WoF het op Twitter gesê ʼn helikopterambulans is na die toneel ontbied. Halo Aviation, wat mediese nooddienste verskaf, het bevestig dat een persoon in die ongeluk dood is. Dit is nog nie duidelik hoeveel mense in die helikopter was nie.
Die reusebrand wat verlede Sondag in Muizenberg uitgebreek het, was teen Vrydag onder beheer. Brandbestryders is egter oor die naweek ingespan om seker te maak die brand vlam nie weer op nie. Die brand het in die week na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei.
Teen Woensdag moes sowat 500 mense hul huise ontruim en ʼn brandbestryder het brandwonde opgedoen. Altesaam 52 verswakte bejaardes van die Noordhoek-aftreeoord moes vir rookinaseming behandel word. Meer as 2 000 mense het gehelp om die brand te bestry. Ongeveer 2 miljoen liter water is met 2 000 waterbomme oor die brand gestort.