Kaapse strande gesluit weens riool

Inwoners word gewaarsku om nie van die strande gebruik te maak nie. (Foto: Dr. Zahid Badroodien/Twitter)

Twee van die gewildste strande in Kampsbaai is die afgelope naweek gesluit nadat twee rioolpompe in die omgewing skielik Vrydagaand onklaar geraak het.

Dit het veroorsaak dat die nabygeleë afvalpyplynstasie deur riool oorstroom is en spanne genoop was om die rioolwater in die see te stort.

Die Stad Kaapstad se departement van sanitasie het die Kampsbaaistrand, Glen-strand asook die Maidens Cove-getypoele tot verdere kennisgewing gesluit.

Dié strande was Maandag steeds gesluit en sal na verwagting binne die volgende paar dae heropen wanneer die waterkwaliteit terug keer na normaal.

Die pompe het vermoedelik gebreek weens ʼn elektriese fout wat deur die gereelde kragonderbrekings veroorsaak is.

Spanne het aanvanklik vragmotors gebruik om die rioolwater op te suig, maar weens die groot volumes daarvan moes dit direk in die see gepomp word sodat spanne so gou moontlik die pompe kan herstel.

“Alle alternatiewe maatreëls om die oorstroming te beheer is oorweeg voordat daar op die storting besluit is,” het die Stad gesê.

“Ons betreur egter die impak wat hierdie storting op die omgewing sal hê en die ongerief wat dit vir inwoners en strandgebruikers veroorsaak.”

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie van die Stad Kaapstad, het Sondag gesê dat een van die gebreekte pompe al tydelik vervang is. Daar word steeds aan die tweede pomp gewerk.

Die departement het ná die storting watermonsters in al die geaffekteerde gebiede geneem om die vlak van die besoedeling te monitor.

“Die strande sal slegs heropen wanneer die watermonsters aandui dat die pH-vlakke weer teruggekeer het na normaal.

Die departement sê hy sal voorts poog om te verseker dat voorkomende instandhoudings geprioritiseer word om voorvalle soos dié te voorkom.

Een van die pompe is reeds vervang. (Foto: Dr. Zahid Badroodien/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Mooi! Hierdie is dan ook die einde van die strande. Dink net aan al die gemors wat
deur die water na die ander strande gaan. Ai ai, hierdie Kommunistiese Afrika land gaan darem nou vinnig ten gronde. Geweldige impak op Toerisme weer.

Anoniem ·

Dis nie ‘n nuwe probleem nie, dit gebeur aanhoudend en gereeld, maar word onder die mat gevee.

VaalDonkie ·

Ek moes Desember amper my huis ontruim oor ‘n gebarste rioolpyp wat gedreig het om in te spoel. Ons huis is laer as die pad, so alles sal hier instroom. Gelukkig het dit darem nie so ver gegaan nie, maar daar was ‘n gat so groot soos ‘n klein kar voor ons hek. En dis nie eens die rioolpyp wat my huis se riool moet wegvoer nie. Dis ander mense se riool.

Debbie ·

Ag so maklik soos dit. Maak nie die pompe gou reg of vervang nie, pomp in die see in. Dis mos baie makliker. Hoeveel vis lewe gaan nou net nie vrek nie. Maar almal raak mal toe shell hul ding wou doen. Waar is al daai mense nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.