Kaapse gebou in puin ná brand

Die gebou na die brand geblus is (Foto: Fire and Rescue Service)

Brandbestryders het vyf uur lank gespook om ʼn brand wat Woensdagoggend in ʼn gebou in Albertusstraat in die Kaapstadse middestad uitgebreek het, in bedwang te bring.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê die dienste is omstreeks 01:00 na die toneel ontbied.

“Altesaam 70 brandbestryders het met 17 brandwaens ingespring en gehelp om die brand te blus. Die brand is net na 06:00 onder beheer gebring,” het Carelse gesê.

“Die gebou is verwoes, maar gelukkig is niemand beseer nie.”

Volgens Carelse kon die brandbestryders keer dat die brand na die kunsgalery langs die gebou versprei.

Die gebou is verwoes deur die brand (Foto: Fire and Rescue Service)

ʼn Bou-inspekteur is intussen gevra om die veiligheid van die struktuur te bepaal.

“Die oorsaak van die brand is nog onbekend.”

In ʼn afsonderlike voorval in Kaapstad is een mens dood toe ʼn brand Maandagoggend in die Vrygrond-gebied uitgebreek het. Informele nedersettings in Appelpad is ook in vlamme gehul.

“Drie huise en verskeie informele strukture is vernietig en ʼn aantal inwoners is dakloos gelaat.”

Die liggaam van ʼn man is in een van die informele strukture aangetref.

“Geen verdere beserings is aangemeld nie en die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.