ek het albei my hande nodig kry om te klim,” vertel Mbele.

Mbele het kreatief geraak en sy rugsak leeggemaak om as ’n tydelike mandjie te gebruik. Hy het sy sokkies en skoene uitgetrek om die beste moontlike greep op die takke te verseker.

Mbele het kreatief geraak en sy rugsak leeggemaak om as ’n tydelike mandjie te gebruik. Hy het sy sokkies en skoene uitgetrek om die beste moontlike greep op die takke te verseker (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Dié kaalvoetheld, soos hy nou bekendstaan, het tot bo geklim, die kat in sy rugsak gesit en weer afgeklim.

“Dit het my ongeveer 25 minute geneem om die katjie te bereik. Sy het ’n bietjie oorreding nodig gehad om na my toe te kom en om haar in my sak te kry. Ek het stadig afgeklim, want ek moes aanhou kyk na haar.

“Ek was vir meer as ’n uur in die boom, maar dit was die moeite werd toe ek haar kon teruggee aan die familie, wat baie lief is vir haar.”

Die eienaars was baie verlig en dankbaar toe hulle weer hul geliefde dierekind in hul arms kon vashou.

Behalwe dat die diertjie honger en dors was en ook koud gekry het, het die klein katjie ongedeerd van haar ekspedisie afgekom.

Lindo Mbele, ’n leerling-inspekteur van die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), word as ‘n held beskou (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Volgens Pieterse was Mbele gedryf deur deernis en het merkwaardige moed aan die dag gelê te midde van ’n uitdagende reddingsoperasie.

“Ek dink hy is ’n held,” sê hy.

Behalwe dat die diertjie honger en dors was en ook koud gekry het, het die klein katjie ongedeerd van haar ekspedisie afgekom (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Oujongvrou ·

Ek hoop van harte hy het groot belongings gekry. Mooi gedoen mnr Mbele. Jys n voorbeeld vir baie jongmense. .

Ronel ·

As ek kon sou ek jou nou ‘n drukkie gegee het – wonderlik om te dink daar is nog mense soos jy wat vir diere omgee!!!

Sonblom ·

Ek het baie respek vir mense wat diere so mooi en met geduld behandel. Respek, Lindo Mbele, respek.

MC ·

Ag dierbaar, wat ‘n pragtige opbouende storie. My oorlede pa, ‘n boer in murg en been het geglo ‘n mens wat nie vir ‘n dier kan lief wees nie, kan nie lief wees vir God nie. Well done jongman, jy is beslis ‘n held.

Sandra ·

Jinne Lindo, jy is voorwaar ‘n held wat die klein katjie gered het. Jy gaan ‘n goeie inspekteur maak met jou deurnis en liefde vir diere, en die feit dat jy kans gesien het om die klein dingetjie uit die boom te haal spreek boekdele oor jou persoonlikheid.

Christelle ·

Die wereld kort meer mense soo jy Mnr Lindo!!!!! Baie dankie!!!! Jy sal ryklik geseën word! Jy is n held!
Dankie vir die mooi positiewe artikel. Hierdie laat mens nog glo dat daar goed in die wêreld is.

trotsNAMSA ·

My hart klop sommer nou warmer. Kaap die Goeie Hoop DBV se personeel is fantasies en hul werk van hoogstaande gehalte. Dankie LINDO !
Oranje katte beproef ‘n mens tot die uiterse ! Ek het een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.