Kaapstad al meer snoep met water

Die Stad Kaapstad doen ʼn beroep op inwoners en sakeondernemings om water hierdie feestyd oordeelkundig te gebruik (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad doen ʼn beroep op inwoners en sakeondernemings om water hierdie feestyd oordeelkundig te gebruik sodat die stad sy waterverbruik laer as 950 miljoen liter per dag kan hou.

“Indien die stad meer as hierdie hoeveelheid water verbruik, gevolg deur nog ʼn ondergemiddelde reënvalseisoen volgende winter, sal die stad dalk teen volgende somer waterbeperkings moet instel,” sê Siseko Mbandezi, waarnemende burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie.

Volgens Mbandezi is daar geen onmiddellike rede tot kommer oor watersekerheid in Kaapstad nie aangesien die stad se damvlakke tans op sowat 73% staan.

Op grond van vanjaar se ondergemiddelde reënval het die stad egter besluit om ’n proaktiewe waterbesparingsteiken tot die volgende reënseisoen te stel.

“Ons glo dit is die verantwoordelike stap om nou te doen – ʼn vroeë oproep vir Kaapstad om saam te werk om minder as die teiken van 950 miljoen liter per dag te gebruik om die risiko van beperkings in ʼn later stadium te verminder.

“Om water verstandig te gebruik, help ons ook om die toevoer te handhaaf in gevalle van langdurige of swaar periodes van beurtkrag of wanneer instandhoudingswerk aan grootmaat-infrastruktuur gedoen word. Met tye moet pypleidings en reservoirs gesluit word vir instandhouding en water moet herlei word van ander dele van die watertoevoernetwerk, wat laer waterdruk in sommige gebiede veroorsaak. Oordeelkundige watergebruik help om toevoer vir langer in hierdie gevalle te handhaaf.”

Die pad vorentoe

Die Stad Kaapstad vra dat pyplekasies reggemaak word om water te bespaar (Foto: Verskaf)

Die vereiste vir waterbeperkings van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel word gewoonlik teen die einde van die winterreënvalseisoen (einde Oktober) beoordeel.

“Die stad en ander watergebruikers in die stelsel het onlangs met die nasionale departement van water en sanitasie vergader om die verwagte munisipale en landbouwatergebruik en die implikasies van die ver ondergemiddelde reënval die afgelope winter te bespreek. Die besluit van die departement was dat geen waterbeperkings in hierdie stadium in werking gestel sal word nie. Die departement het egter gevra vir ʼn vrywillige vermindering van 10% van alle waterverbruikers.

• Neem kennis van permanente regulasies oor swembaddens (Foto: Verskaf)

“Die water- en sanitasiespan sal voortgaan om watergebruik en damvlakke baie noukeurig te monitor. Histories is dit hoofsaaklik die buiteluggebruik van water in warm somermaande wat spitswaterverbruik aandryf, veral tuinbesproeiing en die opvul van swembaddens.”

Mbandezi sê verlede somer het die stad ʼn hele paar keer tydens hittegolwe die kerf van meer as ʼn duisend miljoen liter water per dag oorskry. Dié groot hoeveelheid watergebruik is laas voor die droogtekrisis van 2016 tot 2018 gesien.

“Ons sien reeds dat die watergebruik die afgelope paar weke begin toeneem het as gevolg van die warmer weer, wat ver meer as die 900 miljoen liter per dag-kerf styg.”

Die stad vra inwoners om kennis te neem van permanente regulasies oor die was van voertuie (Foto: Verskaf)

Die stad sal ook voortgaan om sy langtermyn Nuwe Water-program in te stel. Dit is daarop gemik om 300 miljoen liter ekstra water per dag teen 2030 aanlyn te bring. Dit sluit diverse bronne in soos ontsouting, waterhergebruik en grondwater via akwifere.

“Deur ons waterbronne te diversifiseer sal die stad se huidige afhanklikheid van damme wat met reën gevoer word as ons hoofbron van water verminder. Die stad beoog om oor die volgende drie boekjare sowat R2,05 miljard in nuwe waterbronne belê, waarvan R1,55 miljard reeds belê is.”

Die stad dra ook R50 miljoen by tot ʼn vennootskap wat deur The Nature Conservancy gekoördineer word wat van uitheemse indringerplante ontslae raak sodat meer water damme in die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel bereik.

Meer as 55 miljard liter water – sowat twee maande se water vir Kaapstad – gaan jaarliks verlore aan indringerplante soos denne-, bloekom- en wattelbome. Kenners het beraam dat indien dit nie gepak word nie, hierdie verlies binne 20 jaar kan verdubbel tot 100 miljard liter water per jaar.

Gedurende hierdie tyd sal die stad se water- en sanitasiedirektoraat ook voortgaan met sy eie pogings om watervermorsing te verminder deur gebarste pype en lekkasies deur middel van sy programme soos lekopsporing, jaarlikse pypvervanging en drukbestuur te voorkom of te verbeter.

Volg dié riglyne om water te spaar:

  • Wees bedag op en herstel lekplekke op jou eiendom.
  • Neem kennis van permanente regulasies oor swembaddens, tuinmaak en die was van voertuie.

Dié regulasies geld deurlopend:

  • Tuinslange wat gebruik word om voertuie, bote en woonwaens te was (wanneer dit toegelaat word) moet toegerus wees met ʼn beheertoestel soos ʼn spuitpunt of outomatiese selfsluittoestel.
  • Die natlei van tuine word slegs voor 09:00 of ná 18:00 toegelaat (om verdampingsverliese op die hitte van die dag te voorkom). Dit geld vir natlei en besproeiing met munisipale drinkwater en word ook aanbeveel vir alternatiewe waterbronne soos boorgat- en putwater.
  • Alle swembaddens moet met ʼn swembadbedekking bedek word om verdamping te voorkom wanneer dit nie gebruik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Laksman ·

dis nie die mense wat meer gebruik nie…….dis meer mense wat gebruik…… stroom in van die ooste.

Parmantige samaritaan ·

Miskien moet ons wag tot hulle almal in wes kaap is, dan trek ons terug oos kaap toe, ha, ha, ha.

Ronél ·

Daar is dit weereens die Kaap wat proaktief optree…………

Aggie ·

Stad Kaapstad is die enigste metro wat goed werk, maar agv toestroming is dit ‘n moeilike taak! Kan ons nie maar asseblief afstig nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.